Van hierdie pad
is daar al baie geskryf. Veral in die
koerante. Gewoonlik het die opskrif iets
te doen met ‘n ongeluk of “die pad van die dood”. Wanneer mense na die pad verwys is dit met
woorde soos: “Oe! Jy moet versigtig wees!” of “Dis ‘n vieslike pad!” Vreemd genoeg het baie van die mense wat die
meeste te sê het oor hierdie pad, nog nooit (of baie min) op die pad gery nie.
As jy nog twyfel,
ek praat van die Moloto pad. Die
R573. Die pad wat van Pretoria na Moloto
en Kwamhlanga loop (en terug natuurlik).
Wanneer ‘n mens
al hierdie dinge hoor, maak jy vir jouself ‘n prentjie van hoe die pad
lyk. Maar wanneer jy self die pad begin
ry, kry jy nogal ‘n paar verrassings.
In die eerste
plek is dit glad nie ‘n “vieslike” pad nie.
Die pad is in ‘n goeie kondisie.
Daar word moeite gedoen om die gate en goeters reg te maak. Die pad word ook goed bewaak deur die Metro-polisie. (Dis net jammer die mense wil nooit droogmaak
daar waar die polisie is om hulle te vang nie...) En daar is gewoonlik nie baie
verkeer op die pad nie.
Ongelukkig is ‘n
deel van die prentjie wat oor die pad geskets word, wel waar. Maar kom ek vertel julle wat ‘n mens werklik
op daardie pad sien.
Daar is diere op
die pad. Bokke,beeste en donkies wat
enige tyd kan besluit om oor die pad te stap en jou in jou spore laat stop. Selfs in die middel van ‘n sirkel. Hulle is amper soos die polisie, behalwe dat
hulle nie vir jou kaartjies skryf nie. Ek
moes al by ‘n vierrigtingstop wag vir ‘n donkiekar om oor te gaan. En ek het al by die selfde stop gewonder of
hierdie reël ook geld vir ‘n man met ‘n kruiwa wat voor my by die stop aangekom
het. Die ander soort dier wat jy op die pad kry, is padvarke. Dit is ‘n baie spesiale soort vark, want dit
lyk glad nie soos ‘n vark nie en dit is in staat op ‘n bestuurslisensie te kry
(op watter manier ook al nodig mag wees).
Hierdie spesie gaan by witlyne en geellyne by jou verby. Vir hulle is die spoedbeperking ‘n vreemde
ronde sirkeltjie langs die pad. Hulle
het hul eie stel reëls en sal vir jou toet en ligte flits as jy nie hul reëls
nakom nie. Hulle sal ook, soos die
beeste en bokke, die pad kruis enige tyd wat hulle pas. En dit is jou verantwoordelikheid om seker te
maak dat jy van hul planne en giere bewus is. Terloops, die skoolkinders doen
dit ook. Hulle is bietjie meer
versigtig, maar jy moet steeds jou oë oophou.
Sommige padvarke bestuur groot oranje busse en dit maak hulle ekstra
gevaarlik, want dat het hulle nog ‘n gewigsvoordeel ook. As so ‘n bus jou verbysteek en daar is nie
plek vir hom om jou verby te steek nie, moet jy maar langs die pad in die gras
gaan ry/stop tot hy daarmee klaar is.
Dit help nie om met hom te stry nie.
Daar is baie van
hierdie oranje busse op die pad. Hulle word gelukkig nie almal deur padvarke
bestuur nie. Meeste van hulle kruie maar
net voort soos treine en verhoed dat jy oor die spoedgrens kan ry. En aangesien daar baie kilometers is waar jy
nie die opsie het om wettig by hulle verby te gaan nie, moet jy maar agter in
die trein ry.
Ek het nou die
dag ‘n padvark in ‘n rooi karretjie ontmoet.
Sy het voor my ingedraai uit ‘n woonbuurt en heen-en-weer oor die pad
gery. Toe ons die verkeerslig nader en
ek die voertuig van nader kan beskou, sien ek dat sy amper nie op die pad kyk
nie, maar meer vir die persoon in die passasiersitplek. Toe ons by die verkeerlig in die ry wag,
besef ek sy is nie ‘n padvark nie. Sy is
(waarskynlik) ‘n ma met ‘n baie siek tiener in die voorste sitplek, wat
desperaat probeer om by die verkeer verby te kom op pad hospitaal toe...
Die
Metro-polisie. Ja, hulle is oral
sigbaar. Hulle stop jou vir jou
lisensie. Soms meer as een keer op ‘n
dag, maar hulle is altyd vriendelik. In
elk geval as jy jou lisensie vir hulle wys.
Ek weet nie hoe vriendelik hulle is as jy nie daardie stukkie plastiek
by jou het nie. Hulle sit ook rond met
masjientjies wat kyk hoe vinnig jy ry. As
jy dan te vinnig ry, spring hulle voor jou in en laat jou stop. En dan moet die kar agter die skuldige ook
stop en die een agter hom ook. Totdat almal stadiger ry as die
spoedbeperking. Die polisie is glad nie
bang nie, want hulle spring onaangekondig voor ‘n vinnige voertuig in. Hulle diskrimineer ook nie, want hulle sal
selfs voor ‘n ambulans met ‘n sirene inspring.
Hy ry dan te vinnig. Die ambulans
het egter nog meer moed as die polisie, want hy het nie gestop nie. Die polisieman het baie vinnig van rigting
verander...
Op die pad sien
‘n mens ongelukke. Groot en klein. Soms
selfs 4 voertuie in een ongeluk. As ‘n
mens by so ‘n toneel verby ry, kyk jy onwillekeurig vir bekende voertuie. En dan is jy maar te dankbaar as almal
weereens veilig by die werk gekom het.
Soms word die pad selfs gesluit agv van so iets. Of ‘n skietery. Maar dit is darem ‘n uitsondering.
Op die pad kan jy
ook jou voertuig, maak nie saak hoe hy lyk nie, in ‘n taxi verander. Daar is altyd mense wat iewers heen op pad
sonder wiele en in jou voertuig is daar mos altyd plek vir nog een.
Dit alles in ag
geneem: Hou jou oë oop en begin betyds,
want as jy die verkeer op Zambezi oorleef het, kan daar nog baie onverwagse
oponthoude op jou pad wees.
No comments:
Post a Comment