Die afgelope week het ons besoekers gehad! Ja, dit is ’n groot ding vir ons. Veral as hulle Afrikaans is. En hulle is! Hulle praat nou wel soms bietjie ’n ander taal as ons, maar hulle is beslis Afrikaans. Hulle kom uit Bloemfontein en ons het hulle hier-wees vreeslik baie (of is dit nou leeu baie?) geniet. Aangesien hulle so bietjie anders as ons praat, moes ons ’n paar nuwe woorde leer. Meeste van hierdie woorde kan baie betekenisse hê en ’n mens moet dit maar uit die konteks aflei. Cobus is vreeslik gretig om nuwe woorde te leer en daarom wou hy ook soos een van hulle “O, Jubel!” sê. Ongelukkig kry hy toe bietjie die leeu aan die stert beet en sê “Haleluja!” en Nelrie antwoord ewe mooi op die Zambiese manier “Amen”.
Nouja, genoeg taal lesse. Vir meer detail oor hierdie besoek, lees http://bloemparkzambie.blogspot.com.
Ek wil eintlik meer vertel oor ons kerkbesoek saam met hulle. Sondag oggend vertrek ons na ’n kerkie van een van die studente. Dit is so 8km van hier af, maar ons ry ’n halfuur. Ons het ook besluit om almal (14 saam met die kleintjies) in een bakkie te gaan. Dit beteken 6 voorin en 8 agterin. Aangesien hulle Afrikaans is, is dit nie so normaal nie en ’n uitroep van “O, Jaco” toe ons skielik teen ’n steilte af en deur ’n stroompie ry, was heel gepas. Die erediens was buite, want daar is ook ander gemeentes genooi en ons kan nie almal in die kerk inpas nie. Hulle het ’n groot gedeelte langs die kerk omhein met gras en voor ’n klein afdakkie gebou. Die mans gaan sit onder die afdak op stoele en die vrouens op matte in die reën. (Dit was die enigste dag in Julie wat dit gereën het. Waarskynlik ook die enigste dag tussen Mei en Oktober wat dit gereën het.) Die student se vrou het met ons aankoms ’n slapende Anel uit my arms gegryp en haar na die mat gedra. Sy was natuurlik toe wakker… Ons het egter net gesit, toe besluit sy Anel gaan koud kry en ek moet ook by die mans gaan sit. Soos altyd voel dit maar vreemd, maar ek is tog bly oor die effense hitte wat die afdakkie gee. (Want ek het ook soos Nelrie amper versmoor van die koue.) Daar het ek ’n goeie uitsig oor die matte waarop die vroue sit, die fietse wat tussen die mense rondstaan en al die ander aktiwiteite in die “kerkplein”. Daar was natuurlik kore en ook ’n “skets” of opvoering. Dit was maar die tweede keer wat ons so ’n opvoering sien en dit was nogal interessant.
Die dag was om nog ’n rede ’n besondere erediens, want ons het ook ’n “koor” gemaak. Op die ingewing van die oomblik het Heinrich aangekondig dat ons ook gaan sing. En daar staan ons toe! Natuurlik sing ons toe maar Afrikaanse Psalms. Dis altyd bekend en veilig in ’n noodgeval…
Na byna 2 ure kry Dinant (Heinrich se broer, want die groepleier is) darem ’n beurt om te preek.
Gedurende die preek het Anel die kerkplein verken, in die sand gespeel en uiteindelik op my skoot kom slaap terwyl sy aan haar leë bottel suig. (Dis nou haar nuwe gewoonte)
Na die preek gaan eet ons in die student se huis. Maar eers moes Eunice ’n varkie vryf (dit het nie gewerk nie) en Cobus moes ’n wors van die worsboom pluk (met Japie se hulp het dit gewerk). Hierdie keer was die besoekers alleen in die huis, want daar was nie plek vir die gasheer om by te sit nie. Dit was vir hulle ’n nuwe ervaring om in ’n skotteltjie hande te was en dan met die hande te eet, maar baie aangenaam. Daarna is ons terug in die sardientjieblik en huis toe. Reg vir ’n ordentlike middagslapie.
No comments:
Post a Comment