Heinrich en ek was so rukkie terug alleen vir ’n naweek
weg. Dit is die eerste keer in ’n BAIE
lang tyd dat ons so iets doen. Ons het
dit nie as ’n 2de honeymoon beskou nie, maar die woord het tog sy verskyning
gemaak in ons gedagtes en in gesprekke met ander...
Dit het in elk geval ’n paar ooreenkomste getoon. Behalwe dat ons alleen weg was, het ons ook
ons tradisie voortgesit om so bietjie hals-oor-kop en sonder om goed voorbereid
te wees iets te doen.
Laat ek maar liewer die storie by die begin begin. Heinrich het nie vir my gesê
waarheen ons gaan nie. Dit moet ’n
verrassing wees. En dit was! ’n Lekker verrassing. Hy het dit baie goed reggekry om my op ’n
dwaalspoor te hou met my nuuskierige vrae en ek het regtig eers geweet waarheen
ons gaan toe ons daar aankom!
Hy het vir ons plek bespreek in ’n ou treinwa wat omskep is
in ’n oornaghut vir stappers. “Ons” het
beplan om ’n sirkelroete wat deel is van die langer staproete te stap. Maar ons het nie stapskoene, rugsakke, reënjasse
of enige ander staptoerusting nie. En volgens alle aanduidings het ons dit
nodig. En dit reën en reën en reën en dis koud. Gelukkig is die kompartement waarin ons bly
warm en snoesig en die storte het baie lekker warm water!!
Ek kon natuurlik nie help om terug te dink aan ons
wittebrood nie... As studente het ons
nie juis veel geld gehad nie, maar ons was so gelukkig om as trougeskenk
verblyf op 2 plekke te kry. Die probleem
was dat die 2 plekke redelik ver uitmekaar was en dat die datums nie heeltemaal
ooreengekom het nie. Maar ons was nie
afgesit nie. Ons het besluit om die 2
dae tussenin sommer in ’n tent iewers in die middel van die 2 plekke te
slaap. So gesê, so gedaan! Of amper.
Ons het nie kamptoerusting gehad nie.
Ons is daar weg met ’n klein, geleende tentjie en slaapsakke. Dis al. Regtig!! En toe ons die tent wil opslaan, begin dit reën
en die tentpale is gebreek en dis chaos...
Teen die tyd wat ons die tentjie so min of meer staangemaak het, was ons
en die tent papnat. En dit het opgehou
reën. Maar daar was nie ’n manier hoe ons in die
tent kon slaap nie. Toe slaap ons maar
op die voorste 2 sitplekke van die Chicco, want die agterste sitplek was vol
goed. Of ons het probeer slaap. Die volgende oggend 5 uur was ons op en toe
die winkels oopmaak was ons daar om n grondseil te koop. Ons eerste stuk kampgereedskap! Daardie aand kon ons darem droog slaap. Dit was nog bietjie ongemaklik, maar darem
droog en ons was moeg, so die ongemaklik het nie veel gepla nie.
Terug by ons trein-storie: Ons het ook gedink dat ons ’n
rustige tydjie in die natuur kan deurbring.
Maar toe ons die eienaar bel om vir ons die hek oop te sluit, sê
hy dat hy vir ons ’n kompartement gemerk het, want daar is ’n “big party”. Ons was nie seker of hierdie “big party”
beteken ’n lawaaierige partytjie of ’n groot groep mense nie. Dit was toe ’n groot groep effens lawaaierige
mense. Aangesien ons ’n badkamer en ’n
kombuis met hulle moes deel, het ons so bietjie soos verlore hoendertjies daar
rondgesit. Daar was van hulle met wie
ons lekker kon gesels, maar dit was nie die romantiese aandjie wat ons in
gedagte gehad het nie.
Saterdagoggend reën dit nog steeds. Die “big party” was gelukkig gesoute stappers
en hulle is daar weg met al wat ’n reënjas en sambreel is om hulle te
beskerm.
Een van hulle het ook vir ons
die wenk gegee om dalk Dullstroom toe te gaan as ons besluit om nie te gaan stap
nie. En dis toe ook presies wat ons
gedoen het. Dit was ’n goeie
besluit. Ons het dit regtig geniet om daar
rond te loop. Toe het ons mos gestap
ook! Die klok-winkel was vir ons ’n
hoogtepunt!
Terug by die wa, het dit opgehou reën en ons het besluit op ’n
kort stukkie op die roete te gaan stap.
Ons sal ’n halfuur stap en dan omdraai.
Maar ons wil natuurlik so veel as moonlik sien, so ons stap
VINNIG!! Heeltemaal te vinnig vir my
onfiks lyf...
Hierdie keer het ons die trein gedeel met ’n ander paartjie
wat met hulle baie oulik hondjie stap.
Dit was regtig lekker om die aand saam met hulle te braai en te kuier. Ons het almal ’n rustige stil aandjie in
gedagte gehad, so ons was goeie bure.
Sondagoggend rëen dit nog steeds, maar omdat ons nog
’n stukkie van die roete wou sien, besluit ons om weer ’n entjie te gaan
stap. Hierdie keer 45min voor ons
omdraai. In ’n ander rigting. Dit was pragtig! Ons het papnat teruggekom (dankbaar dat ons
nie die hele roete in die reën gestap het nie), maar dit was die
moeite werd.
So ontdek ons toe iets:
1.
As jy so ver as moontlik op ’n op-en-af paadjie
in 45min wil stap – beteken “honeymoon”:
Stap tot jy weer in die “shape” is wat jy was met jou troue... haha...
as dit maar so was...
2.
“google translate” het al in die tyd van
houttreine bestaan :)
3.
Ons sal weer saam op onbeplande (en beplande)
avonture gaan.
No comments:
Post a Comment