Vir my is dit lekker om klas te
gee. Om studente te leer. En wanneer ’n mens leer, moet jy ook eksamineer.
So nou (Nov 2012) skryf die
studente eksamen. En ek? Ek hou toesig. Die eerste keer wat mens by ’n groepie studente
toesig hou , bly dit omtrent vir die eerste 30 min interessant. Daarna het almal papiere, vraestelle en penne
en jy ken al almal se eksamen persoonlikheid.
Gryp hy sy papier en begin skryf? Lees hy dit eers rustig deur? Rangskik
hy sy notas (wettige, toegelate notas) 100 keer of val die helfde van die tafel
af?
Die tweede keer wat jy toesig hou
oor dieselfde groepie van 10, bly dit net vir 10 minute interessant...
Jare terug het ’n onderwyser van
my vir ons vertel hoe dit is om toesig te hou in die skoolsaal as 200 kinders
matriek skryf. Hy het als getel, maar na
2 ure - sê
hy - weet jy hoeveel kinders daar is. Hoeveel is seuns/meisies. Hoeveel het
truie aan. Hoeveel kruis hul voete. Hoeveel vensters is daar en leë
banke. Meisie met lang hare. Oop versters, miskien selfs hoeveel bakstene
daar in die muur is?
Een van sy verhaaltjies speel af
tydens die rekord eksamen. Hy het al alles
getel en dis winter. Hulle bibber in Wes-Transvaal (dit was toe nog nie
Noordwes nie) en die skoolsaal is beslis nie die plek om warm te word nie.
So hy staan met sy rug teen die
muur. Hande in die broeksakke tussen 2
banke. En Mnr. is nie klein nie, hy het waarskynlik
daardie spasie redelik volgestaan... Die volgende oomblik gly sy voete onder
hom uit en aangesien sy hande in sy sakke is, kan hy nie keer nie. Hy land met ’n klein aardskudding op sy
agterstewe en kyk op in die verskrikte oë van ’n matriekmeisie wat oor haar
bank vir hom loer
Ek dink die aarsbewing se sekondêre
skuddings was in die vorm van giggelende kinders J
Mnr. het gelukkig sonder ’n
bloukol daarvan afgekom.
No comments:
Post a Comment