In die winter van 2010 het ek hierdie stukkie in ons nuusbrief geskryf:
Ons hoor dat daar in Suid-Afrika weer gereeld beurtkrag is. Wel, ons beleef dit ook. Behalwe dat beurtkrag in Zambië ’n bietjie anders werk. Miskien moet ons dit eerder “deelkrag” noem. Want, as ’n mens 220V het en daar is nie genoeg nie, dan deel ’n mens dit mos! Ons deel is gewoonlik so 150V. Daarmee kan jy ’n lig aansit (nie ’n buislig nie, want dit het 220V nodig om aan die gang te kom), jy kan ’n ketel stadig kook en die yskas bly aan. Ek wonder hoeveel vrouens weet wat die minimum krag is wat haar wasmasjien nodig het om te werk? Ons sin het 190V nodig. Ons wasmasjien werk dus soms in die middag en meestal in die nag… O, ja, miskien is beurtkrag nie so ’n slegte woord nie. Die elektriese aparaat in ons huis maak deesdae beurte om te werk. So werk die broodrooster bv. nie saam met die mikrogolf nie. As dit die buislig se beurt is om aan te gaan (wanneer ons in die nag 200+V kry) moet die geyser, yskas en ander ligte eers af. Moet dan ook nie skrik as die lig weer afgaan wanneer die yskas aangaan nie. En as jy ’n koppie koffie wil maak, moet jy eers die CD speler afsit. Gelukkig kan jy weer jou rustige musiek saam met die heerlike Covenant College Koffie geniet…
Hoekom het ek dit nou weer laat lees? Ek het daaraan gedink toe ek een nag, weer, vir die hoeveelste keer die laaste paar weke, opstaan om nuwe wasgoed in die masjien te gooi. Ja, ek was al weer in die nag wasgoed. Nadat die krag vir ’n paar maande beter geword het, het dit weer slegter geword. Baie slegter. Ek kan nou glad nie meer in die dag die wasmasjien aansit nie. Die mikrogolf is ’n wit olifant en daar is permanent ’n kamplig in ons kombuis. As die kragopwekker aangesit word, dink ons almal ons het donkerbrille nodig, omdat die lig skielik so “skerp” is. Dit veroorsaak ook probleme met die water, want die pomp werk ook net as die wasmasjien werk. Gelukkig is ons huis aan die einde van die waterpyp en ook die laagste, so as die ander mense lankal sonder water sit, drup dit nog by ons krane uit. En nou weet ons ook: ’n Mens het water nodig om fotostate te kan maak…
As jy wonder: Sodra die water terug is, weet ons die pomp werk en dit beteken die fotostaatmasjien sal ook weer werk.
Van die os op die jas. Terwyl ons met vreemde vergelykings besig is: Hier in Petauke kan ’n mens swanger raak van grondbone verkoop….
No comments:
Post a Comment