Sunday, 25 September 2011

In die Moederskamer

Ek het hierdie storie al 20 Maart geskryf en sommige van julle sou dit al in die Vroueblad gelees het.

                                                                          ~***~

Baie predikantsvroue en vroue van teologiese studente weet hoe dit is om elke Sondag in ’n ander moederskamer jou baba te probeer kerkmaniere leer.  En ek het gedink met my derde kind behoort ék al moederskamer-maniere te ken, maar dinge in Zambië se afgeleë, plattelandse kerke werk dinge so bietjie anders…

2 Mammas, 2 babas, 2 kinders (wat nie gelykop tussen die mammas verdeel kan word nie) en 2 sambrele in die bloedige son op ’n grasmat saam met nog 4 ma-lose Zambiese kinders en een vrou.  Dit was vandag ons moederskamer in ’n jong kerk in Petauke.  En O, ja, dit was in die middel van die kerkgebou.  Ek is ook nie so seker of ’n mens dit ’n kerkgebou kan noem nie.  Eerder ’n kerkstruktuur.  Dit bestaan uit bakstene wat in die vorm van gebou gepak is. So knie-hoogte. As jy vir jou ’n stoel wil maak, dan vat jy sommer van die boonste stene en stapel dit opmekaar.  Ons was die besoekers en daarom was ons so bevoorreg om ’n mat te kry.  Die stene was almal nat van gister se reën.  Ons mans het stoele voor in die kerk gekry, want hulle is mos dominees.  En daar is natuurlik nie ’n dak nie, net stokke in die vorm van die dak.  Sodra die droë seisoen aanbreek en die gras word droog, sal hulle ’n dak opsit.  Hulle het darem ook meer planne vir uitbreiding, want rondom die stuktuurtjie is die fondamente vir hulle nuwe kerkgebou.


Heinrich preek en Moses vertaal, sy tweeling Martha en Maria staan langs hom.

Die kinders was natuurlik baie tevrede om op die mat te sit.  Anel wil net graag met die modder speel wat rondom die mat is.  En as ek dit nie toelaat nie, gaan “steel” sy maar haar vriendjie se speelgoed, want dit is mos baie beter as haar eie!  Die ouer twee was miskien tevrede met die mat, maar nie met die son nie.  En omdat ek sukkel om vir Anel en sambreel vas te hou, het ek toe maar die sambreel vir hulle gegee om vas te hou.  Nouja, toe het ons ’n nuwe probleem, want wie se beurt is dit nou om die sambreel vas te hou?  En as Cobus die sambreel vashou, beland Nelrie se voete in die son en as Nelrie die sambreel vashou, hang sy hom aan die vrou se hare op.


Laasweek was die moederskamer ook op ’n grasmat.  Maar toe was dit voor (!) in ’n klaskamer.  Aan die begin van die diens het ek gedink dit is heerlik, want nou is daar plek vir Anel om so bietjie rond te kruip en ek kan lekker met my rug teen die muur sit.  Cobus het by vriende gesit en Nelrie by ons. Maar so by die 3de lied het die prentjie verander, want toe kom die katkisasiekinders in en hulle kom sit al 15 saam met my op die mat.  Nelrie het gou benoud geraak en na Pappa gevlug, maar daar was nie plek vir my en Anel nie. Natuurlik interesseer die wit babatjie die kinders vreeslik, so hulle moes eers almal aan haar voel (wat veroorsaak dat hulle nog nader aan my skuif). Daarna het so een of twee probeer om haar op te tel, maar sy wou nie saamspeel nie.  Die laaste stap was dat hulle met hul vingertjies meet hoe dik ons lekker vet babatjie se armpies is.  Dit verstom almal hier dat sy so “groot” is, terwyl sy in SA net as ’n normale gesonde baba aangesien sal word. Haar speelgoed is ook interessant en hulle blaai deur die plastiekboekie met diereprente asof hulle eksamen daaroor gaan skryf.  Sy hou daarvan om houertjies oop en toe te maak. Ongelukkig het ek hierdie keer een met ’n draaiproppie gevat en dit is nog bo haar vuurmaakplek.  Daarom het ek die doppie losgedraai en sy kan dit dan opsit en afhaal om haar besig te hou.  Maar een van die kinders het besluit die doppie moet vas.  So elke keer as sy die houertjie laat val, draai hy die doppie vas en gee dit vir haar terug.  En dan gil sy, want sy kry die doppie nie af nie! Gelukkig was die outjie wat langs my gesit het baie behulpsaam – hy het elke keer die lied in die boekie opgesoek en al het hy dit eers by die tweede versie opgespoor, het dit nie saak gemaak nie, want hulle sing in elk geval al die versies.  Die res van die moederskamer was agter in die kerk onder een van die tafels.  My vriendin se baba het lekker daar gelê en slaap.  Op ’n chitenge waarmee sy vir hom bed gemaak het.  Toe Anel ook benoud begin raak tussen al die kinders het ons maar agter in die klaskamer gaan staan totdat die dominee klaar gepreek het.  Hy preek baie goed, maar lank en daarom duur die erediens gewoonlik ongeveer twee ure.



Is dit nog die moeite werd om kerk toe te gaan met al die chaos?  Moet ek nie maar eerder rustig by die huis bly sodat Anel in haar eie bed kan rus en kan rondbeweeg soos sy wil nie?  Ek hoor dan in elk geval niks van die preek nie.  En aan die einde van die dag is ek moeg en my arms is seer van die gestoei met die kleingoed.  Maar tog kan ek nie wegbly nie, want dit is wonderlik om saam met mede Christene te kan sing en om met hulle te gesels voor en na die erediens.  Selfs Anel begin al saam “sing” en sy klap handjies en dans soos ’n regte Zambiër.  En ek hoor ook nie regtig niks van die preek nie.  Soms hoor ek net presies die sin wat vir my bedoel was! So volgende week pak ek weer die doeksak en gaan ondersoek ’n nuwe moederskamer.  Hierdie keer dalk onder ’n groot mangoboom.

No comments:

Post a Comment