En toe begin ons groei...
Dinsdag besluit ek: dis nou dit! Ek sal al Anel se te klein klere moet uitgooi
en vervang. Haar arms, bene, boude en
magie steek uit en dis koud!
So ek gaan deur haar kas en deur die ander 2 se klere en
begin opskryf wat ek moet vervang. In
Anel se geval is dit als behalwe ’n paar lang T-hemde en ’n kerkrokkie. Ouma het dit groter gekoop, want Ouma het al
4 kinders grootgemaak. Sy weet hoe
vinnig en hoe skielik ’n kind kan groei.
Ek is nou wel al by nr 3, maar die eerste 2 het nog nooit moeite gedoen
om te groei nie, so ek het nog ’n paar lesse om te leer...
Woensdagoggend is ek winkel toe en vir die eerste keer in my
lewe moet ek op een slag ’n sak vol klere koop!
Natuurlik kom daar ook ’n skipant en T-hemp vir die ander 2 in die
sak. Dit voel darem net nie reg om met
niks vir hulle by die huis te kom nie.
Kom ons gaan terug na Dinsdagaand.
Ek (terwyl ek die lysie skryf): Nelrie pas jou tekkies
nog?
Nelrie: Ja, mamma, hulle is nog te groot. (en sy trek dit
aan om dit te bewys)
Ek: Cobus, pas jou tekkies nog?
Cobus: Ja, ma!
Ek: Pas dit aan asb
Cobus: Glo my net! Dit pas!
Woensdag 16:15 – Ek: Gaan trek julle Voortrekker klere en
tekkies aan!
Cobus (5 min later): Mamma! My tekkies is te klein!!
Nou wat??? Hy moet maar met te klein tekkies gaan, dis
net 'n uur. Maar more moet hy met gewone
klere skool toe en hy moet tekkies dra, want dit is koud!
Ek gaan grawe in sy kas en kom agter die enigste skoene
in sy kas wat pas is sy skoolskoene...
Plan: Meet sy
voete. Gaan laai hom by voortrekkers
af. Ry tekkietown toe. Gelukkig is ons is Pretoria... Verduidelik
vir die vroutjie jy soek seuntjie tekkies.
Jy weet nie die nr, maar sy voete is so (wys maatlyn) groot. Sy dink jy is bietjie van jou kop af, maar sy
help wel vriendelik. Gaan huis toe met
nr 2 tekkies. Hoop dit pas. Gaan laai
Pappa by die kerk af. Gaan laai kinders by die skool op. Die tekkies pas, maar
dit kon ’n nr 3 gewees het. (sy vorige
skoene was nr 13) Gelukkig hou hy BAIE
van sy nuwe tekkies.
Gevolgtrekking:
Cobus het uiteindelik begin groei.
By sy voete :) Ek vermoed ek gaan binnekort weer iemand se
klerekas moet vervang...
Dit is die “normale” lewe van ’n “normale” gesin :)
No comments:
Post a Comment