Hierdie is nie so ’n lekker of snaakse storie soos baie van die ander nie. Ek het ook lank gewonder of ek dit moet neerskryf. Vir lank kon ek nie, want ek het nie kans gesien om “terug te gaan” na die seer nie. Maar toe het ek besluit: wanneer ons saam stap in die middae deel ons vreugde en pyn met mekaar. En: Stories is stories. Hulle moet geskryf en vertel word en daarom moet hierdie een ook geskryf word.
Sondag 17 April, het Nelrie opgestaan met (wat ons gedink het) ’n verkoue. Sy huil, want sy wil nie tafel dek nie, omdat sy te siek is. Aangesien sy altyd verskonings uitdink om nie tafel te dek nie, steur ons ons nie veel daaraan nie. Daarna gaan ons kerk toe. Ons het vergeet dat dit die Sondag “Palm Sunday” is en dat dit hier met ’n optog gevier word. Die kerk waarheen ons was, se optog was saam met ’n paar ander kerke deur die dorp. ’n Lang stap. Halfpad moes ons vir Nelrie optel en het ’n kortpad teruggevat kerk toe. Die res van die diens het sy op Heinrich se skoot geslaap en so ook die meeste van die middag. In die nag het sy koors gekry en Maandagoggend het ons geweet dit is Malaria. Ons het dadelik vir haar medisyne gegee en dit het ook gelyk of sy beter word. Die koors het minder geword en sy het opgehou opgooi, maar sy wou steeds nie eet nie en het meestal geslaap. Teen Woensdag was sy deurmekaar. Sy het nie geweet wie ons is nie en sy het snaakse geluide gemaak en haarself gebyt. Later het ons uitgevind sy het stuiptrekkings gekry. Nie van die koors nie, maar van die malaria. Ons het besef daar is groot fout en Heinrich is net voor 6 die aand met haar Katete toe. Dit is so uur se ry van hier af en daar is ’n redelike goeie hospitaal. Daar het hulle haar getoets en sy het steed baie erg malaria gehad. Ons medisyne het nie gewerk nie. Hulle het toe vir haar ander medisyne gegee. Sy is nie in die hospitaal opgeneem nie, want dit was te vol en hulle het gedink Heinrich kan beter vir haar sorg as hulle. Daarom het Heinrich en Nelrie die aand by vriende van ons in Katete oorgeslaap. Nelrie se ander probleem was dat haar bloedsuiker baie geval het. Van die malaria en ook omdat sy nie geëet het nie. Heinrich het toe begin om vir haar jogurt, water en koeldrank met ’n spuitjie te gee. Donderdagoggend was sy effens beter en hulle het huis toe gekom. Ons het aangehou om vir haar vloeistof met die spuitjie te gee, maar sy was steeds baie deurmekaar. Ek moes ook vir haar ’n doek aansit. Ek dink nie ek kan ooit beskryf wat in daardie tyd deur my gedagtes is nie. Ek wil nooit weer een van my kinders in so ’n toestand sien nie. Vrydagmiddag het sy vir ’n rukkie opgestaan en Saterdagoggend het sy skielik vir Cobus gesoek. Sy het uitgegaan en vir omtrent 5 minute met Anel in die sandput gespeel en toe was sy uitgeput. Teen Sondag (’n week later) het sy weer normaal opgetree, geëet en steeds baie geslaap. Maar sy het 3kg verloor en weeg toe maar 14kg. (Anel het op daardie stadium 11kg geweeg).
Dit is nou amper 4 maande later en daar is geen teken van die siekte oor nie. Ons is so ongelooflik dankbaar dat ons meisiekind vir ons gespaar is! Sy weeg nou weer 18kg en het vreeslik baie energie!
Vandag is sy 6 jaar oud en sy kan trots sê dat sy (saam met haar maatjies) self haar koek gebak en versier het.
No comments:
Post a Comment