Wednesday, 28 December 2011

Die nuwe Bos

Ons het altyd in die bos gebly.  Nou bly ons in ’n nuwe soort “bos”.  ’n Baksteen en sement bos.  Een met teerpaaie, veiligheidheinings en alarms.  Hier is darem bome ook!  Hier hoor ons nie meer “oxcarts”, beeste en fietse wat by ons huis verbyry nie, maar motorfietse wat jaag en baie, baie karre.

Hier leer ons hoe om inkopies te doen met drie kinders op sleeptou.  Jy laai een waentjie vol kinders en die ander een vol inkopies.  Dit is nou as manlief kan saamgaan, anders word dit baie meer ingewikkeld J.  Dit is seker nie so vreemd om so inkopies te doen nie.  Die probleem is net dat hier soveel dinge in die winkels is wat ons lanklaas gesien het.  Ek weet soms regtig nie waar om te begin met my inkopies nie, selfs al het ek ’n lysie.  En die kinders wil alles bekyk en oor alles kommentaar lewer.  Hulle kan dus nie selfs rondloop nie, want dan raak hulle weg.

Ons het ook geleer dat ’n mens hier moet kan bewys waar jy bly.  Dit klink dalk eenvoudig, maar as ’n mens in die kerk se huis bly, moet ’n mens maar geduld hê.  Want dan is jy anders en as jy nie so lekker in die sisteem inpas nie, kan dit vir jou selfs moeilik wees om ’n DVD uit te neem...
Die kinders moet ook leer om sagter te praat.  Hier is die bure naby.  Baie naby.  So naby dat ons kan hoor as buurvrou haar kinders roep om te kom eet.  Nou die dag wou ek ’n bietjie rus en toe skree die kinders my wakker.  Toe ek opspring om met hulle te raas, kom ek agter hulle is doodstil.  Dit was die bure se kinders.

Gelukkig is hier ook voëltjies in die bome.  En hulle maak ook ’n lawaai, veral in die oggend.  So, as die bure se kat nie die alarm in die tuin laat afgaan nie, kan ek in die oggend in my bed lê, my oë toeknyp en my verbeel dat ek in die bos is...

Thursday, 10 November 2011

Verrassings

Verrassings is interessante goed.  Verrassende goed. Snaakse goed.  Dit kan aangenaam of onaangenaam wees.  Dit kan groot of klein wees.  Of dit kan ’n kombinasie van bogenoemde wees.

’n Groot, onaangename verrassing is wanneer jy agterkom iets aan jou voertuig is gebreek.  En jy vind dit uit die dag voor jy op vakansie gaan.  Vir ons het dit beteken om inderhaas die laaste bagasie te pak en onmiddelik Lusaka toe te ry.  Dit kon nie in Petauke herstel word nie en Heinrich het ook nie die regte gereedskap om dit self te doen nie.  Gelukkig is dit gevolg deur ’n goeie verrassing:  Na ’n paar foon oproepe het iemand vir ons die parte gaan koop en die volgende dag het iemand anders vinnig gehelp (teen betaling natuurlik) om dit reg te maak en ons kon lekker gaan vakansie hou!


Op vakansie was dit ’n groot verrassing om uit te vind Shoebill Island is regtig ’n eiland… Jy kan NIE met jou voertuig daar kom NIE!  Hoe nou?  Ons druk so gou as moontlik alles wat ons dink ons gaan nodig kry in tasse en sakke en dit word in ’n banana boat gelaai.  Twee piesangbootjies, om presies te wees.  Vir 6 volwassenes, 4 kinders (waarvan 2 baba’s), met kamptoerusting.  Dit was nie aangenaam nie, maar dit was HEERLIK op die eiland.  Beslis ’n verrassing wat die moeite werd was.  En ons het die Skoenbek ooievaar gesien! 




Klein verrassings is dinge soos meelspore op die vloer nadat iemand skelm koekies gebak het.  Of ’n klein pakkies lekkertjies in die kas met ’n briefie wat sê: “Vir Mamma van Cobus”.



’n Groot verrassing is om ’n beroep te kry… of selfs twee…

Sunday, 25 September 2011

In die Moederskamer

Ek het hierdie storie al 20 Maart geskryf en sommige van julle sou dit al in die Vroueblad gelees het.

                                                                          ~***~

Baie predikantsvroue en vroue van teologiese studente weet hoe dit is om elke Sondag in ’n ander moederskamer jou baba te probeer kerkmaniere leer.  En ek het gedink met my derde kind behoort ék al moederskamer-maniere te ken, maar dinge in Zambië se afgeleë, plattelandse kerke werk dinge so bietjie anders…

2 Mammas, 2 babas, 2 kinders (wat nie gelykop tussen die mammas verdeel kan word nie) en 2 sambrele in die bloedige son op ’n grasmat saam met nog 4 ma-lose Zambiese kinders en een vrou.  Dit was vandag ons moederskamer in ’n jong kerk in Petauke.  En O, ja, dit was in die middel van die kerkgebou.  Ek is ook nie so seker of ’n mens dit ’n kerkgebou kan noem nie.  Eerder ’n kerkstruktuur.  Dit bestaan uit bakstene wat in die vorm van gebou gepak is. So knie-hoogte. As jy vir jou ’n stoel wil maak, dan vat jy sommer van die boonste stene en stapel dit opmekaar.  Ons was die besoekers en daarom was ons so bevoorreg om ’n mat te kry.  Die stene was almal nat van gister se reën.  Ons mans het stoele voor in die kerk gekry, want hulle is mos dominees.  En daar is natuurlik nie ’n dak nie, net stokke in die vorm van die dak.  Sodra die droë seisoen aanbreek en die gras word droog, sal hulle ’n dak opsit.  Hulle het darem ook meer planne vir uitbreiding, want rondom die stuktuurtjie is die fondamente vir hulle nuwe kerkgebou.


Heinrich preek en Moses vertaal, sy tweeling Martha en Maria staan langs hom.

Die kinders was natuurlik baie tevrede om op die mat te sit.  Anel wil net graag met die modder speel wat rondom die mat is.  En as ek dit nie toelaat nie, gaan “steel” sy maar haar vriendjie se speelgoed, want dit is mos baie beter as haar eie!  Die ouer twee was miskien tevrede met die mat, maar nie met die son nie.  En omdat ek sukkel om vir Anel en sambreel vas te hou, het ek toe maar die sambreel vir hulle gegee om vas te hou.  Nouja, toe het ons ’n nuwe probleem, want wie se beurt is dit nou om die sambreel vas te hou?  En as Cobus die sambreel vashou, beland Nelrie se voete in die son en as Nelrie die sambreel vashou, hang sy hom aan die vrou se hare op.


Laasweek was die moederskamer ook op ’n grasmat.  Maar toe was dit voor (!) in ’n klaskamer.  Aan die begin van die diens het ek gedink dit is heerlik, want nou is daar plek vir Anel om so bietjie rond te kruip en ek kan lekker met my rug teen die muur sit.  Cobus het by vriende gesit en Nelrie by ons. Maar so by die 3de lied het die prentjie verander, want toe kom die katkisasiekinders in en hulle kom sit al 15 saam met my op die mat.  Nelrie het gou benoud geraak en na Pappa gevlug, maar daar was nie plek vir my en Anel nie. Natuurlik interesseer die wit babatjie die kinders vreeslik, so hulle moes eers almal aan haar voel (wat veroorsaak dat hulle nog nader aan my skuif). Daarna het so een of twee probeer om haar op te tel, maar sy wou nie saamspeel nie.  Die laaste stap was dat hulle met hul vingertjies meet hoe dik ons lekker vet babatjie se armpies is.  Dit verstom almal hier dat sy so “groot” is, terwyl sy in SA net as ’n normale gesonde baba aangesien sal word. Haar speelgoed is ook interessant en hulle blaai deur die plastiekboekie met diereprente asof hulle eksamen daaroor gaan skryf.  Sy hou daarvan om houertjies oop en toe te maak. Ongelukkig het ek hierdie keer een met ’n draaiproppie gevat en dit is nog bo haar vuurmaakplek.  Daarom het ek die doppie losgedraai en sy kan dit dan opsit en afhaal om haar besig te hou.  Maar een van die kinders het besluit die doppie moet vas.  So elke keer as sy die houertjie laat val, draai hy die doppie vas en gee dit vir haar terug.  En dan gil sy, want sy kry die doppie nie af nie! Gelukkig was die outjie wat langs my gesit het baie behulpsaam – hy het elke keer die lied in die boekie opgesoek en al het hy dit eers by die tweede versie opgespoor, het dit nie saak gemaak nie, want hulle sing in elk geval al die versies.  Die res van die moederskamer was agter in die kerk onder een van die tafels.  My vriendin se baba het lekker daar gelê en slaap.  Op ’n chitenge waarmee sy vir hom bed gemaak het.  Toe Anel ook benoud begin raak tussen al die kinders het ons maar agter in die klaskamer gaan staan totdat die dominee klaar gepreek het.  Hy preek baie goed, maar lank en daarom duur die erediens gewoonlik ongeveer twee ure.



Is dit nog die moeite werd om kerk toe te gaan met al die chaos?  Moet ek nie maar eerder rustig by die huis bly sodat Anel in haar eie bed kan rus en kan rondbeweeg soos sy wil nie?  Ek hoor dan in elk geval niks van die preek nie.  En aan die einde van die dag is ek moeg en my arms is seer van die gestoei met die kleingoed.  Maar tog kan ek nie wegbly nie, want dit is wonderlik om saam met mede Christene te kan sing en om met hulle te gesels voor en na die erediens.  Selfs Anel begin al saam “sing” en sy klap handjies en dans soos ’n regte Zambiër.  En ek hoor ook nie regtig niks van die preek nie.  Soms hoor ek net presies die sin wat vir my bedoel was! So volgende week pak ek weer die doeksak en gaan ondersoek ’n nuwe moederskamer.  Hierdie keer dalk onder ’n groot mangoboom.

Tuesday, 20 September 2011

Chitenge

’n Chitenge is ’n lap.  Sommer net ’n gewone lap.  Ongeveer ’n meter breed en 180cm lank.  En glad nie duur nie.  Dit kos minder as R20.  Hulle is nie almal dieselfde nie.  Almal se kwaliteit is ook nie ewe goed nie.  En hulle verskil baie in patroon en kleur.  ’n Klomp chitenge bymekaar is ’n regte bondspul.  Vrolik!

 

Maar wanneer jy ’n chitenge begin gebruik, kom jy agter dat dit nie sommer ’n gewone lap is nie.  Dié lap is veeldoelig.

Dit kan ’n rok wees as jy hom om jou lyf draai. “One size fits all”.  Dit is nogal ’n goeie swangerskaprok.  Jy kan dit om jou hele lyf draai as jy langs die swembad is.  Dit is ook ’n drasak waarin jy jou baba op jou rug vasmaak.  Jy kan natuurlik ook jou inkopies, mielies of enigiets anders daarmee op jou rug vasmaak.




As jy dit vir ’n rok dra, gebruik sommer die onderste punt om jou kleuter se neus af te vee en die boonste punt om jou geld in vas te knoop.  Dit is tog meer kuis as om jou geld of selfoon in die “Afrika-beursie” te bêre.

Dit kan ook ’n lap wees om op te sit in plaas van ’n grasmat, ’n baadjie teen die koue, ’n babakombersie, hondekombers, tafeldoek, skroplap, toiletpapier en ’n babadoek.  Wanneer jy ’n klomp goed daarmee saambind en dan op jou kop laai, is dit ’n tas.

In sy verwerkte vorm word ’n chitenge ’n “suit”.  Dit is ’n romp en bloes uit dieselfde materiaal.  Ook gordyne, ’n wasgoedsak, handsak, ’n rokkie vir sussie, ’n hemp vir pappa of ’n kopdoek (chitambala).





Die “Indian shops” kry gewoonlik groot rolle materiaal en sny dit dan op in chitenge-grootte.  Dit is dus glad nie vreemd om ander vroue te sien wat dieselfde rok as jy aan het nie.  Jy kry ook gereeld die gevoel van: “Daar loop my gordyn!” of “Sy het my hond se kombers aan!”

By een van ons vroue konferensies was die geskenk ’n chitenge en chitambala.  Almal in dieselfde kleur, maar drie patrone – blomme, blokkies en kolle.  Dit is dus beslis ’n uniform wat ons gereeld weer sien.


Gelukkig is die vroue en kleremakers baie kreatief, so selfs al dra almal dieselfde materiaal, lyk die rokke totaal verskillend.


Sunday, 18 September 2011

Soek en jy sal vind

As ’n mens kinders het, kry soek ’n nuwe betekenis.  En dit help nie meer om te sê “gaan kyk op sy plek” of “waar het jy hom laas gebruik?” nie.  Hoekom?  Want dit kry voete.  Klein, sagte, lomp, baba voetjies of growwwe, vuil, seuntjie voete.

So het ons al ure (dae? Maande?) se tyd gebruik om dinge wat weg is nie te kry nie.  En wanneer ons dit kry (natuurlik wanneer jy dit nie soek nie), is dit op die vreemdste plekke!

Hopklei in die muskietnet – gelukkig was dit nie “prestick” nie.

My skoene, na 2 weke, in die lou-oond.  Ek het ook al bakkies met blokkies en gemufte brood in die lou-oond gekry, want dit is mos waar daar gekook word!  Miskien wou hulle tekkie-pastei maak…

Karsleutels – nogal iemand anders sin – in ’n skoen, in die kas.  Dit was maande later!  Dit was somer en die sleutel was in winterskoene.  Gelukkig het die mense ’n spaar sleutel gehad.

Ek het ook al my kind, met ’n pot, in die tuin gevind.  Hard besig om sandkoekies te kook.  Eintlik pas dit nie hierby nie, want toe het ek vir Cobus gesoek en nie die pot nie…

En dan is daar natuurlik die gunsteling speelding: Lala.
Lala (omdat hy lank terug kon sing) doen alles saam met Cobus.  Boomklim, blokkies bou, inkleur, eet en nog vele meer.  Dit het begin toe hy 20maande oud was en op amper 8 moet Lala nog steeds soms saam met hom skoolgaan.  In elk geval, Lala klim boom en dan vergeet hy om in die huis in te kom vir aandete.  As dit dan bedtyd is, is dit die GROOT SOEK, want Lala moet kom slaap.  Lala was al in die boom, in die kas, onder die bed, in die koelboks, binne in ’n karretjie, karstoeltjie, stootwaentjie, die lys is lewenslank.  Ons het ook al vir Lala in die bed gekry, nadat ons die hele huis omgekeer het!

Oor tietiebottels en spoegdoeke (Anel en Nelrie se gunstelinge), moet ek liewer nie eers begin skryf nie.  Miskien kan ek 'n boek hieroor skryf, want 'n blog is te kort. Ek wens ek kan al die snaakse plekke onthou waar ons dinge gevind het. 

Selfs al is 2 van hulle nou groter, help dit steeds nie om te sê “gaan soek maar self” nie, want Mamma moet mos weet waar alles is!


Saturday, 10 September 2011

Kaalvoet oor die Drakensberge

Mense sê vir ons: “Julle het baie moed om daar in die bos te bly” of “Ons dink julle is baie dapper.” Ons kan ’n lang gesprek hieroor voer, want ons dink meestal nie so nie, maar dit is waar dat eenvoudige dingetjies hier moeiliker gedoen word as op ander plekke. Byvoorbeeld inkopies en wasgoed was, soos julle al gelees het.
Ons lewe is egter nie vergelykbaar met die lewe van die mense wat hier in die dorpies bly nie.  Een manier om dit duidelik te maak is om ’n paar stories neer te skryf oor die geboorte van babatjies.
Een van ons vele werkies hier rond is om ambulans te speel.  En baie keer moet ons ’n vrou in kraam by die kliniek of hospitaal gaan aflaai.  Martha het ook daarop gereken dat sy vervoer sal kry, maar ongelukkig het sy toe in kraam gegaan toe daar nie iemand by die sendingstasie was nie.  Haar man het haar toe agter op sy fiets gelaai en die 9km (kortpad) dorp toe aangepak.  Dit het hulle 3 ure geneem, want hulle moes kort-kort stop om haar eers weer gemaklik te kry.  Hulle het laat in die nag by die hospitaal aangekom en hul baba is nie lank daarna gebore nie.  6 uur die volgende oggend laai Pappa toe weer vir Mamma en Baba agter op die fiets en kom huis toe.
Daines het daarin geslaag om haar swangerskap vir baie mense weg te steek tot die dag dat die baba gebore word. Marjanne het groot geskrik toe sy hoor Daines is siek en moet hospitaal toe.  Gelukkig was sy darem nie so dodelik siek soos hulle dit laat klink het nie, maar dis waar:  dit is ’n saak van lewe en dood.  Marjanne is toe beloon met ’n naamgenoot:  Mariyanna.
Nog ’n Daines het ook kom hulp soek, maar weereens was daar nie ’n voertuig beskikbaar nie.  Of daar was, maar een van haar helpers het net vir Heinrich gevra of hy Boma (dorp) toe gaan en nie gesê waarom nie.  Toe sê hy nee en sy loop weer.  Daines en twee vroue wat haar moet help, het uit hul dorpie hierheen geloop.  Seker so 2km.  Toe hulle hoor daar is nie vervoer nie, sê sy dat sy nie weer kan terugloop nie.  Hulle kry toe skuilplek in Martha se kombuis.  Daar is die dag baie gebid in daardie kombuisie, want 2uur die middag is die babatjie, voete eerste, na ’n lang gesukkel, gesond gebore.  En wat doen die mamma?  Sy rus ’n bietjie en gaan huis toe, natuurlik.
Christine het wel vervoer gekry na die kliniek.  In die nag.  Haar baba is gebore en kom sy agter op ’n fiets hier aan.  Met ’n groot glimlag.  Sy kom die baba vir ons wys.  Sy lyk so gelukkig asof sy pas van ’n spa terugkom en nie van ’n geboorte nie!
Immanuel is in sy ouers se hut gebore.  Heinrich was nie betyds nie.  Hy was darem betyds om die pa te ondersteun deur die laaste paar minute se wag.
Grace is op die pad tussen ons en ’n dorpie gebore.  Ons kon nie nader ry met die voertuig nie en moes op ’n punt vir hulle wag.  Wag, wag, en toe die boodskap:  Gaan maar huis toe, die baba is klaar gebore, ons gaan ook nou weer huis toe.
So:  Nee, ek kan nie by hulle kers vashou nie.  Ek sal eerder kaalvoet oor die Drakensberge trek… Spreekwoordelik!
Die lekker is om na die tyd na die baba te gaan kyk.  Altyd met ’n geskenkie, want jy kan nie die baba sien sonder ’n geskenkie nie.  Alhoewel hulle nie baie streng met die reël is nie, want ek het dit eers agtergekom toe Anel gebore is.  En soms moet jy selfs vir die baba ’n naam gee J

Tabita:  Sy is vandag 1jaar oud

Kyk die baba!

Thursday, 25 August 2011

Krieketbrood

Gewoonlik koop ons brood in die dorp (Boma, soos dit hier genoem word).  Daar is ’n bakker en ’n paar ander winkels wat brood verkoop.  Ons kan baie kla oor die brood, maar dit is darem nie oneetbaar nie.  Maar ons gaan nie so gereeld dorp toe nie en ons bêreplek is maar min, so soms moet ek brood bak. 

Ek het al ’n hele paar resepte probeer en ook al ’n paar goeie broodjies gebak, maar ek was nog nooit 100% tevrede nie.  Die laaste paar weke is my brode egter keer op keer ’n flop!  Ek dink dit is die gis wat nie werk nie, want dit is elke keer plat en hard.  Heinrich noem dit krieketbrood, want dit is hard genoeg om ’n bal mee te slaan!  Ek moet dit dan maar weggooi, want dit help nie eers om dit saam met sop te eet nie.  Miskien as jy dit oornag in die sop laat lê… 
En die ergste is, as ek 2 weke later weer in “die gat”  kyk, lê die brood nog ongeskonde daar.  Dit muf nie eers nie…  En geen mier of enige ander komposgogga sit sy mond daaraan nie – seker bang hulle tande breek.

Ai, dit maak my moedeloos!

Gister skraap ek toe weer moed bymekaar.  Ek haal die (4de?) pakkie met nuwe gis uit die kas en probeer weer.  Die keer broodrolletjies.  En wat kom uit die oond uit? Ja!  Jy het reg geraai! Krieketballe!

Cobus was baie entusiasties om dit uit te toets, maar Mamma is kwaai.  ’n Mens speel nie met kos nie!  Nou het die miere ten minste iets om op te klim.  Dan kan hulle dalk beter sien waar die lekker papajaskille lê.


Saturday, 13 August 2011

Deelkrag

In die winter van 2010 het ek hierdie stukkie in ons nuusbrief geskryf:

Ons hoor dat daar in Suid-Afrika weer gereeld beurtkrag is.  Wel, ons beleef dit ook.  Behalwe dat beurtkrag in  Zambië ’n bietjie anders werk.  Miskien moet ons dit eerder “deelkrag” noem.  Want, as ’n mens 220V het en daar is nie genoeg nie, dan deel ’n mens dit mos!  Ons deel is gewoonlik so 150V.  Daarmee kan jy ’n lig aansit (nie ’n buislig nie, want dit het 220V nodig om aan die gang te kom), jy kan ’n ketel stadig kook en die yskas bly aan.  Ek wonder hoeveel vrouens weet wat die minimum krag is wat haar wasmasjien nodig het om te werk?  Ons sin het 190V nodig.  Ons wasmasjien werk dus soms in die middag en meestal in die nag… O, ja, miskien is beurtkrag nie so ’n slegte woord nie.  Die elektriese aparaat in ons huis maak deesdae beurte om te werk. So werk die broodrooster bv. nie saam met die mikrogolf nie.  As dit die buislig se beurt is om aan te gaan (wanneer ons in die nag 200+V kry) moet die geyser, yskas en ander ligte eers af.  Moet dan ook nie skrik as die lig weer afgaan wanneer die yskas aangaan nie.  En as jy ’n koppie koffie wil maak, moet jy eers die CD speler afsit. Gelukkig kan jy weer jou rustige musiek saam met die heerlike Covenant College Koffie geniet…

Hoekom het ek dit nou weer laat lees?  Ek het daaraan gedink toe ek een nag, weer, vir die hoeveelste keer die laaste paar weke, opstaan om nuwe wasgoed in die masjien te gooi. Ja, ek was al weer in die nag wasgoed.  Nadat die krag vir ’n paar maande beter geword het, het dit weer slegter geword. Baie slegter.  Ek kan nou glad nie meer in die dag die wasmasjien aansit nie.  Die mikrogolf is ’n wit olifant en daar is permanent ’n kamplig in ons kombuis.  As die kragopwekker aangesit word, dink ons almal ons het donkerbrille nodig, omdat die lig skielik so “skerp” is.  Dit veroorsaak ook probleme met die water, want die pomp werk ook net as die wasmasjien werk.  Gelukkig is ons huis aan die einde van die waterpyp en ook die laagste, so as die ander mense lankal sonder water sit, drup dit nog by ons krane uit.  En nou weet ons ook: ’n Mens het water nodig om fotostate te kan maak…
As jy wonder: Sodra die water terug is, weet ons die pomp werk en dit beteken die fotostaatmasjien sal ook weer werk.

Van die os op die jas.  Terwyl ons met vreemde vergelykings besig is:  Hier in Petauke kan ’n mens swanger raak van grondbone verkoop….


Wednesday, 3 August 2011

Nelrie se storie


Hierdie is nie so ’n lekker of snaakse storie soos baie van die ander nie.  Ek het ook lank gewonder of ek dit moet neerskryf.  Vir lank kon ek nie, want ek het nie kans gesien om “terug te gaan” na die seer nie.  Maar toe het ek besluit:  wanneer ons saam stap in die middae deel ons vreugde en pyn met mekaar.  En:  Stories is stories.  Hulle moet geskryf en vertel word en daarom moet hierdie een ook geskryf word.

Sondag 17 April, het Nelrie opgestaan met (wat ons gedink het) ’n verkoue.  Sy huil, want sy wil nie tafel dek nie, omdat sy te siek is.  Aangesien sy altyd verskonings uitdink om nie tafel te dek nie, steur ons ons nie veel daaraan nie.  Daarna gaan ons kerk toe.  Ons het vergeet dat dit die Sondag “Palm Sunday” is en dat dit hier met ’n optog gevier word.  Die kerk waarheen ons was, se optog was saam met ’n paar ander kerke deur die dorp.  ’n Lang stap.  Halfpad moes ons vir Nelrie optel en het ’n kortpad teruggevat kerk toe.  Die res van die diens het sy op Heinrich se skoot geslaap en so ook die meeste van die middag.  In die nag het sy koors gekry en Maandagoggend het ons geweet dit is Malaria.  Ons het dadelik vir haar medisyne gegee en dit het ook gelyk of sy beter word.  Die koors het minder geword en sy het opgehou opgooi, maar sy wou steeds nie eet nie en het meestal geslaap.  Teen Woensdag was sy deurmekaar.  Sy het nie geweet wie ons is nie en sy het snaakse geluide gemaak en haarself gebyt.  Later het ons uitgevind sy het stuiptrekkings gekry.  Nie van die koors nie, maar van die malaria.  Ons het besef daar is groot fout en Heinrich is net voor 6 die aand met haar Katete toe.  Dit is so uur se ry van hier af en daar is ’n redelike goeie hospitaal.  Daar het hulle haar getoets en sy het steed baie erg malaria gehad.  Ons medisyne het nie gewerk nie.  Hulle het toe vir haar ander medisyne gegee.  Sy is nie in die hospitaal opgeneem nie, want dit was te vol en hulle het gedink Heinrich kan beter vir haar sorg as hulle.  Daarom het Heinrich en Nelrie die aand by vriende van ons in Katete oorgeslaap.  Nelrie se ander probleem was dat haar bloedsuiker baie geval het.  Van die malaria en ook omdat sy nie geëet het nie.  Heinrich het toe begin om vir haar jogurt, water en koeldrank met ’n spuitjie te gee.  Donderdagoggend was sy effens beter en hulle het huis toe gekom.  Ons het aangehou om vir haar vloeistof met die spuitjie te gee, maar sy was steeds baie deurmekaar.  Ek moes ook vir haar ’n doek aansit.  Ek dink nie ek kan ooit beskryf wat in daardie tyd deur my gedagtes is nie.  Ek wil nooit weer een van my kinders in so ’n toestand sien nie.  Vrydagmiddag het sy vir ’n rukkie opgestaan en Saterdagoggend het sy skielik vir Cobus gesoek.  Sy het uitgegaan en vir omtrent 5 minute met Anel in die sandput gespeel en toe was sy uitgeput.  Teen Sondag (’n week later) het sy weer normaal opgetree, geëet en steeds baie geslaap.  Maar sy het 3kg verloor en weeg toe maar 14kg.  (Anel het op daardie stadium 11kg geweeg).

Dit is nou amper 4 maande later en daar is geen teken van die siekte oor nie.  Ons is so ongelooflik dankbaar dat ons meisiekind vir ons gespaar is!  Sy weeg nou weer 18kg en het vreeslik baie energie!

Vandag is sy 6 jaar oud en sy kan trots sê dat sy (saam met haar maatjies) self haar koek gebak en versier het.



Thursday, 28 July 2011

Celebrities


Ons was maar ’n klein rukkie in Zambië toe ons ontdek dat ons as witmense in die platteland van Zambië ’n statusposisie in die oë van die bevolking het.  Dit is nie altyd oor die regte redes nie, want die mense sien blankes as ’n simbool van rykdom en ’n bron van geld.  Dit wil ons natuurlik nie wees nie.  Maar hulle sien blankes ook as ’n bron van kennis en dit is vir ons goed, want ons is tog hier om hulle te leer.  Maar ons wil ook in ’n gelyke verhouding met hulle wees, want ons het al meermale ontdek hoeveel ons van hulle moet leer!

Om so ’n posisie in die samelewing te hê het natuurlik ook sy voordele:  As jy in die poskantoor instap en die ry staan by die deur uit – glimlag net vir die outjie by die toonbank, hy groet dan, en jy groet en hoor hoe gaan dit met sy familie (al weet jy nie wie hy of sy familie is nie) en as jy weer sien help hy jou sommer eerste.  As jy kan, probeer hom in Nyanja groet.  Al maak jy droog, want dan kyk die hele poskantoor se mense vir jou, lag vir jou poging en niemand gee om dat jy eerste gehelp word nie.  Maar wees versigtig, want hulle is nie dom nie.  As jy jou “posisie” misbruik, of dit vir jou self skep, sal hulle jou maklik uitjou, want dit is immers húlle wat in die eerste plek die posisie vir jou gegee het.

Dit kan mens ook in snaakse/vreemde situasie laat beland.  As hulle byvoorbeeld vir ons ’n goeie sitplek in die kerk wil gee, veroorsaak dit soms dat ons met al 3 kinders heel voor in die kerk, langs die preekstoel sit en vir die gemeente kyk…

As ons in die dorpies ingaan hoor ons ook die mense roep: “Mzungu, Mzungu!”  Dit beteken Engelsman, so ons is nie Mzungu nie.  Maar aangesien hulle dink alle blankes is Engels, is ons Mzungu, want ons is wel baie wit.  So het ’n klein dogtertjie eenkeer op die mark na my toe aangehardloop gekom, haar vingertjie teen my kom druk en gesê: “Mzungu!”  So asof sy wou sê:  Miskien weet jy dit nie, maar jy is BAIE wit en ons almal kan dit sien!
Dis nou behalwe as jy in een van die dorpies ingaan waar daar ’n gemeenskapskooltjie is wat bande met ons kollege het.  Dan roep hulle: “Marjanne, Marjanne!” , want sy besoek hulle gereeld en vir hulle het voertuig + Mzungu gelyk geword aan Marjanne.

Maar nou weet ons regtig ons is “celebrities”.  Een van die studente kom na ons toe en vra vir ’n afspraak met ons gesin.  Ja, sê ons, maar hoekom?  Want hy wil ’n foto saam met ons neem!
Op die ou end daag daar 3 studente op.  Een met ’n knewel van ’n  kamera.  En ons word opgestel dat ons in die son inkyk.  Elke student kry ’n beurt vir ’n foto saam met ons gesin.  Ek dink nie dit gaan baie mooi foto’s wees nie, want Anel kry tande (en sy wil hulle nie wys nie, nie eers vir ’n foto nie) en die ander twee is suur oor die son in hul oë.  Daarna groet hulle en stap weg, maar by ons hek ontdek hulle die trapkar en besluit dit is die ideale agtergrond vir nog foto’s.  Gelukkig speel die kinders toe hierdie keer saam en die studente kon mooi foto’s saam met ons kinders kry.

Ai, as ’n mens darem beroemd is…

Gelukkig kan mens nooit grootkop kry as jy kinders het nie.  Weet verseker dat hulle jou iewers in die openbaar in die skande sal steek!


Tuesday, 19 July 2011

Spore van geduld

Ek beskou myself nie as ’n perfeksionis nie. Maar: Ek hou daarvan as dinge netjies is.  En ek hou daarvan as dinge in (my J ) volgorde gebeur.  Daarom is ek soms te hard op my kinders en moet Heinrich my voortdurend vertel om te “ontspan”.  Ek kan byvoorbeeld glad nie verstaan hoe Cobus dit regkry om te vergeet om sy voete te was as hy bad nie.  Hy sit vir ’n halfuur in die bad en klim dan vuil uit!

Nouja, gisteraand was ek baie moeg en gaan stort ek gou voor ek slaap.  Toe ek uitklim dink ek: “Sjoe, dit was vinnig.”  Tot ek afkyk en twee modderspore op die matjie gil vir my: “Mamma!  Hoe kan jy van jou kinders verwag om perfek te wees….?”

Thursday, 14 July 2011

Bloemparkzambie

Die afgelope week het ons besoekers gehad!  Ja, dit is ’n groot ding vir ons.  Veral as hulle Afrikaans is.  En hulle is!  Hulle praat nou wel soms bietjie ’n ander taal as ons, maar hulle is beslis Afrikaans.  Hulle kom uit Bloemfontein en ons het hulle hier-wees vreeslik baie (of is dit nou leeu baie?) geniet.  Aangesien hulle so bietjie anders as ons praat, moes ons ’n paar nuwe woorde leer. Meeste van hierdie woorde kan baie betekenisse hê en ’n mens moet dit maar uit die konteks aflei.  Cobus is vreeslik gretig om nuwe woorde te leer en daarom wou hy ook soos een van hulle “O, Jubel!” sê.  Ongelukkig kry hy toe bietjie die leeu aan die stert beet en sê “Haleluja!”  en Nelrie antwoord ewe mooi op die Zambiese manier “Amen”.

Nouja, genoeg taal lesse.  Vir meer detail oor hierdie besoek, lees http://bloemparkzambie.blogspot.com.

Ek wil eintlik meer vertel oor ons kerkbesoek saam met hulle.  Sondag oggend vertrek ons na ’n kerkie van een van die studente.  Dit is so 8km van hier af, maar ons ry ’n halfuur.  Ons het ook besluit om almal (14 saam met die kleintjies) in een bakkie te gaan.  Dit beteken 6 voorin en 8 agterin.  Aangesien hulle Afrikaans is, is dit nie so normaal nie en ’n uitroep van “O, Jaco” toe ons skielik teen ’n steilte af en deur ’n stroompie ry, was heel gepas.  Die erediens was buite, want daar is ook ander gemeentes genooi en ons kan nie almal in die kerk inpas nie.  Hulle het ’n groot gedeelte langs die kerk omhein met gras en voor ’n klein afdakkie gebou.  Die mans gaan sit onder die afdak op stoele en die vrouens op matte in die reën.  (Dit was die enigste dag in Julie wat dit gereën het.  Waarskynlik ook die enigste dag tussen Mei en Oktober wat dit gereën het.) Die student se vrou het met ons aankoms ’n slapende Anel uit my arms gegryp en haar na die mat gedra.  Sy was natuurlik toe wakker… Ons het egter net gesit, toe besluit sy Anel gaan koud kry en ek moet ook by die mans gaan sit.  Soos altyd voel dit maar vreemd, maar ek is tog bly oor die effense hitte wat die afdakkie gee.  (Want ek het ook soos Nelrie amper versmoor van die koue.) Daar het ek ’n goeie uitsig oor die matte waarop die vroue sit, die fietse wat tussen die mense rondstaan en al die ander aktiwiteite in die “kerkplein”.  Daar was natuurlik kore en ook ’n “skets” of opvoering.  Dit was maar die tweede keer wat ons so ’n opvoering sien en dit was nogal interessant. 
Die dag was om nog ’n rede ’n besondere erediens, want ons het ook ’n “koor” gemaak.  Op die ingewing van die oomblik het Heinrich aangekondig dat ons ook gaan sing.  En daar staan ons toe!  Natuurlik sing ons toe maar Afrikaanse Psalms.  Dis altyd bekend en veilig in ’n noodgeval…
Na byna 2 ure kry Dinant (Heinrich se broer, want die groepleier is) darem ’n beurt om te preek.
Gedurende die preek het Anel die kerkplein verken, in die sand gespeel en uiteindelik op my skoot kom slaap terwyl sy aan haar leë bottel suig. (Dis nou haar nuwe gewoonte)

Na die preek gaan eet ons in die student se huis.  Maar eers moes Eunice ’n varkie vryf (dit het nie gewerk nie) en Cobus moes ’n wors van die worsboom pluk (met Japie se hulp het dit gewerk). Hierdie keer was die besoekers alleen in die huis, want daar was nie plek vir die gasheer om by te sit nie.  Dit was vir hulle ’n nuwe ervaring om in ’n skotteltjie hande te was en dan met die hande te eet, maar baie aangenaam.  Daarna is ons terug in die sardientjieblik en huis toe.  Reg vir ’n ordentlike middagslapie.

Sunday, 3 July 2011

Supermark

Petauke het baie uitgebrei vandat ons hier gekom het.  Ek praat nou spesifiek oor plekke om inkopies te doen.  Aan die begin was hier net die mark en die “Indian shops”. 

Deesdae is die mark meer as dubbeld so groot soos toe.  Ons kom meestal net die in kosafdeling, maar daar is ook ’n klere-afdeling, plastiekafdeling, fiets(parte)afdeling en alles-en-nog-wat-afdeling.  Heinrich noem dit graag “Petauke mall”, want dit laat mens nogal aan Menlin dink - net die eenvoudiger weergawe daarvan natuurlik. 

Droë bone

 
Groente
















Die “Indian shops” is nog baie dieselfde.  Hulle het darem bietjie meer produkte, maar hulle lyk en werk nog dieselde.  Daar is ’n toonbank en agter die toonbank word alles uitgestal.  Jy staan dus by die toonbank en vra wat jy wil hê.  Die Zambiër help jou, maar by die die kasregister sit Baas Indiër en net hy werk met die geld.  Dit is waarskynlik die rede hoekom sommige van hulle dit regkry om al vir 3 generasies lank in Petauke geld te maak.  Nog ’n interessante ding van hierdie winkels is dat jy materiaal en fietsparte in een winkel kry, skroewe en handeroom in die ander winkel en in die derde matrasse en suiker.  Moet daarom liewer nie vra waarom inkopies altyd so lank duur nie!

 Die "Indian shops" van buite en binne


























Intussen het hier ook ’n Zambeef en PEP oopgemaak.  PEP het natuurlik geen bekendstelling nodig nie.  Dit is mos die plek waar jy klere, skryfbehoeftes, seep, kombuisware en speelgoed kan koop en alles ruik na plastiek. Glo my, dit is ’n BAIE belangrike winkel hier.  Veral as jy ’n baba het!  Zambeef is vir vleis (koop maar versigtig), melk, jogurt, brood (krummels?) en olie. O, ja, eiers ook, maar dit koop ons hier op die plaas. 



Die nuutste toevoeging is ’n supermark, met rakke en gange en trollies, waar jy self kan loop en goed van die rak af kies.  Hulle het ook dinge wat ons voorheen moeilik of glad nie kon kry nie.  Soos vrugtesap, handy andy, shampoe, formulemelk, kaas en cherios (dit is nou die gesonder weergawe van fruit loops - ’n lekker happie vir baba).  Nou goed, ek erken, hierdie winkel hou nie kers vas by PNP hyper nie, maar hierdie 4 rakke is vir ons baie werd!  En selfs hier werk dinge bietjie anders.  Die eerste keer toe ons daar in is, het ons net loop en kyk.  Een van die werkers het die hele tyd agter ons aan geloop met ’n waentjie (van die soort met die mandjies in).  Ons het verduidelik ons kyk net, maar “yes” en hy bly agter ons aanloop.  Met die tyd het ek uitgevind dit is standaard-praktyk.  In elk geval vir Mzungu (witmense).  Ek ek het geleer dit is nogal handig as iemand anders jou wa stoot en inkopies inlaai, terwyl jy die baba dra.
So, as julle my grootoog en oopmond in ’n mall in SA aantref, moenie wonder nie, weet maar:  Ek kom uit die bos uit J