(Zambie 17 April
2011 )
Dit sou vir
ons ’n nuwe belewenis wees. Ons gaan na
die RCZ in Petauke se Nyanja diens toe.
Ons doen dit, want ons gas, Rev. Zeze, van Malawi moet daar preek. Ons het egter nie rekening gehou met die feit
dat dit “palm Sunday” is nie. Dit het
ons eers op pad soontoe besef. Daar
aangekom het ons ook besef dat dit nie ’n Nyanja diens is nie, maar n
gesamentlike diens.
Toe ons daar
kom staan almal buite en voor het hulle palmtakke uitgegooi en hulle is besig
om wierook daarop uit te strooi! Ons is
ook verbaas, want party van die predikante is soos priesters aangetrek. Maar toe hoor ons ons gaan vir ’n optog deur
die dorp saam met die Anglikane en Rooms Katolieke – dit is toe priester… Ons kry toe elkeen ’n stukkie van die
palmtakke en daar gaan ons. Party speel
dromme, ander sing en ander loop met luidsprekers. ’n Groot lawaai! Ons stap maar saam, wat anders kan ons
doen? Ongelukkig het ons nie die kamera
saamgebring nie. Gelukkig het ek wel my
chitenge saamgevat en kon toe vir Anel dra.
Nelrie is siekerig en word moeg, toe vat ons maar ’n kortpad terug kerk
toe. (Sy was besig om baie siek te word
met malaria - hier is Nelrie se storie)
Hierdie foto is in 2009 tydens Palm Sunday geneem. Dit was 'n kleiner en meer beskaafde optog in 'n village kerk |
Hierdie foto van Anel in die Chitenge is in Maart 2011 geneem |
Na ’n lang tyd
kom die ander ook terug. Gelukkig het
hulle die Anglikane en Katolieke langs die pad afgelaai. Toe is dit tyd vir die erediens, maar dit kan
ook nie gewoon gebeur nie, want dit is ook ’n feesdag vir die “Boys Brigade”
(dit is hulle wat die dromme gespeel het).
Hulle kom vra en kry amptelik toestemming om met hul diens voort te
gaan. Onder begeleiding van dromme
masjeer hulle die kerk in en uit.
Eintlik lyk dit vir my asof hulle dans terwyl hulle masjeer, want hulle
het almal so wip in hul stap J.
Na nog ’n lang
tyd kry Ds Zeze darem ’n beurt om te preek en die kerk verdaag. Die moederskamer was vandag in die bakkie,
want hy het in die koelte gestaan. Daar
was twee klein seuntjies wat die voertuig goed bekyk en bespreek het. Hulle
dink hulle weet nou presies hoe hy werk!
Ek het ook vir ’n rukkie op ’n mat teen die kerkmuur gaan sit. Daar was nog ander mammas. Onder andere een met wie ek al voorheen
gesels het. Haar naam, het ek toe
uitgevind, is Bertha Phiri en sy sê sy sal my nog nooi na haar huis. Sy is ’n onderwyseres.
Na die diens
dog ek ons kan
huis toe gaan, maar toe moet ons eers die Dominee van die RCZ gaan groet by sy
huis. Daar kry ons koekies en koeldrank
en sit rond en kon toe uiteindelik huis toe.
8:30 vertrek. 14:30
terug. Anel het ’n rukkie in die
chitenge geslaap, maar toe eers regtig toe ons by die huis kom. Sjoe!
No comments:
Post a Comment