Saturday, 24 November 2012

uiteet in Petauke

(Nog 'n storie wat ek geskryf het voor my blog-dae - iewers in 2010)

Is jy lus om vanaand te gaan uiteet?

Natuurlik!

 
Maar helaas! Uiteet in Petauke is nie so eenvoudig nie!

In die eerste plek kan ons nie kies waar ons wil gaan eet nie.  Daar is net eetplek wat iets anders as nshima verkoop.  Volgens Zambiese standaarde is dit 'n baie luukse plek en ons beskou dit ook as 'n lekker eetplek.


Vanaand kom ons onaangekondig daar aan en ek spring gou uit om te hoor of hulle wel oop is.  Ons het al daar aangekom net om te hoor hulle is toe want, “the cook is tired”.

Vanaand kry ons egter 'n heel ander antwoord: “ Yes, we are open for food. We are always open!”
Ja…

 
Dit moet seker vir hulle vreemd wees dat ons daar met ons kinders aankom, maar die eienares en haar man kom groet ons persoonlik en praat ook vriendelik met die kinders.  (Ons is immers gereelde gaste!  Eet seker 2 keer per jaar daar!)

 
Die tafel is pragtig gedek, met afrika patrone op die tafeldoeke en blomme uit  hul eie tuin.  Die eetgerei is eenvoudige “kombuis-eetgerei” maar na n paar jaar in die bedryf het hulle darem nou genoeg van een soort sodat daar nie meer 'n mengelmoes messe, vurke en borde op die tafel beland nie.

 
Ons bestel nie sop vanaand nie.  Dit is altyd op die spyskaart, maar uit ervaring het ons al geleer dat dit (en nagereg) slegs beskikbaar is as jy dit vooraf bestel.  Die sop wat ons al daar geeet het is heerlik!  Dit is van knorr se pakkies sampioensop met bietjie uie en sout en peper bygevoeg.  Dit ontdek 'n mens as iemand aan tafel vra na die inhoud van die sop (agv allergiee).  Die kelner kom ewe vriendelik met die pakkie daar aan sodat sy die “ingredients” kan lees.

 
Nee, vanaand bestel ons sommer saam met ons koeldrank al die hoofgereg.  Jammer, hulle het nie beef nie, so hoender-roerbraai sal dit wees.  Die kinders bestel worsie met chips.  So halfuur later (ons het al vir n tweede keer koeldrank bestel) kondig die kelner aan dat hulle net 1 hungarian worsie oor het.  Kan hy maar vir die ander kind 'n beef worsie gee?  Ons stem in, hulle kan maar deel as hulle stry.

Nog 'n halfuur later (nou is ons koeldrank heeltemaal op!) kom die kos.  Heerlik!  Die kinders deel die hungarian en raak nie aan die boerewors nie…

 
Dit is gelukkig nie baie moeilik om so lank vir die kos te wag nie, want vanaand is hier genoeg mense om dop te hou.  Dit is nou nadat dit donker geword het, want eers het ons in die tuin rondgestap met die kinders.  Daar was n vergadering van chiefs in 'n nabygelee dorpie en hulle slaap almal vanaand hier oor op pad terug na Lusaka.  Hulle teenwoordigheid is aangekondig deur die GROOT 4x4’s en LANG duur karre in die parkeerterrein.  Nou sien ons die groot(!) en belangrike manne in lewende lywe.  Hulle is netjies aangetrek in meestal swart pakke met dasse en blink skoene.  En wat bestel hulle?  Village Chicken met nshima!  En dit word natuurlik met die hande geeet, want nshima proe net eenvoudig nie dieselfde as dit nie in 'n bolletjie gerol word nie! 

 
Na ons heerlike aandete waag ons dit tog om vir poeding te vra. 

Nee daar is niks. 

Wat van koffie?

Ja, dit het hulle

Hierdie keer wag ons nie so lank nie.  Toe word daar 'n fles met kookwater, 'n blikkie Ricoffee, 2 bekers en suiker voor ons neergesit…

”Do you want milk also?”

Terwyl ons vir die melk wag, maak ons maar koffie.

Waar draai die melk tog? Moes hulle eers die koei gaan vang?

Nee, hier kom die kelner, weer met n groot smile:  Hy moes eers die melk gaan warm maak…

 
Nouja, dis miskien nie uiteet soos in SA nie, maar ons het lekker geeet.  En ons hoef nie die skottelgoed te was nie!

Sunday, 11 November 2012

'n Donker nag...


 
Sondagaand (25 Julie 2010) het soos enige ander aand begin, behalwe dat dit bewolk was.  Later het dit egter al hoe vreemder en vreemder geword! 
 
Eers het dit begin reën en soos julle weet is reën in Julie in Petauke BAIE vreemd.  Toe gaan die krag af.  (Dit was eintlik al Maandagoggend ongeveer 1:00).  Die krag gaan natuurlik meer gereeld hier af, maar gewoonlik gebeur die nie in die nag nie.  Ons het ons dus nie veel daaraan gesteur nie.  Die meeste van ons was in werklikheid nie eers bewus daarvan nie.  Net die wat vir babas opstaan het dit gesien…


3:00 bel Phil vir Heinrich wakker.  Die lesinglokaal se deur staan oop….  Hulle is toe almal met liggies daarheen om te kyk wat aangaan. ’n Ruk later kom Heinrich en Phil terug en ondersoek ons hele erf met liggies.  Heinrich het skoene by hom en wil weet of dit myne is.  Maar hoe het Phil geweet die lesinglokaal se deur is oop?  En waar kom my skoene vandaan?

Die logiese antwoord is natuurlik dat daar inbrekers was.  Ons het van hulle bewus geword toe hulle Jaap se huis se deur oopbreek!  Hulle het seker gedink hy is nie daar nie, want hulle het hulle flou geskrik toe hy vir hulle vra “wie is daar?”  Hulle het ’n gedeelte van wat hul gesteel het net daar op sy stoep gelos en gehardloop.  Dit was nou my skoene en die ou printer.  Dit beteken hulle was op ons stoep, reg voor ons deur!  Want dit is waar my skoene gelê het.  Wat snaaks is, is dat hulle my skoene gesteel het en Nelrie se fiets en Cobus se karretjies wat langs dit gelê het net so gelos het.  Uit die lesinglokaal se kantoor het hulle die ou en nuwe printer gesteel, daar het ook van die ander goed buite gelê.  Hulle kon seker nie besluit wat hulle wil hê nie…  Die nuwe printer het hulle toe ook die volgende dag maar vir ons terug gebring.  Net jammer hulle het dit in die reën neergesit, ons kon hom nog nie aan die werk kry nie, maar daar is nog hoop.

Soos die meeste ander oggende het die son weer opgekom, en die “donker nag” was verby.  Die krag was egter nog steeds af.  Nadat daar heelwat gewerk is om ekstra slotte op al die deure te kry, het ons Zesco (Zambie se Escom) gebel oor die krag.  Hulle kom toe hier aan om verslag te doen net toe ons besig is met vergadering.  Die arme man was nogal senuweeagtig, want hy moet toe sommer in die vergadering kom verduidelik wat aangaan.  Die slegte nuus:  die transformer het geblaas….  Hoe lank sal dit duur om reg te maak?  “I think 12 days”. Soos een van ons kollegas sê:  as hulle “dink” of “hoop” 12 dae, dink en hoop ek dit gaan heelwat langer duur.  As hulle sê hulle is seker, dan sal ek begin hoop.  Om als te kroon vra ons toe wanneer hulle die ding gaan kom afhaal.  “uhm… the other thing is…our truck is down…”  So ons moet nou maar wag tot hulle “truck” weer “up” is.  Intussen het ons nou maar ’n skedule uitgewerk van wanneer die kragopwekker moet aan om water te pomp, wasgoed te was en lig te maak vir nog baie donker nagte.

 
Ons het eers gedink dat die skelms en die af krag iets met mekaar te doen het, maar na al die dom goed wat die skelms gedoen het, dink ons nie hulle was slim genoeg om die transformer te laat blaas nie! 

 
In die proses het ek ook uitgevind op watse vreemde maniere gebede beantwoord kan word.  Ek was natuurlik ’n bietjie bang om te dink ek moet 2 nagte alleen bly as Heinrich en die kinders na Mfuwe gaan.  Ek dink toe dit sou goed wees as ons ’n hond het, want dat sal niemand oor die muur klim nie.  Die Zambiërs is baie bang vir honde!  Maar waar sal ek nou n hond vandaan kry? Maandagoggend kom Nelson toe hier aan om vir ons sy weergawe van die nag se gebeure te vertel.  Hy is ’n vreeslike spraaksame man, so as daar iets gebeur hoor ons almal die storie.  Toe hy klaar is met sy verhaal kom hy met ’n nuwe storie.  Chita (sy wolfhond) is op hitte en hy wil weet of hy haar vir 2 weke in ons erf kan toemaak, want hy wil nie dat sy nou kleintjies kry nie.  Ek was so verbaas, my mond het byna oopgehang!  Ek het darem onthou om vir hom te sê dit is reg so, ons sal nie omgee nie.

 
Ten spyte van al die duisternis kan ons darem nog rustig slaap, want ons weet Wie die werklike Lig vir die wêreld is.

 

Thursday, 25 October 2012

My 2! :)


Die werk van ’n Mamma is al baie beskryf, so ek sal nie te veel daarop uitbrei nie, maar as jou wurmpie 2 word, kan jy nog iets by die lys van take voeg: “Vertaler” 

Natuurlik klink dit wat Goggo praat, skrikwekkend baie na Afrikaans, maar glo my, dit is ’n ander taal! En jy, Mamma, is een van die min wat dit verstaan...

So word Mamma 5:00 wakker en hoor: “Ek lekke slaap!”  Mamma sug en dan plak sy ’n glimlag op haar gesig, want klaarblyklik werk dit so:  As jy glimlag, dink jou blein jy is gelukkig en dan voel jy beter J.

Ons staan op en maak seker Doedoe (spoegdoek) is binne bereik – die dag kan nie daarsonder ’n sukses wees nie.  Ons het al met Boetie geleer dat ’n mens Lala (teddie) met ekstra sorg behandel.  Vissie het gelukkig haar duimpie “geëet” as sy hartseer raak, so haar trosie kon nie verloor nie. Sy is Vissie, want Boetie het op 18 maande geen benul gehad van wat Mamma bedoel met hierdie “sussie” wat sy in haar magie het nie.  Vissie was vir hom baie meer bekend.  Toe Vissie Sussie geword het, het sy haar een dag onder haar hare bevind.  In Boetie se woorde:  “Jy kan nie jou hare sien nie, want jy is onder hulle!”

Gedurende die dag gaan ons veearts toe om pille vir die honde te kry.  Groot is Wurm se ontsteltenis toe sy besef ons het die honde by die huis vergeet!  Gelukkig het sy toe verstaan van pille koop.  Terwyl ons pille koop kom daar ’n tannie in met ’n bewe-hondjie in haar arms.  Die dingetjie se naeltjies moet geknip word.  Wurm bestudeer die hond en kondig aan: “Dit is ’n hond!” “Ja” sê ek.  En toe sy: “Dis nie ’n kat nie!” 

Terug by die huis gaan maak sy haar skoene skoon met my tandeborsel...  En toe bring sy vir my ’n bakkie met water en ’n teelepel:  “Dis jou kateloe!”  ??  ’n Kateloe?  Miskien kan ’n mens dit aan ’n ballebon (ballon) ophang en in die lug opstuur soos Pooh-beer??  Na deeglike navorsing het ek tot die gevolgtrekking gekom dat “’n kateloe” in alle waarskynlikheid ’n kangeroe is, maar ek het nog geen idee wat dit met ’n bakkie water en ’n teelepel te doen het nie....

Na badtyd trek ons die slaapklere aan wat Cinderella, Sneeu Witjie en “die Slaapkous” voorop het en dan moet sy besluit of sy met haar hoëhakskoene of reënskoene aan gaan slaap.

Ons eet spieta (pizza) en dan sê ek sy moet gaan slaap. Sy: “ek nie slaap nie”  Ek: “ja, jy gaan.” Sy: “Nie ék nie!”
Ek oortuig haar om in die bed te klim en te bid: "Here dankie my maak het, Mamma maak het. Amen"

Gelukkig het Klaas Vakie sy werk gedoen!  Nou kan ek in Afrikaans gaan slaap!  Of sal ek??

Friday, 12 October 2012

Toevallig


Vanoggend was ek baie gelukkig.  Ek moes in die reën met Anel gaan inkopies doen en toevallig is daar toe ’n parkering oop naby die winkel.  Ons moes ook ’n blou hoed koop en toevallig het PEP juis nou ’n groot verskeidenheid hoede op die rak.  Toevallig??  Ek weet nie...

Hoe gebeur dit dat ons bank toe gaan en terwyl die dametjie ons help kry sy ’n oproep van haar man.  Sy is verbaas, want hy bel haar nooit by die werk nie.  Hy het slegte nuus, hulle dierbare tannie is oorlede.  Na die oproep moet sy voortgaan om ons te help, maar sy is baie ontsteld.  Sy kry dit baie goed reg om ons te help, maar begin sommer uit die bloute met ons gesels oor haar hartseer.  Toevallig dat juis ons op daardie oomblik daar was. (?)

Hoe gebeur dit dat gemeentelede in die hospitaal wag vir die uitslag van hul pa se toetse en onverwags stap daar ’n jong man na hulle toe.  Hy soek ’n kerk, want hy wil met iemand praat, hy het ’n reuse teleurstelling gehad en sien nie meer kans vir die lewe nie.  Nie hy of iemand wat hy ken is in die hospitaal nie, hy het maar net daar hulp gaan soek.  Was hulle toevallig daar toe die man hulp gesoek het?

Is dit toevallig dat een van ons dogtertjie se beste maatjies twee huise van ons af koop voordat hulle nog geweet het waar ons bly?

Gebeur dit per ongeluk dat ’n reeks preke uit Efesiers en ’n reeks uit die Heidelbergse Kategismus juis op een Sondag by dieselfde tema uitkom?

Ek kyk daarna en sê:  “Ons God is groot!  Hy weet wat gebeur het, Hy weet wat gebeur en Hy weet wat gaan gebeur.  God se “toeval” is netjies uitgewerk en dit werk!

Thursday, 26 July 2012

Verkeer


Ons het altyd in die land van die Zambezi gebly en toe ons trek, kom bly ons weer by Zambezi.  Nou het ons grootpad ’n nuwe naam, maar soos die radio-omroeper sê:  “Verkeer staan stil in Sefako Makgato – dit is Zambezi”

Elke Donderdag spring ek in die Zambezi en swem saam met die stroom, maar dit kan moeilik wees!  Die krokkodille in hierdie rivier is nie so byterig nie, maar hulle laat jou bloeddruk styg, maak jou senuwee-agtig en mors jou tyd! En soms breek een van die groot krokkodille (putco busse), dan is dit Makgato drive – jy maak al die gate toe en dan kan daar nie nog karre inpas nie.

In sulke tye word die verkeersligte hier gebruik soos die in Lusaka – die kleur van die lig is slegs ’n aanbeveling en nie ’n opdrag nie.  Wat moet jy nou in elk geval doen as jy jouself in die middel van ’n kruising bevind en die lig word rooi?  Jy kom so vinnig as moontlik (en dis nie baie vinnig nie) uit die pad uit natuurlik!

So was dit vanoggend weer (sug).  Maar daar was ook ’n paar glimlaggies langs die pad.

Een van die mense by die werkloosheidsburo (straathoek), het ’n goeie advertensie vir homself uitgedink:  Hy staan met ’n troffel in sy hand en bou ’n denkbeeldige muur.  Niemand hoef te wonder waste werk hy soek nie.  Ek kon ongelukkig nie sien of sy muur reguit is nie...

Toe ek uiteindelik aan wal kom by die Maloto pad sien ek ’n TATA-bakkie waarop “Rymar” staan.  Toe ry ek mar by hom verby en sê: “tata”

Monday, 30 April 2012

Parkeerkaartjies


Onlangs moes ek saam met my ma ’n paar dokters by verskillende hospitaal-komplekse besoek.  Ek bestuur en Ma navigeer.  Gelukkig, want sy ken daardie deel van Pretoria baie beter as ek.  Sy weet ook hoe werk die parkeerkaartjies by hierdie komplekse.  Dit is eitlik baie maklik.  Jy kry ’n kaartjie as jy by die hek ingaan, druk hom in die masjien voor jy uitgaan, betaal, druk hom weer in ’n masjien by die hek en daar gaan jy.

Ons doen dit toe so: 1) Druk die knoppie by die hek en kry ’n kaartjie.  Die hek gaan oop en ons parkeer. 2) Ons gaan in die hospitaal in en onthou dat die kaartjie nog in die kar lê.  Ek gaan terug om hom te haal. 3) Gaan uit die hospitaal uit na die kar en onthou ons het nie die kaartjie in die masjien by die deur gedruk nie. 4) Ek gaan terug, sonder geld want ons was minder as ’n halfuur daar, om die kaartjie ge”scan” te kry.  5) By die masjien staan: “0-30min: R4”.  So ek gaan terug om R4 te haal.  6) Ons het nie R4 nie, so ek gaan terug met R50 – die masjien vat mos note ook. 7) Die vriendelik sekuriteitswag lig my in dat die masjien nie kleingeld het nie, so ek gaan weer terug kar toe. 8) Na ’n soektog kry ons R1 in my beursie, R2 in Ma se beursie en nog R1 in die “push”-bakkie (dit is wat my kinders dit noem) van die kar. Ek gaan weer terug.  9) Ek druk die kaartjie in die masjien en wat sê hy? R6! Met al my rondlopery is ons toe al langer as ’n halfuur daar!  Die vriendelike sekuriteitswag lig my in dat ek ook by die hek kan betaal.  Daar het hulle kleingeld.  10) Ons gaan betaal by die hek, sonder probleme en kan aanbeweeg na die volgende dokter.

Daar herhaal ons die kaartjie-proses. Hierdie keer op die regte manier.  Ons onthou die kaartjie en ons het mos nou kleingeld gekry.  Maar:  Toe ons by die hek wil uit en ek druk die kaartjie in die masjien, weier hy om die kaartjie te sluk.  Ek druk weer en hierdie keer sluk hy, maar hy bly sê: “insert ticket”.  Ag, nou druk ons maar die rooi help knoppie en Help kom aangestap.  Help het ’n oranje baadjie aan en hy dra ’n sleutel.  Hy sluit die masjien oop en druk die kaartjie terug.  Ek druk die kaartjie weer in en daar gaan ons.  Uiteindelik!  En nee, ek het nie die kaartjie verkeerd ingedruk nie, die masjien het net slegte spysvertering gehad J

Saturday, 7 April 2012

Mzungu

In Zambië het ek geleer dat ek ’n Mzungu is.  Dit beteken baie dinge, maar dit beteken meestal dat ek ’n witmens is en dat ek  iemand is wat Chizungu (Engels) praat.  Ek weet natuurlik dat ek wit is, baie wit.  Ek kan dit nie help nie en ek gee ook nie om nie.  En ek praat Engels, in elk geval met hulle. Maar soms was dit vreemd om altyd as ’n mzungu uitgewys te word.

Ek het gister ’n blog gelees en in ’n spesifieke inskrywing het sy beskryf hoe sy dit ervaar om ’n mzungu te wees in die “compounds” van Lusaka.  Sy het regtig my gedagtes goed in woorde omgesit, al is sy in ’n ander sitasie as ek.  Hier is die paragraaf wat ek die meeste geniet het:

“When I am Mzungu, it is assumed that I speak English. It is assumed I have a lot of money. It is assumed I will walk around the compounds and then leave and never come back. It is assumed that I shop at the western style shopping malls on the other side of town. It is assumed that where I come from there is no corruption and no HIV and no nshima. It is assumed that when someone asks “How are you?” I will respond, “Fine,” because that is the mzungu answer to a mzungu question.”

Nou weet ek wat dit is wat my pla, dit is die voorveronderstellings.  Ja, ek praat Engels, maar ek is nie Engels (of ’n “American”) nie.  Ja, ek het meer geld as die meeste mense in Eastern Province, maar ek het nie baie geld nie.  Ja, ek het gekom en gegaan, maar ek het ook gebly en ek hoop om ook weer te gaan.  Ja, ek koop in ’n shopping mall as dit kan, maar ek koop ook op die mark en in die village.  Waar ek vandaan kom is baie korrupsie en HIV L en baie mieliepap J.  As iemand my vra “how are you”  sê ek “fine and you”, want dis wat ek in Zambië geleer het.  “Muli bwanji?  Bwino! muli bwanji?”

En vandag is ek ewe skielik nie meer ’n mzungu nie.  Ek is nog steeds wit en mense sien dit steeds, maar dit beteken nou ander dinge:

·         Dit kan beteken ek is wit soos al die ander om my.  Ek is Afrikaans.

·         Dit kan beteken ek is wit, een van die ligste skakerings van “menskleur” in die groep waarin ek my bevind.

·         Dit kan beteken ek is ’n “boer” of ’n simbool vir die sleg van apartheid.

Maar ek kan met al hierdie dinge saamleef, want ek weet ek is ook meer as dit.  Ek is ook ’n Afrikaan (African), al is dit vir sommige moeilik om te verstaan. Ek het nie net Afrika se stof aan my voete en son op my lyf nie, maar ek het ook Afrika se “ons-wees” in my hart.

En nog meer as dit:  Ek is ’n kind van God.

Thursday, 2 February 2012

voorregte

Vanoggend sit ek my wasgoed in die wasmasjien, my skottelgoed in die skottelgoedwasser (ek het ’n skottelgoedwasser!!! En dis wonderlik!!!) en ek stofsuig die huis.  Terwyl ek dink aan ’n vriendin in Zambië wat vanoggend gaan water haal by die gemeenskaplike pomp buite haar dorpie, die water dan warm maak op die vuur en haar wasgoed en skottelgoed met die hand was, voor haar huis onder die boom.  Sy vee ook haar huisie en erf silwerskoon met ’n grasbesem.  Haar kleutertjie speel langs haar in die stof en kou aan ’n groenmielie omdat haar tande jeuk.  As sy moeg word, gaan slaap sy in ’n chitenge op haar mamma se rug.  My klein aspetat speel met oulike speelgoed wat ontwerp is om haar te stimuleer.  Sy krap met groot vetkryte op ’n papier om te leer van blou en rooi.  Sy eet kasies en ander gesonde happies en kou aan ’n tandeborsel J omdat haar tande jeuk.  As sy moeg word gaan slaap sy in haar kot in die kamer.

En tog kan ek soms nie help om te wonder wie van ons nou eintlik die bevoorregte een is nie...


Friday, 20 January 2012

Asblikdag

Op Asblikdag word die al die vullis wat nog in die huis is na die groot vullisdrom verskuif en dit moet dat buite op die sypaadjie gaan staan en wag.  Dit moet vroeg gebeur, want niemand weet wanneer kom die lorrie nie.  Maar dit is meestal eers in die aand...  Dit is tog redelik eenvoudig?

Voorheen het ons nie asblikdag gehad nie.  Ons moes self ons vullis verbrand, begrawe, hergebruik of weggee.  Deesdae beland alles in die asblik en dit word iemand anders se vuil werk.  Ons wil graag sekere items herwin (recycle) en daarom word papier, plastiek, ens. eenkant gebêre.  Ons asblik is meestal vol doeke en ander jiggie goed.  Daarby is Pretoria-Noord warm en op hierdie stadium nat ook.  So, as jy dit nog nie self uitgewerk het nie:  Ons asblik is vol WURMS ~ ~ ~ ~ ~ ~ ~ ~

Ek dink dis nogal snaak om te sien hoe ek probeer om iets in die asblik te kry sonder om aan die asblik te raak J.  Wanneer ek daarmee suksesvol was, moet alles ingedruk word sodat die deksel mooi kan toegaan.  Ook sonder om aan die asblik te raak J J.  En dan moet ek die swaar vrag uitsleep straat toe terwyl ek met die een hand die hek oopmaak JJJ.  Dis die werklik rede hoekom dit vroeg in die oggend moet gebeur, voor iemand my sien.

Friday, 13 January 2012

S&M Ingenieur

Ek stap nou alleen.  En ek moet baie hard konsentreer om nie met myself te praat nie, want ek is nou al so gewoond aan loop-en-praat dat ek byna nie anders kan nie. Maar eintlik stap ek nie heeltemaal alleen nie, want Anel moet nog saam.  En dis nou waar die probleem begin het.  So 8 jaar terug het ons ’n stootwaentjie gekoop vir R100.  Hy werk nog goed, maar sy handvatsels is te kort vir my.  Dit was nog altyd ’n probleem, maar ek het nooit so baie met die waentjie geloop nie, so ek het nog altyd met dit saamgeleef.  Nou het dit net te erg geraak.  Gelukkig is ek met ’n S&M Ingenieur getroud en kon hy die handvatsels vir my langer maak.



S&M staan vir soek-en-maak, of sukkel-en-maak.  Dit is natuurlik ook ’n voordeel dat ’n mens trou met ’n man wat soos jou pa is.  Daarom is ek gewoond daaraan om in ’n huis te bly waar die kaassnyer ’n verfkwas-handvatsel het en waar jou eerste skedonkie se truspieëltjie met swartselotape (isolasieband) vasgeplak is sodat dit nie afwip nie.  My pa was amptelik ’n elektrisiën – dit beteken baie dinge in ons huis is met swartselotape reggemaak is.  Dit is vir my ’n absolute wonder dat hy nooit “ducktape” ontdek het nie.

En my waentjie werk wonderlik J

Friday, 6 January 2012

Hoover-ke-doover

Lank terug het ek gelees van ’n vrou wat haar “Hoover-ke-doover” ingespan het om ’n monster onder haar seuntjie se bed uit te suig.  Ek weet nie of dit haar stofsuier se regte naam was nie (dit is ook nie myne se regte naam nie), maar dit is nie van waarde nie.  Sy het in elk geval die monster suksesvol verdryf en in die Doover-monster se magie het sy ’n vrot appel, ’n stukkende Spiderman, ’n paar Lego-blokkies en  ’n kous-sonder-maat gevind.

Nou dat ek weer iewers bly waar ek ’n ondentlike Suig-monster het en elektrisiteit om die outjie mee te voer, het ek ook weer die waarde van so ’n gedoente besef.  Behalwe dat hy baie goed is met stof vreet, is hy ook handig om koekiekrummels, speelgoed en bababottels uit klein gaatjies te kry. 

En aangesien die bure nou binne hoor-afstand is, het ons sommige oggende ’n volwaardige Hoover-ke-doover-koor.  Op spesiale dae, soos Saterdae, sing daar ’n paar grasvretende monsters ook saam.