Onlangs moes ek saam met my ma ’n
paar dokters by verskillende hospitaal-komplekse besoek. Ek bestuur en Ma navigeer. Gelukkig, want sy ken daardie deel van
Pretoria baie beter as ek. Sy weet ook
hoe werk die parkeerkaartjies by hierdie komplekse. Dit is eitlik baie maklik. Jy kry ’n kaartjie as jy by die hek ingaan,
druk hom in die masjien voor jy uitgaan, betaal, druk hom weer in ’n masjien by
die hek en daar gaan jy.
Ons doen dit toe so: 1) Druk die
knoppie by die hek en kry ’n kaartjie.
Die hek gaan oop en ons parkeer. 2) Ons gaan in die hospitaal in en
onthou dat die kaartjie nog in die kar lê.
Ek gaan terug om hom te haal. 3) Gaan uit die hospitaal uit na die kar
en onthou ons het nie die kaartjie in die masjien by die deur gedruk nie. 4) Ek
gaan terug, sonder geld want ons was minder as ’n halfuur daar, om die kaartjie
ge”scan” te kry. 5) By die masjien
staan: “0-30min: R4”. So ek gaan terug
om R4 te haal. 6) Ons het nie R4 nie, so
ek gaan terug met R50 – die masjien vat mos note ook. 7) Die vriendelik
sekuriteitswag lig my in dat die masjien nie kleingeld het nie, so ek gaan weer
terug kar toe. 8) Na ’n soektog kry ons R1 in my beursie, R2 in Ma se beursie
en nog R1 in die “push”-bakkie (dit is wat my kinders dit noem) van die kar. Ek
gaan weer terug. 9) Ek druk die kaartjie
in die masjien en wat sê hy? R6! Met al my rondlopery is ons toe al langer as ’n
halfuur daar! Die vriendelike
sekuriteitswag lig my in dat ek ook by die hek kan betaal. Daar het hulle kleingeld. 10) Ons gaan betaal by die hek, sonder
probleme en kan aanbeweeg na die volgende dokter.
Daar herhaal ons die
kaartjie-proses. Hierdie keer op die regte manier. Ons onthou die kaartjie en ons het mos nou
kleingeld gekry. Maar: Toe ons by die hek wil uit en ek druk die
kaartjie in die masjien, weier hy om die kaartjie te sluk. Ek druk weer en hierdie keer sluk hy, maar hy
bly sê:
“insert ticket”. Ag, nou druk ons maar
die rooi help knoppie en Help kom
aangestap. Help het ’n oranje baadjie
aan en hy dra ’n sleutel. Hy sluit die
masjien oop en druk die kaartjie terug.
Ek druk die kaartjie weer in en daar gaan ons. Uiteindelik!
En nee, ek het nie die kaartjie verkeerd ingedruk nie, die masjien het
net slegte spysvertering gehad J
No comments:
Post a Comment