Wednesday, 12 November 2014

Troeteldier Manewales "Hoofstuk 4"

(18 April 2011) 

Nou die aand toe ons gaan slaap is die klein katjies weg.  Ons het oral gesoek in die huis.  Ons sit Makat toe maar buite en gaan slaap.  Later word ons wakker van n geskarrel en snaakse brom geluidjies.  Die babas is toe agter ons kas.  Toe ons hulle gesoek het, het hulle seker in die holte onder die kas ingekruip.  Ek kon een in die hande kry, maar die ander twee was te ver.  Toe slaap ons maar weer, maar n rukkie later maak hulle ons weer wakker.  Heinrich het natuurlik baie min geduld met die goedjies en gaan haal die besem.  Daarmee “hark” hy hulle nader en ek moet in die gaatjie inkruip om hulle te vang.  Toe kan ons weer slaap.
Vandag het ons sandput sand gekry.  Die student wat dit moes haal, kon glad nie die oefening verstaan nie.  Uiteindelik het hy gesê: “Madam, I understand now.  In SA you are used to the beach and now you want to bring the beach here.”  Ek moes toe maar sy bubble bars en vertel dat ons ver van die see gebly het.  Maar hy kon darem sien hoe bly die kinders oor die sand is.  Ongelukkig is Kieties ook bly daaroor en hulle het hulself dadelik gaan tuismaak op hierdie reuse toilet…  Ek moes toe maar uitskep, sout gooi en van nou af seker maak die seil is oor as ons nie naby is nie.

(24 Mei 2011)

So 2 weke terug het die babakatjies getrek.  2 van hulle het na ons bure getrek en dit het Makat nie so lank gevat om dit uit te vind nie.  Nou het hulle al hul dae om ons kat uit hulle huis te hou en om hulle katjies daar te hou.  Sy kan nou maar eenmaal nie verstaan hoekom sy 200m van haar kinders af alleen in ’n ander huis moet bly nie!  Ons enigste hoop is dat sy een van die dae weer dragtig sal wees en dan van hulle vergeet!

En so kom ons aan die einde van hierdie katte-verhaal.  Dit was nie regtig die laaste hoofstuk van ons troeteldiere nie, maar dit is al vir eers.


Monday, 10 November 2014

Troeteldier Manewales "Hoofstuk 3"


 (8 April 2011) 

Ons kat (die nuwe makat) het die manier om haarself in die vreemdste posisies te bevind.  ’n Week of so terug het sy op die bed geklim en van die bed af agter die kas ingeval.  Die bed en die kas staan teen mekaar en toe ons haar kry, staan sy op haar agterpote agter die kas met haar voorpote bokant haar kop en sy kry haarself nie daaruit nie!  Gisternag het sy by die venster probeer uitklim, maar die vensters het gaas voor, so sy kan nie. Sy klim toe deur die “lever” venster en toe sy op hom trap gaan hy toe.  Toe sit sy tussen die gaas en die glas…  Ons word wakker van haar benoude miaau en toe moes ek een van die glaspanele uithaal op haar te bevry.  Ai.

Anel (11 maande) het die babakatjies ontdek en sy dink hulle is baie oulik.  Hulle is nogal kwaai en as hulle vir haar spoeg (om haar bang te maak) lag sy haar pap!  Hulle maak ook sulke oulike mieeu geluide as sy hulle lank genoeg skud…  So ons probeer maar dat sy nie sonder toesig met hulle speel nie.

Die duif-probleem het homself opgelos.  Die duif het toe uiteindelik gesterf aan sy wonde.  Heinrich moes net hard probeer om nie daaroor te smile voor die kinders nie.  So vandag het ons begrafnis.




Saturday, 8 November 2014

Troeteldier Manewales "Hoofstuk 2"

Sondag gaan Cobus saam met Heinrich en Oupa kerk toe en hy kom terug met ’n geskenk.  Nie ’n hoender nie, maar ’n duif!  Wat moet ons nou met ’n duif doen???  Ons maak hom toe maar tydelik in die wasgoedmandjie toe en gaan eet by die bure.  Toe ek vinnig terugkom om Anel se doek te ruil, is ek net betyds om te sien hoe die kat die duif aan die poot met wasgoedmandjie en al rondsleep!  Ek sluit toe maar elkeen in sy eie kamer toe en gaan terug.  Later die aand kom ons terug en verwag om ’n dooie duif te kry, maar hy lewe nog.  En die volgende oggend lewe hy nog!  

Bilison sê die duif mag op die plaas in die hoenderhok kom bly, maar teen die middag is hy terug met sy halwe afpoot – die katte kom daar ook in…  Toe is die duif in die badkamer.  En die kat in die skoolkamer.  So ons het amper ’n spietkop nodig om die verkeer te reguleer – watter deur moet wanneer oop.  En die kat dwaal met elke moontlike geleentheid voor die badkamerdeur rond, want dalk gaan die deur oop…

Gelukkig het Pa en Oupa ’n plan gekry en die hokkie opgehang, nou kan die kat nie bykom nie.  Ongelukkig moet ons die hokkie oor drie weke teruggee vir die plaas, so ons hoop maar die duif kan dan al vlieg, want Cobus het ingestem om hom vry te laat.

Dit is darem so lekker om troeteldiere te hê!

in die hokkie


Hoe gaan ek daar bykom?




Wednesday, 5 November 2014

Troeteldier Manewales "Hoofstuk 1"

Hierdie storie het ek op 5 April 2011 geskryf.  Toe ons nog in Zambie gebly het.  Dit is 'n vervolgverhaal, so hou maar die nuus dop vir die volgende hoofstuk.

                                             ***
Ons het nie nou ’n hond nie.  Ons aangenome honde is albei dood.  Een aan slangbyt en een aan ouderdom.  Toe kry ons maar ’n kat. Maar dit was nie so vanselfsprekend nie.
Heinrich hou niks van katte nie, maar eendag kom hy baie kwaad in die huis in: “Jy kan maar ’n kat kry!” sê hy.  Ek is natuurlik baie verbaas, maar wil tog lag vir sy gesigsuitdrukking.  “Hoekom?” vra ek.  “Die muise het my bakkie se drade opgevreet!”  Toe lag ek, nie oor die drade nie, maar oor die kat.  En toe kry ons ook ’n kat.
Maar nou is ons amper soos die Samaritaanse vrou in Johannes.  Ons het al 5 katte gehad en die een wat ons nou het, is nie ons sin nie.  Om een of ander rede oorleef die katte nie hier nie.  Of hulle raak wild as ons op vakansie gaan.  Die kat wat by ons bly en nie ons sin is nie, het al ’n paar keer hier kleintjies gekry, maar ons kry net nie een wat wil bly nie.  Na ons laaste vakansie was die ma-kat ook weg.  Ons wil liewer nie dink wat van haar geword het nie.

Een van haar dogters het toe by ons kom bly, maar sy is ook nie ons kat nie.  Sy het vrywillig hierheen getrek, want haar mense het ’n hond en sy hou nie van die hond nie.  ’n Ruk later het Ma-kat se boetie ook hierheen getrek. Hy kom en gaan egter soos hy wil, maar is gewoonlik met etenstyd tuis…  Twee katte was vir ons genoeg om die muisplaag in toom te hou, maar Sussie-kat het al vetter geword en ons het besef sy gaan binnekort vermenigvuldig. Toe bou ons maar vir haar “nessie” in die garage.  Een aand sit sy vreeslik benoud en miaau voor die deur en krap ook aan die deur.  Ek maak toe maar die deur oop en sy kom met ’n spoed ingehardloop, reguit onder die bad in.  Ons besef toe dis tyd vir haar babas om te kom en sy wil hulle onder die bad hê.  Daar is egter geen manier hoe ons hulle daar uit sal kry nie, so ons lok haar toe maar uit en gaan sit haar in die garage.  So uur later het sy een baba en die volgende oggend 3.  Ons is baie bly sy het hulle nie onder die bad gekry nie!  Twee dae later roep een van Cobus se maatjies ewe skielik: “The cat has a mouse, take it out of the house”.  Nee, sê Cobus, dit is ’n babakat.  Ek spring natuurlik dadelik op van waar ek sit en werk agter die rekenaar en is net betyds om te sien hoe sy die baba onder die bad in dra… Ek hardloop garage toe, net om vas te stel dat die al die derde kleintjie is wat sy indra.  So:  Toe is die babas onder die bad en ons kan glad nie sien wat met hulle gebeur nie.  Vir 4 weke wonder ons toe maar hoe gaan dit met hulle en toe, ewe skielik, dra sy hulle weer daar uit!  In Cobus se kas in!  Ek bou toe maar weer ’n nessie – die keer in die skool, want Oupa kuier hier en slaap in Cobus se kamer – en hierdie keer is sy dood tevrede om daar te bly.  Sjoe, wat ’n verligting!
Die Babas. In hul skool-nessie

Boetiekat



Monday, 11 August 2014

Die Pad

Van hierdie pad is daar al baie geskryf.  Veral in die koerante.  Gewoonlik het die opskrif iets te doen met ‘n ongeluk of “die pad van die dood”.  Wanneer mense na die pad verwys is dit met woorde soos: “Oe! Jy moet versigtig wees!”  of “Dis ‘n vieslike pad!”  Vreemd genoeg het baie van die mense wat die meeste te sê het oor hierdie pad, nog nooit (of baie min) op die pad gery nie.
As jy nog twyfel, ek praat van die Moloto pad.  Die R573.  Die pad wat van Pretoria na Moloto en Kwamhlanga loop (en terug natuurlik).

Wanneer ‘n mens al hierdie dinge hoor, maak jy vir jouself ‘n prentjie van hoe die pad lyk.  Maar wanneer jy self die pad begin ry, kry jy nogal ‘n paar verrassings. 

In die eerste plek is dit glad nie ‘n “vieslike” pad nie.  Die pad is in ‘n goeie kondisie.  Daar word moeite gedoen om die gate en goeters reg te maak.  Die pad word ook goed bewaak deur die Metro-polisie.  (Dis net jammer die mense wil nooit droogmaak daar waar die polisie is om hulle te vang nie...) En daar is gewoonlik nie baie verkeer op die pad nie.

Ongelukkig is ‘n deel van die prentjie wat oor die pad geskets word, wel waar.  Maar kom ek vertel julle wat ‘n mens werklik op daardie pad sien.

Daar is diere op die pad.  Bokke,beeste en donkies wat enige tyd kan besluit om oor die pad te stap en jou in jou spore laat stop.  Selfs in die middel van ‘n sirkel.  Hulle is amper soos die polisie, behalwe dat hulle nie vir jou kaartjies skryf nie.  Ek moes al by ‘n vierrigtingstop wag vir ‘n donkiekar om oor te gaan.  En ek het al by die selfde stop gewonder of hierdie reël ook geld vir ‘n man met ‘n kruiwa wat voor my by die stop aangekom het. Die ander soort dier wat jy op die pad kry, is padvarke.  Dit is ‘n baie spesiale soort vark, want dit lyk glad nie soos ‘n vark nie en dit is in staat op ‘n bestuurslisensie te kry (op watter manier ook al nodig mag wees).  Hierdie spesie gaan by witlyne en geellyne by jou verby.  Vir hulle is die spoedbeperking ‘n vreemde ronde sirkeltjie langs die pad.  Hulle het hul eie stel reëls en sal vir jou toet en ligte flits as jy nie hul reëls nakom nie.  Hulle sal ook, soos die beeste en bokke, die pad kruis enige tyd wat hulle pas.  En dit is jou verantwoordelikheid om seker te maak dat jy van hul planne en giere bewus is. Terloops, die skoolkinders doen dit ook.  Hulle is bietjie meer versigtig, maar jy moet steeds jou oë oophou.  Sommige padvarke bestuur groot oranje busse en dit maak hulle ekstra gevaarlik, want dat het hulle nog ‘n gewigsvoordeel ook.  As so ‘n bus jou verbysteek en daar is nie plek vir hom om jou verby te steek nie, moet jy maar langs die pad in die gras gaan ry/stop tot hy daarmee klaar is.  Dit help nie om met hom te stry nie.

Daar is baie van hierdie oranje busse  op die pad.  Hulle word gelukkig nie almal deur padvarke bestuur nie.  Meeste van hulle kruie maar net voort soos treine en verhoed dat jy oor die spoedgrens kan ry.  En aangesien daar baie kilometers is waar jy nie die opsie het om wettig by hulle verby te gaan nie, moet jy maar agter in die trein ry.

Ek het nou die dag ‘n padvark in ‘n rooi karretjie ontmoet.  Sy het voor my ingedraai uit ‘n woonbuurt en heen-en-weer oor die pad gery.  Toe ons die verkeerslig nader en ek die voertuig van nader kan beskou, sien ek dat sy amper nie op die pad kyk nie, maar meer vir die persoon in die passasiersitplek.  Toe ons by die verkeerlig in die ry wag, besef ek sy is nie ‘n padvark nie.  Sy is (waarskynlik) ‘n ma met ‘n baie siek tiener in die voorste sitplek, wat desperaat probeer om by die verkeer verby te kom op pad hospitaal toe...

Die Metro-polisie.  Ja, hulle is oral sigbaar.  Hulle stop jou vir jou lisensie.  Soms meer as een keer op ‘n dag, maar hulle is altyd vriendelik.  In elk geval as jy jou lisensie vir hulle wys.  Ek weet nie hoe vriendelik hulle is as jy nie daardie stukkie plastiek by jou het nie.  Hulle sit ook rond met masjientjies wat kyk hoe vinnig jy ry.  As jy dan te vinnig ry, spring hulle voor jou in en laat jou stop.  En dan moet die kar agter die skuldige ook stop en die een agter hom ook. Totdat almal stadiger ry as die spoedbeperking.  Die polisie is glad nie bang nie, want hulle spring onaangekondig voor ‘n vinnige voertuig in.  Hulle diskrimineer ook nie, want hulle sal selfs voor ‘n ambulans met ‘n sirene inspring.  Hy ry dan te vinnig.  Die ambulans het egter nog meer moed as die polisie, want hy het nie gestop nie.  Die polisieman het baie vinnig van rigting verander...

Op die pad sien ‘n mens ongelukke. Groot en klein.  Soms selfs 4 voertuie in een ongeluk.  As ‘n mens by so ‘n toneel verby ry, kyk jy onwillekeurig vir bekende voertuie.  En dan is jy maar te dankbaar as almal weereens veilig by die werk gekom het.  Soms word die pad selfs gesluit agv van so iets.  Of ‘n skietery.  Maar dit is darem ‘n uitsondering.

Op die pad kan jy ook jou voertuig, maak nie saak hoe hy lyk nie, in ‘n taxi verander.  Daar is altyd mense wat iewers heen op pad sonder wiele en in jou voertuig is daar mos altyd plek vir nog een.

Dit alles in ag geneem:  Hou jou oë oop en begin betyds, want as jy die verkeer op Zambezi oorleef het, kan daar nog baie onverwagse oponthoude op jou pad wees.

Monday, 20 January 2014

Home Alone

En daar is ek toe ’n hele Vrydag middag en aand alleen by die huis.  Elkeen is by sy eie kamp of maatjie en ek pas huis op.

Wat nou? As ’n mamma so ’n kans kry moet sy dit gebruik.  So ek het die stilte geniet.  In die stad is dit ook nou nie regtig stil nie, so ek het maar mooi musiek aangesit om dit beter te laat klink.  Ek het ’n hoop werk gedoen gekry en daarna lekker na ’n romantiese fliek gekyk wat my man nie sal waardeer nie.  En toe nog bietjie boek gelees voor ek vroeg gaan slaap het. Heerlik!


Het ek genoem dat ek VREESLIK na my man en kinders verlang het???