Tuesday, 29 October 2013

"Honeymoon"

Heinrich en ek was so rukkie terug alleen vir ’n naweek weg.  Dit is die eerste keer in ’n BAIE lang tyd dat ons so iets doen.  Ons het dit nie as ’n 2de honeymoon beskou nie, maar die woord het tog sy verskyning gemaak in ons gedagtes en in gesprekke met ander...

Dit het in elk geval ’n paar ooreenkomste getoon.  Behalwe dat ons alleen weg was, het ons ook ons tradisie voortgesit om so bietjie hals-oor-kop en sonder om goed voorbereid te wees iets te doen.

Laat ek maar liewer die storie by die begin begin.  Heinrich het nie vir my gesê waarheen ons gaan nie.  Dit moet ’n verrassing wees.  En dit was!  ’n Lekker verrassing.  Hy het dit baie goed reggekry om my op ’n dwaalspoor te hou met my nuuskierige vrae en ek het regtig eers geweet waarheen ons gaan toe ons daar aankom!
Hy het vir ons plek bespreek in ’n ou treinwa wat omskep is in ’n oornaghut vir stappers.  “Ons” het beplan om ’n sirkelroete wat deel is van die langer staproete te stap.  Maar ons het nie stapskoene, rugsakke, reënjasse of enige ander staptoerusting nie. En volgens alle aanduidings het ons dit nodig.  En dit reën en reën en reën en dis koud.  Gelukkig is die kompartement waarin ons bly warm en snoesig en die storte het baie lekker warm water!!



Ek kon natuurlik nie help om terug te dink aan ons wittebrood nie...  As studente het ons nie juis veel geld gehad nie, maar ons was so gelukkig om as trougeskenk verblyf op 2 plekke te kry.  Die probleem was dat die 2 plekke redelik ver uitmekaar was en dat die datums nie heeltemaal ooreengekom het nie.  Maar ons was nie afgesit nie.  Ons het besluit om die 2 dae tussenin sommer in ’n tent iewers in die middel van die 2 plekke te slaap.  So gesê, so gedaan!  Of amper.  Ons het nie kamptoerusting gehad nie.  Ons is daar weg met ’n klein, geleende tentjie en slaapsakke.  Dis al. Regtig!!  En toe ons die tent wil opslaan, begin dit reën en die tentpale is gebreek en dis chaos...  Teen die tyd wat ons die tentjie so min of meer staangemaak het, was ons en die tent papnat.  En dit het opgehou reën.  Maar daar was nie ’n manier hoe ons in die tent kon slaap nie.  Toe slaap ons maar op die voorste 2 sitplekke van die Chicco, want die agterste sitplek was vol goed.  Of ons het probeer slaap.  Die volgende oggend 5 uur was ons op en toe die winkels oopmaak was ons daar om n grondseil te koop.  Ons eerste stuk kampgereedskap!  Daardie aand kon ons darem droog slaap.  Dit was nog bietjie ongemaklik, maar darem droog en ons was moeg, so die ongemaklik het nie veel gepla nie.

Terug by ons trein-storie: Ons het ook gedink dat ons ’n rustige tydjie in die natuur kan deurbring.  Maar toe ons die eienaar bel om vir ons die hek oop te sluit, sê hy dat hy vir ons ’n kompartement gemerk het, want daar is ’n “big party”.  Ons was nie seker of hierdie “big party” beteken ’n lawaaierige partytjie of ’n groot groep mense nie.  Dit was toe ’n groot groep effens lawaaierige mense.  Aangesien ons ’n badkamer en ’n kombuis met hulle moes deel, het ons so bietjie soos verlore hoendertjies daar rondgesit.  Daar was van hulle met wie ons lekker kon gesels, maar dit was nie die romantiese aandjie wat ons in gedagte gehad het nie. 
Saterdagoggend reën dit nog steeds.  Die “big party” was gelukkig gesoute stappers en hulle is daar weg met al wat ’n reënjas en sambreel is om hulle te beskerm.   

Een van hulle het ook vir ons die wenk gegee om dalk Dullstroom toe te gaan as ons besluit om nie te gaan stap nie.  En dis toe ook presies wat ons gedoen het.  Dit was ’n goeie besluit.  Ons het dit regtig geniet om daar rond te loop.  Toe het ons mos gestap ook!  Die klok-winkel was vir ons ’n hoogtepunt!




Terug by die wa, het dit opgehou reën en ons het besluit op ’n kort stukkie op die roete te gaan stap.  Ons sal ’n halfuur stap en dan omdraai.  Maar ons wil natuurlik so veel as moonlik sien, so ons stap VINNIG!!  Heeltemaal te vinnig vir my onfiks lyf...  
Hierdie keer het ons die trein gedeel met ’n ander paartjie wat met hulle baie oulik hondjie stap.  Dit was regtig lekker om die aand saam met hulle te braai en te kuier.  Ons het almal ’n rustige stil aandjie in gedagte gehad, so ons was goeie bure.

Sondagoggend rëen dit nog steeds, maar omdat ons nog ’n stukkie van die roete wou sien, besluit ons om weer ’n entjie te gaan stap.  Hierdie keer 45min voor ons omdraai.  In ’n ander rigting.  Dit was pragtig!  Ons het papnat teruggekom (dankbaar dat ons nie die hele roete in die reën gestap het nie), maar dit was die moeite werd.




So ontdek ons toe iets: 
1.       As jy so ver as moontlik op ’n op-en-af paadjie in 45min wil stap – beteken “honeymoon”:  Stap tot jy weer in die “shape” is wat jy was met jou troue... haha... as dit maar so was...
2.       “google translate” het al in die tyd van houttreine bestaan :)

3.       Ons sal weer saam op onbeplande (en beplande) avonture gaan.



Tuesday, 8 October 2013

Huiswerk

As jy ’n 9 jarige seuntjie is, is huiswerk ’n vloekwoord!!!  As jy ’n 8 jarige dogtertjie is, is dit iets lastigs wat jy vinnig moet afhandel voor jy kan aangaan met jou lewe... En as jy ’n ma van hierdie 2 is, kan huiswerk ’n nagmerrie word! 
Nee wat, so erg is dit ook nie!  Huiswerk is eintlik nogal snaaks:

So lees ons Gr2’tjie een middag die storie van aposteltjie en die sewe dwergies.  Die Gr 4’tjie leer van vlooistowwe.  “Vastestowwe kan nie vlooi nie”  Nee, hy het nie ’n dom juffrou nie, hy skryf net baie lelik...  En ons 3jarige doen ook huiswerk:  Sy teken ’n prentjie van ’n mannetjie met luise in sy hare...
Nou, ja, nou weet julle almal wat in ons hare aangaan... (dis darem nou weer skoon :)).

Op ’n ander middag is ek besig om botter van ’n piesang af te was (hy het nog sy skil aangehad), toe ek die volgende gesprek hoor:
Gr 3: Pluto is ’n dwergplaneet.
Gr 1: Die aarde is ’n regte planeet, want hier bly mense.  Selfs China is op hierdie planeet!

Gelukkig is my kinders besig om in boekwurms te ontaard.  Dit is net glad nie lekker as ek dit moet sê nie: “Hou nou op lees en gaan doen julle huiswerk!”  Die waarheid is:  Ek hou ook nie van huiswerk nie!  (moet asb nie dat my kinders dit hoor nie!)


Ek lees nou die dag hierdie aanhaling: “One day bookworms will rule the world!  As soon as they finish the next chapter....”




Tuesday, 2 July 2013

Foto: Kaalvoet oor die drakensberge

Kaalvoet oor die drakensberge

Palm Sunday

(Zambie 17 April 2011)

Dit sou vir ons ’n nuwe belewenis wees.  Ons gaan na die RCZ in Petauke se Nyanja diens toe.  Ons doen dit, want ons gas, Rev. Zeze, van Malawi moet daar preek.  Ons het egter nie rekening gehou met die feit dat dit “palm Sunday” is nie.  Dit het ons eers op pad soontoe besef.  Daar aangekom het ons ook besef dat dit nie ’n Nyanja diens is nie, maar n gesamentlike diens. 
Toe ons daar kom staan almal buite en voor het hulle palmtakke uitgegooi en hulle is besig om wierook daarop uit te strooi!  Ons is ook verbaas, want party van die predikante is soos priesters aangetrek.  Maar toe hoor ons ons gaan vir ’n optog deur die dorp saam met die Anglikane en Rooms Katolieke – dit is toe priester…  Ons kry toe elkeen ’n stukkie van die palmtakke en daar gaan ons.  Party speel dromme, ander sing en ander loop met luidsprekers.  ’n Groot lawaai!  Ons stap maar saam, wat anders kan ons doen?  Ongelukkig het ons nie die kamera saamgebring nie.  Gelukkig het ek wel my chitenge saamgevat en kon toe vir Anel dra.  Nelrie is siekerig en word moeg, toe vat ons maar ’n kortpad terug kerk toe.  (Sy was besig om baie siek te word met malaria - hier is Nelrie se storie)

Hierdie foto is in 2009 tydens Palm Sunday geneem.
 Dit was 'n kleiner  en meer beskaafde optog in 'n  village  kerk
Hierdie foto van Anel in die Chitenge is in Maart 2011 geneem
Na ’n lang tyd kom die ander ook terug.  Gelukkig het hulle die Anglikane en Katolieke langs die pad afgelaai.  Toe is dit tyd vir die erediens, maar dit kan ook nie gewoon gebeur nie, want dit is ook ’n feesdag vir die “Boys Brigade” (dit is hulle wat die dromme gespeel het).  Hulle kom vra en kry amptelik toestemming om met hul diens voort te gaan.  Onder begeleiding van dromme masjeer hulle die kerk in en uit.  Eintlik lyk dit vir my asof hulle dans terwyl hulle masjeer, want hulle het almal so wip in hul stap J.
Na nog ’n lang tyd kry Ds Zeze darem ’n beurt om te preek en die kerk verdaag.  Die moederskamer was vandag in die bakkie, want hy het in die koelte gestaan.  Daar was twee klein seuntjies wat die voertuig goed bekyk en bespreek het. Hulle dink hulle weet nou presies hoe hy werk!  Ek het ook vir ’n rukkie op ’n mat teen die kerkmuur gaan sit.  Daar was nog ander mammas.  Onder andere een met wie ek al voorheen gesels het.  Haar naam, het ek toe uitgevind, is Bertha Phiri en sy sê sy sal my nog nooi na haar huis.  Sy is ’n onderwyseres.

Na die diens dog ek ons kan huis toe gaan, maar toe moet ons eers die Dominee van die RCZ gaan groet by sy huis.  Daar kry ons koekies en koeldrank en sit rond en kon toe uiteindelik huis toe.  8:30 vertrek.  14:30 terug.  Anel het ’n rukkie in die chitenge geslaap, maar toe eers regtig toe ons by die huis kom.  Sjoe!

Thursday, 20 June 2013

Ons groei

En toe begin ons groei...
Dinsdag besluit ek: dis nou dit!  Ek sal al Anel se te klein klere moet uitgooi en vervang.  Haar arms, bene, boude en magie steek uit en dis koud!
So ek gaan deur haar kas en deur die ander 2 se klere en begin opskryf wat ek moet vervang.  In Anel se geval is dit als behalwe ’n paar lang T-hemde en ’n kerkrokkie.  Ouma het dit groter gekoop, want Ouma het al 4 kinders grootgemaak.  Sy weet hoe vinnig en hoe skielik ’n kind kan groei.  Ek is nou wel al by nr 3, maar die eerste 2 het nog nooit moeite gedoen om te groei nie, so ek het nog ’n paar lesse om te leer...

Woensdagoggend is ek winkel toe en vir die eerste keer in my lewe moet ek op een slag ’n sak vol klere koop!  Natuurlik kom daar ook ’n skipant en T-hemp vir die ander 2 in die sak.  Dit voel darem net nie reg om met niks vir hulle by die huis te kom nie.

Kom ons gaan terug na Dinsdagaand. 
Ek (terwyl ek die lysie skryf): Nelrie pas jou tekkies nog?
Nelrie: Ja, mamma, hulle is nog te groot. (en sy trek dit aan om dit te bewys)
Ek: Cobus, pas jou tekkies nog?
Cobus: Ja, ma!
Ek: Pas dit aan asb
Cobus: Glo my net! Dit pas!

Woensdag 16:15 – Ek: Gaan trek julle Voortrekker klere en tekkies aan!
Cobus (5 min later): Mamma!  My tekkies is te klein!!
Nou wat??? Hy moet maar met te klein tekkies gaan, dis net 'n uur.  Maar more moet hy met gewone klere skool toe en hy moet tekkies dra, want dit is koud!
Ek gaan grawe in sy kas en kom agter die enigste skoene in sy kas wat pas is sy skoolskoene...

Plan:  Meet sy voete.  Gaan laai hom by voortrekkers af.  Ry tekkietown toe.  Gelukkig is ons is Pretoria... Verduidelik vir die vroutjie jy soek seuntjie tekkies.  Jy weet nie die nr, maar sy voete is so (wys maatlyn) groot.  Sy dink jy is bietjie van jou kop af, maar sy help wel vriendelik.  Gaan huis toe met nr 2 tekkies.  Hoop dit pas. Gaan laai Pappa by die kerk af. Gaan laai kinders by die skool op. Die tekkies pas, maar dit kon ’n nr 3 gewees het.  (sy vorige skoene was nr 13)  Gelukkig hou hy BAIE van sy nuwe tekkies.

Gevolgtrekking:  Cobus het uiteindelik begin groei.  By sy voete :)  Ek vermoed ek gaan binnekort weer iemand se klerekas moet vervang...


Dit is die “normale” lewe van ’n “normale” gesin :)

Thursday, 23 May 2013

Manne dinge


My man ry al motorfiets vandat hy in die skool is en hy het nog nooit geval nie... 
Toe kry ek nou die dag 'n oproep van hom: “Bel asb die tandarts en se ek gaan nie betyds wees vir die afspraak nie”
Ek: Hoekom? Wat is fout?
Hy: Iemand het agter in my vasgery, maar ek makeer niks.  Kom haal my want ek sal nie verder kan ry nie.
Ek dink dat hy met die kar gery het en bel toe dood rustig die tandarts, maar die oomblik wat ek die foon neersit, sien ek die karsleutel op sy lessenaar...  en besef hy is op die (of af van) die fiets.
Nog 'n oproep: Kom met die bakkie, want ons moet die fiets oplaai.
Buurman bied aan om my met sy bakkie te vat, want dan hoef ons nie die kappie van ons bakkie af te haal nie.
Op pad nog 'n oproep:  Hulle vat my Eugene Marais toe.  Dis onnodig, maar dit is standaard prosedure.
By die ongelukstoneel besef ek dit is nie standaard prosedure nie!  Sy skoen en kous lê tussen die stukke fiets – vol bloed.
Polisieman wat “perongeluk” daar was en die fiets opgepas het, sê hy het ’n groot sny in sy voet en skrape.

Ons mag nie die fiets laai nie – versekering se opdrag - so ons gaan hospitaal toe.
Om 'n lang storie kort te maak. Hy is opgeneem en na baie toetse het hulle besluit niks is gebreek nie.  Toe het hulle sy wonde onder narkose skoongemaak en geheg.  Nou wil hy net huis toe!  Sterk man...

Voor die operasie (reparasie??) bel die versekering: die fiets moet na die handelaar vir 'n kwitasie.
Handelaar: ons het nie ’n bakkie om die fiets te gaan oplaai nie!
So raai wat??
Ek bel ’n vriend om my te help om die kappie van ons bakkie af te haal.  Laai vir Jongste, doeke, eetgoed, water, toue, al die parte wat afgeval het (ek moes daarvoor omdraai...) en daar gaan ek op soek na die plek waarheen die fiets gesleep is.  Ek het gewonder of my tekkies en “tawwe look” die ding gaan doen.  Dalk moes ek 'n kort rokkie en hoëhak skoene aangetrek het om hierdie “mannewêreld” aan te pak (asof ek ’n kort rokkie het...).  Daar aangekom besef ek my tekkies sal die ding doen.  Ek wou my eers vererg oor hierdie mannetjies wat vir my “tannie” sê, maar toe besef ek hierdie seuntjies weet nie hoe om ’n fiets op ’n bakkie te laai nie en hulle weet ook nie hoe werk “strap” toue nie.  Toe gee die “tannie” maar instruksies met ’n kleintjie op die heup :) 

Baie versigtig gaan soek ek toe die handelaar in Menlyn.  Die seuntjies kon nie die klap van die bakkie agter toekry nie en ek het nie hulle touwerk heeltemaal vertrou nie, so my senuwees was bietjie klaar!  By die handelaar aangekom moes ek met ’n BAIE smal gangetjie, waarin daar nog karre geparkeer is ook, tot in die werkswinkel ry.  Hierdie ouens het al baie fietse van bakkies afgelaai en als verloop glad.  Ook maar goed, want Jongste is moeg en honger en wil graag onder die karre waaraan gewerk word rondloer!  En toe moet ek weer by daardie gangetjie agteruit uit....

Die bakkie het heel by die huis gekom. En ek kan nog ’n “manne klusje” agter my naam skryf :) 

Saturday, 11 May 2013

Nsawa

Ietsie uit die "Zambie-argiewe".  Geskryf op 27 Mei 2011.  Die "skool" waarna hier verwys word is natuurlik ons "homeschool"

****~~~~~~****

Groundnuts, pindas, peanuts of grondboontjies. 

’n Rukkie gelede het een van die studente na ons toe gekom met ’n probleem.  Hy het geld nodig – dis nogal ’n algemene probleem…  Ons wil graag help, maar geld gee is gewoonlik nie die beste manier van help nie.  Daarom het ons ooreengekom om ’n sak grondboontjies by hom te koop.

Hierdie week het hy dit toe kom aflewer.  ’n Sak vol.  Nie ’n checkerssak nie – ’n streepsak!  En toe het hy nog ’n probleem.  Hy soek die sak terug, want hy het dit geleen… Ons stop toe maar gou die skool en begin die grondboontjies oorgooi in groot plastieksakke.  Die hele skool het gehelp, maar dit het nog steeds te stadig gegaan.  Toe besluit ons om liewer die hele sak op die stoep om te keer.  En daar het ons toe ’n berg!  Anel is die beste bergklimmer en sy geniet die goedjies wat so kraak onder haar voetjies.

’n Rukkie later het ons als in sakke.  Maar nou moet dit nog gedop word.  Gelukkig het ons vir Sarah en sy gee glad nie om om dit vir ’n ekstra “piecework” te doen nie.  Nou gaan sy elke middag met ’n sak ongedopte grondboontjies op haar kop huis toe en kom elke oggend met ’n kleiner sak gedoptes op haar kop werk toe.  En ek probeer bybly om hulle te bak, want rou grondboontjies is ook nie veel werd nie.

Die mense hier maak self grondboontjiebotter.  Hulle smeer dit nie op brood nie, maar eet dit net so.  Ek dink ek weet wat gaan Sarah se volgende “piecework” wees….



Tuesday, 16 April 2013

Mammas en mondsalf


Daar is sekere dinge wat net ’n ma kan doen.  Dit is alombekend en holruggery.  Die punt is: Mammas is nie normale mense nie.  Hulle kan dinge doen wat gewone mense nie kan doen nie.  Al is dit dan net in jou kind se oë. 

So lig Cobus my nou die dag in:  “Ek hou baie meer van Mamma as van Pappa.”
Ek: “Ek dink nie so nie.  Jy hou baie van Pappa.”
Cobus: “Ja, maar ek het jou baie gemis toe jy nie hier was nie.  As ek vir Pappa vra waar is iets of iets van  sweeties, dan weet hy nie.  Dan sê hy ek moet vir Mamma vra en dan moet ek eers wag tot jy huis toe kom!”

Anel weer het die volgede te sê: “My ogie is seer.  Ek het die papier in hom gestamp.”
Ek: “Moet ek druppeltjies ingooi?”
Anel: “Nee! Mondsalf!”
Ek: “Ek sal ogiesalf insit”
Sy: “Nee! Mondsalf!”
Ek: “Mondsalf gaan jou ogie seermaak.”
Sy: “Die salf in jou mond!”
Ek: “Hier?” (en ek wys na my mond)
Sy: “Ja J” (sy druk haar vinger in my mond en smeer spoeg aan haar ogie.....)
Ek: (baie verbaas) “werk dit?”
Anel: “Ja J

Gelukkig is Nelrie ook in ons huis.  Net om my nederig te hou.  Sy kry seer en Pappa is nie tuis nie.  Sy hou aan met huil dat Pappa moet kom om haar te troos.  Ek: “Maar ek troos jou mos!”  Nelrie: “Ja, maar Pappa troos beter as Mamma!”

Friday, 22 March 2013

Versorging


Ewe skielik moet ek vir Ouma versorg.  En die sorg wat ek nie self kan doen nie, moet ek reël. En alles voel verkeerdom.  SORG word toe nog meer deel van my werkbeskrywing as wat dit nog altyd was.  Sorg vir  Ouma, sorg vir Pappa, sorg vir skoolkinders, sorg vir kleintjie met (amper sonder) mangels.  En o, ja, sorg vir myself???

En daar leer die Here weer vir my iets:  Hy SORG.  Vir Ouma, Pappa, Mamma en kinders (met of sonder mangels).  Hy sorg deur mense wat nog altyd gehelp het.  Hy sorg deur mense wat nog nooit gehelp het nie.  Hy sorg deur mense wat sommer bel en vra: “Hoe gaan dit?  Ons bid saam met julle!”  Hy sorg deur mense wat ver ry om ’n siek ouma te besoek wat hulle nie eers ken nie.  Hy sorg deur verpleegpersoneel wat verstaan dat Ouma beter Tswana praat as Engels.

Hy versorg deur ’n koerantverkoper:  Ek sit kop onderstebo by die verkeerslig.  Die man stap tot by my kar en druk nie die koerant teen die ruit soos mens sal verwag nie.  Hy druk die koerant stewig onder sy arm in en waai vir my.  Toe ek vir hom kyk wys hy sy duim na bo: “Is jy ok?” verstaan ek sy gebaar.  En ek smile en wys my duim: “Ja, ek is ok, ek word versorg”

Hy versorg deur my huishulp wat vir my sê:  “Ek sien jou hart is vol van die seer.  Dis reg so, maar ek wil hê jy moet sterk wees met Ps 91”  Gewoonlik lees ek vir haar Bybel.  Ek het nie, maar sy het op haar manier vir my gelees...

Mense vra my: “Hoe gaan dit?”  en ek weet nie.  Dan loop ek verby ’n klas by Mukhanyo en die studente sing: “It is well, with my soul”  En ek weet: “Dit gaan goed”

Die mense sorg vir ons so goed, dat ek die opmerking maak: “Ek wil my vrieskas ontvries en ek kry die ding nie leeg nie!”  En ek skrik – is dit my grootste klagte????

Ek leer om dankbaar te wees, want ek het gedink ek moet versorg en toe word ek versorg...

Thursday, 10 January 2013

Eksamentyd


Vir my is dit lekker om klas te gee. Om studente te leer. En wanneer ’n mens leer, moet jy ook eksamineer.

So nou (Nov 2012) skryf die studente eksamen.  En ek?  Ek hou toesig.  Die eerste keer wat mens by ’n groepie studente toesig hou , bly dit omtrent vir die eerste 30 min interessant.  Daarna het almal papiere, vraestelle en penne en jy ken al almal se eksamen persoonlikheid.  Gryp hy sy papier en begin skryf? Lees hy dit eers rustig deur? Rangskik hy sy notas (wettige, toegelate notas) 100 keer of val die helfde van die tafel af?

Die tweede keer wat jy toesig hou oor dieselfde groepie van 10, bly dit net vir 10 minute interessant...

Jare terug het ’n onderwyser van my vir ons vertel hoe dit is om toesig te hou in die skoolsaal as 200 kinders matriek skryf.  Hy het als getel, maar na 2 ure - sê hy - weet jy hoeveel kinders daar is. Hoeveel is seuns/meisies. Hoeveel het truie aan. Hoeveel kruis hul voete. Hoeveel vensters is daar en leë banke.  Meisie met lang hare.  Oop versters, miskien selfs hoeveel bakstene daar in die muur is?

Een van sy verhaaltjies speel af tydens die rekord eksamen.  Hy het al alles getel en dis winter. Hulle bibber in Wes-Transvaal (dit was toe nog nie Noordwes nie) en die skoolsaal is beslis nie die plek om warm te word nie.

So hy staan met sy rug teen die muur.  Hande in die broeksakke tussen 2 banke.  En Mnr. is nie klein nie, hy het waarskynlik daardie spasie redelik volgestaan... Die volgende oomblik gly sy voete onder hom uit en aangesien sy hande in sy sakke is, kan hy nie keer nie.  Hy land met ’n klein aardskudding op sy agterstewe en kyk op in die verskrikte oë van ’n matriekmeisie wat oor haar bank vir hom loer

Ek dink die aarsbewing se sekondêre skuddings was in die vorm van giggelende kinders J

Mnr. het gelukkig sonder ’n bloukol daarvan afgekom.

Monday, 7 January 2013

'n Koppie vol


Lukas 6: 38 “Gee, en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.”


Dit was die gedeelte wat vanaand in die twee oudste kinders se dagstukkie-boekie bespreek is. 


Wanneer ons ’n koppie vol afmeet, meet ons gewoonlik 250ml – of so naby as moontlik daaraan.  Jy maak die koppie vol en skraap hom plat aan die bokant.


As jy ’n koppie tee maak, skink jy dit nie heeltemaal so vol nie.  Jy sê die koppie is vol, maar eintlik is daar plek vir nog.  Jy kan net nie nog ingooi nie, want dat mors jy.


Op die mark in Zambië word alles ook in “cups” verkoop.  Almal se koppies is nou nie ewe groot nie, maar wanneer jy vra wat iets kos, word daar na ’n spesifieke koppie gewys en die prys word genoem.  Jy weet dus presies wat jy kry.  Tog werk dit anders as wat ons sou verwag:  die koppie word volgegooi, gestamp en dan word daar nog bo-op gestapel so veel as wat bo-op sal bly.  En dan, as jy ’n paar koppies vol koop, kry jy ook nog bietjie basela. Verniet.

Dit pas vir my so mooi by hierdie vers.  God seën meer as wat jy verwag.  Meer as wat jy dink Hy kan gee.  As jy dink jou koppie is vol, kom daar nog seëninge.  Basela.  Pasella.  Verniet.

Thursday, 3 January 2013

Familie Vakansie


Een keer per jaar pak Ouma, Ouboet, Sus en ek die kleinkinders in die kar en dan gaan hou ons almal saam vakansie.  Deesdae pak party van die kleinkinders hulleself in hulle eie kar, maar die uiteinde is dieselfde:  ’n Groot familie-vakansie!

Ten spyte van die feit dat ons in ouderdom wissel van 2-76 (van speenoud tot stokoud) het ons al geleer om goed met mekaar oor die weg te kom.   Soos in die meeste families hou ons nie altyd so baie van mekaar nie, maar ons bly maar lief vir mekaar.  Ter wille van die vrede sal ons nie daarop uitbrei nie J

So los ons toe een oggend die oumense en die kinders by die huis en gaan sweef tussen die bome rond! Pragtig.  Party van ons se broeke en bene het maar bietjie gebewe, soms so erg dat die platvorm waarop ons staan saambewe (en ek belowe dit was nie alles ek nie!), maar ons het darem almal met glimlaggies tuis gekom!

Ons het ook saam niks gedoen, rond gery, geswem, gestap, gelees, TV gekyk (veral party), rekenaar “gewerk” (weereens veral party), bordspeletjies gespeel, geëet en niks gedoen.

Rondry beteken gewoonlik om na oulike dinge in die omgewing te kyk.  Ons het dit gedoen.  Ons het ook rondgery om geld te kan trek om na die oulike dinge in die omgewing te kan kyk.  Want gedurende die vakansie werk sekere kitsbanke nie.  Hulle hou ook vakansie.  Ander se rekenaar-breine raak moeg en breek. En ander weier net eenvoudig om vir ons geld te gee...

Bordspeletjies raak ook al hoe meer interessant hoe later in die aand dit raak.  So was ons later nie meer seker of ’n gemengde dubbelspel deur mans of vrouens gespeel word nie.  Die dominee het geen idee gehad hoe ver Elisabet swanger was toe Maria haar besoek het nie, terwyl nie een van die vrouens in ons groep ’n probleem gehad het met daardie vraag nie (wys jou net wie na watter detail kyk).  En daar was ’n interessante vraag oor dans...   Goed, daar is nou ’n beperkte gehoor wat hiervoor lag, maar elke familie moet ook sy binnepret hê!

Na ’n lekker vakansie pak ons toe op en gaan nie huis toe nie.  In elk geval nie almal van ons nie, want alle paaie lei mos na Bethlehem.  Die hele konvooi vat toe die pad deur die tolhek:  Ouboet met Ouma voor, ons met ’n oorlog op die agterbank in die middel en Sus met haar span agter.  So ’n kilometer anderkant die tolhek trek Ouboet skielik van die pad af.  Twee jong manne vlieg uit die bakkie dat jy net plakkies sien trek en vertel vir ons wat verward deur die venster loer: “Ons gaan tolgeld betaal!”  ???  Ons vind toe maar by Ouma uit dat Sus-hulle nie tolgeld het nie en hulle kaart werk ook nie.  Oeps.  Gelukkig was redding nie ver nie en Sus en Swaer kon hul redders ’n “lift” gee tot waar Ouboet wag, want vir die 2 voetgangers het die kilometer nogal ver geraak!

Ons ry intussen verder na ’n spesifieke stopplek – in ’n poging om die oorlog tot vrede te dwing.  Die stopplek is soos ons verwag het baie besig.  Maar na ’n ruk bel Ouboet:  “Waar is julle?”  en na nog ’n paar vrae: “Is daar baie karre?”  Ek kon dit glad nie verstaan nie – natuurlik is hier baie karre!  Maar na verdere ondersoek besef ons: KOMMUNIKASIE GAPING!  Ons is by die verkeerde plek met die regte naam!!  Ons gaan kry hulle toe maar op die regte plek, waar daar nie baie karre is nie.  Net lekker koffie en kamele....  Kamele wat hou van gras eet en wat daarvan hou as die kinders hulle voer.  En hulle hou daarvan om dominees wat fotos neem van kinders wat vir kamele gras voer se hare te proe...  Ek dink natuurlik dit was die Kameelkoei wat hom wou soen, maar dit is debateerbaar...  Tot volgende jaar JJ