Mense sê vir ons: “Julle het baie moed om daar in die bos te bly” of “Ons dink julle is baie dapper.” Ons kan ’n lang gesprek hieroor voer, want ons dink meestal nie so nie, maar dit is waar dat eenvoudige dingetjies hier moeiliker gedoen word as op ander plekke. Byvoorbeeld inkopies en wasgoed was, soos julle al gelees het.
Ons lewe is egter nie vergelykbaar met die lewe van die mense wat hier in die dorpies bly nie. Een manier om dit duidelik te maak is om ’n paar stories neer te skryf oor die geboorte van babatjies.
Een van ons vele werkies hier rond is om ambulans te speel. En baie keer moet ons ’n vrou in kraam by die kliniek of hospitaal gaan aflaai. Martha het ook daarop gereken dat sy vervoer sal kry, maar ongelukkig het sy toe in kraam gegaan toe daar nie iemand by die sendingstasie was nie. Haar man het haar toe agter op sy fiets gelaai en die 9km (kortpad) dorp toe aangepak. Dit het hulle 3 ure geneem, want hulle moes kort-kort stop om haar eers weer gemaklik te kry. Hulle het laat in die nag by die hospitaal aangekom en hul baba is nie lank daarna gebore nie. 6 uur die volgende oggend laai Pappa toe weer vir Mamma en Baba agter op die fiets en kom huis toe.
Daines het daarin geslaag om haar swangerskap vir baie mense weg te steek tot die dag dat die baba gebore word. Marjanne het groot geskrik toe sy hoor Daines is siek en moet hospitaal toe. Gelukkig was sy darem nie so dodelik siek soos hulle dit laat klink het nie, maar dis waar: dit is ’n saak van lewe en dood. Marjanne is toe beloon met ’n naamgenoot: Mariyanna.
Nog ’n Daines het ook kom hulp soek, maar weereens was daar nie ’n voertuig beskikbaar nie. Of daar was, maar een van haar helpers het net vir Heinrich gevra of hy Boma (dorp) toe gaan en nie gesê waarom nie. Toe sê hy nee en sy loop weer. Daines en twee vroue wat haar moet help, het uit hul dorpie hierheen geloop. Seker so 2km. Toe hulle hoor daar is nie vervoer nie, sê sy dat sy nie weer kan terugloop nie. Hulle kry toe skuilplek in Martha se kombuis. Daar is die dag baie gebid in daardie kombuisie, want 2uur die middag is die babatjie, voete eerste, na ’n lang gesukkel, gesond gebore. En wat doen die mamma? Sy rus ’n bietjie en gaan huis toe, natuurlik.
Christine het wel vervoer gekry na die kliniek. In die nag. Haar baba is gebore en kom sy agter op ’n fiets hier aan. Met ’n groot glimlag. Sy kom die baba vir ons wys. Sy lyk so gelukkig asof sy pas van ’n spa terugkom en nie van ’n geboorte nie!
Immanuel is in sy ouers se hut gebore. Heinrich was nie betyds nie. Hy was darem betyds om die pa te ondersteun deur die laaste paar minute se wag.
Grace is op die pad tussen ons en ’n dorpie gebore. Ons kon nie nader ry met die voertuig nie en moes op ’n punt vir hulle wag. Wag, wag, en toe die boodskap: Gaan maar huis toe, die baba is klaar gebore, ons gaan ook nou weer huis toe.
So: Nee, ek kan nie by hulle kers vashou nie. Ek sal eerder kaalvoet oor die Drakensberge trek… Spreekwoordelik!
Die lekker is om na die tyd na die baba te gaan kyk. Altyd met ’n geskenkie, want jy kan nie die baba sien sonder ’n geskenkie nie. Alhoewel hulle nie baie streng met die reël is nie, want ek het dit eers agtergekom toe Anel gebore is. En soms moet jy selfs vir die baba ’n naam gee J
Tabita: Sy is vandag 1jaar oud |
Kyk die baba! |
No comments:
Post a Comment