Saturday, 24 November 2012

uiteet in Petauke

(Nog 'n storie wat ek geskryf het voor my blog-dae - iewers in 2010)

Is jy lus om vanaand te gaan uiteet?

Natuurlik!

 
Maar helaas! Uiteet in Petauke is nie so eenvoudig nie!

In die eerste plek kan ons nie kies waar ons wil gaan eet nie.  Daar is net eetplek wat iets anders as nshima verkoop.  Volgens Zambiese standaarde is dit 'n baie luukse plek en ons beskou dit ook as 'n lekker eetplek.


Vanaand kom ons onaangekondig daar aan en ek spring gou uit om te hoor of hulle wel oop is.  Ons het al daar aangekom net om te hoor hulle is toe want, “the cook is tired”.

Vanaand kry ons egter 'n heel ander antwoord: “ Yes, we are open for food. We are always open!”
Ja…

 
Dit moet seker vir hulle vreemd wees dat ons daar met ons kinders aankom, maar die eienares en haar man kom groet ons persoonlik en praat ook vriendelik met die kinders.  (Ons is immers gereelde gaste!  Eet seker 2 keer per jaar daar!)

 
Die tafel is pragtig gedek, met afrika patrone op die tafeldoeke en blomme uit  hul eie tuin.  Die eetgerei is eenvoudige “kombuis-eetgerei” maar na n paar jaar in die bedryf het hulle darem nou genoeg van een soort sodat daar nie meer 'n mengelmoes messe, vurke en borde op die tafel beland nie.

 
Ons bestel nie sop vanaand nie.  Dit is altyd op die spyskaart, maar uit ervaring het ons al geleer dat dit (en nagereg) slegs beskikbaar is as jy dit vooraf bestel.  Die sop wat ons al daar geeet het is heerlik!  Dit is van knorr se pakkies sampioensop met bietjie uie en sout en peper bygevoeg.  Dit ontdek 'n mens as iemand aan tafel vra na die inhoud van die sop (agv allergiee).  Die kelner kom ewe vriendelik met die pakkie daar aan sodat sy die “ingredients” kan lees.

 
Nee, vanaand bestel ons sommer saam met ons koeldrank al die hoofgereg.  Jammer, hulle het nie beef nie, so hoender-roerbraai sal dit wees.  Die kinders bestel worsie met chips.  So halfuur later (ons het al vir n tweede keer koeldrank bestel) kondig die kelner aan dat hulle net 1 hungarian worsie oor het.  Kan hy maar vir die ander kind 'n beef worsie gee?  Ons stem in, hulle kan maar deel as hulle stry.

Nog 'n halfuur later (nou is ons koeldrank heeltemaal op!) kom die kos.  Heerlik!  Die kinders deel die hungarian en raak nie aan die boerewors nie…

 
Dit is gelukkig nie baie moeilik om so lank vir die kos te wag nie, want vanaand is hier genoeg mense om dop te hou.  Dit is nou nadat dit donker geword het, want eers het ons in die tuin rondgestap met die kinders.  Daar was n vergadering van chiefs in 'n nabygelee dorpie en hulle slaap almal vanaand hier oor op pad terug na Lusaka.  Hulle teenwoordigheid is aangekondig deur die GROOT 4x4’s en LANG duur karre in die parkeerterrein.  Nou sien ons die groot(!) en belangrike manne in lewende lywe.  Hulle is netjies aangetrek in meestal swart pakke met dasse en blink skoene.  En wat bestel hulle?  Village Chicken met nshima!  En dit word natuurlik met die hande geeet, want nshima proe net eenvoudig nie dieselfde as dit nie in 'n bolletjie gerol word nie! 

 
Na ons heerlike aandete waag ons dit tog om vir poeding te vra. 

Nee daar is niks. 

Wat van koffie?

Ja, dit het hulle

Hierdie keer wag ons nie so lank nie.  Toe word daar 'n fles met kookwater, 'n blikkie Ricoffee, 2 bekers en suiker voor ons neergesit…

”Do you want milk also?”

Terwyl ons vir die melk wag, maak ons maar koffie.

Waar draai die melk tog? Moes hulle eers die koei gaan vang?

Nee, hier kom die kelner, weer met n groot smile:  Hy moes eers die melk gaan warm maak…

 
Nouja, dis miskien nie uiteet soos in SA nie, maar ons het lekker geeet.  En ons hoef nie die skottelgoed te was nie!

No comments:

Post a Comment