Wednesday, 21 March 2018

Tuis?


“Is julle al tuis in Walvisbaai?”  Ons hoor dit so vreeslik baie, daarom sal ek maar probeer antwoord:

Ons voel al tuis.  Meestal.  Totdat ons weer met iets nuuts te doen het.  En dit gebeur nogal baie.  So soms voel ons maar baie vreemd.  Tog leer ons baie dinge.

Ons het al mooi geleer hoe werk die weer:  As dit nie bewolk is nie, skyn die son.  As die wind nie waai nie, gaan hy nou-nou waai... Warm en koud is soos die verkeersligte in Lusaka (Hul kleurverandering het niks te doen met die vloei van die verkeer nie). Dit is die weer, behalwe as die Oosweer kom.  Wat weet ek van Oosweer?  Heeltemal niks! Maar dit is hoe almal die weer vir my verduidelik.  Elkeen gee sy eie weergawe van die weer en eindig dat met: “Behalwe as ons Oosweer het...” Om dit op te som:  Jy gaan nêrens heen sonder ’n baadjie en ’n sonbril nie.

Ons begin ook al ons rigting vind.  Toe ons hier gekom het, het ek gewonder hoe ek ooit die straatname gaan onthou.  Theo-Ben Gurirab en Peter Mueshihange is al erg genoeg, maar wat van Gertrude Rikumba Kandanga Hilukilwa?  Ja, dit is net een straat...  As jy die GPS volg, draai jy in daardie straat lank voor die Tannie op die GPS klaar is met die naam.  Dus het ek maar begin om die strate nuwe name te gee:  Die skool se straat, die kerk se straat, Shoprite se straat en die hawe straat ens.  Ek het ook gou agtergekom niemand anders gebruik die straatname nie.  As jy vir hulle vra waar is die haarkapper, dan sê hulle: Daar by Bank Windhoek.  Waar is Bank Windhoek?  Naby die Puma garage.  En waar is die Puma garage?  Daar op die hoek waar daar voorheen ’n vlooimark was...  Onthou:  as jy my in die kamer in die rondte draai met my oë toe, gaan ek nie weet waar is links en regs as ek my oë weer oopmaak nie.  So ek het al verdwaal lank voor iemand vir my klaar verduidelik het.  Hoekom gebruik niemand straatname nie?  Wel, dis heel duidelik te moeilik.  Daarby het die name verander en hulle ken nie al die nuwe name nie.  Die naambordjies is ook nie altyd daar nie of hulle is nie duidelik nie.  Dit roes weg en waai toe.  Maar ons leer...

Ons kom ook agter dat die munisipaliteit hier moet aandag gee aan dinge wat nie vir elke munisipaliteit ’n probleem is nie.  Soos die naambordjies wat wegroes.  Die hoogwater wat die paadjie langs die lagoon wegspoel.  Vis en ander goed wat uitspoel om die strand.  Die woestyn wat in die dorp in waai.  Of is dit nou die dorp wat in die woestyn in waai?  En die lagoonsand wat ’n duin langs die pastorie bou.
Ons voel al baie tuis.  Behalwe as ons verdwaal. Of wegwaai. Of ’n halfuur te vroeg iewers aankom omdat ons die verkeer ingereken het. Of die ruitveërs aansit om beter te kan sien en dan agterkom ons kan nou glad nie meer deur die voorruit sien nie.  Maar ons leer.






Monday, 22 May 2017

Nog steeds 'n Tentwoning

Hierdie stories het begin met ons lewe in Zambië.  Omdat ons lewe daar so voor die hand liggend tydelik was, het dit my laat dink aan die “tentwoning” waarvan ons in die Bybel lees.  Ons kan so maklik dink dat ons lewe hier permanent is.  Dat ons huis en dorp ons tuiste is.  Maar dat gebeur daar dinge wat ons weer herinner dat ons ewige tuiste nie hier is nie.

‘n Ruk gelede was ons by die 80ste verjaarsdag van ‘n oom in ons gemeente.  By die vieringe het hy ook ‘n spreekbeurt gekry en een van die dinge wat hy gesê het is dat hy bewus word van hoe hy en sy vriende oud word.  Hy sien hoe hyself al hoe meer sukkel om flink te beweeg, goed te hoor en goed te sien.  Hy sien hoe sy vriende van kieries, rolstoele, brille en gehoorapparaatjies gebruik maak om beter oor die weg te kom.  Hy sien hoe sy vriende siek word en sterf.  Hy sien as’t ware hoe sy aardse tentpenne uitgeruk word, want hy is besig om te verhuis na ‘n ewige woning.

Ons bly nog steeds in ons tydelike permanente aardse tent in Pretoria. Voorlopig.  Want daar word aan ons tentpenne ook geruk.  Nie met siekte of dood nie, maar met nog ‘n groot trek.  Ons trek DV aan die einde van die jaar Walvisbaai toe. 
Ons sien uit na die nuwe uitdagings.  Ons glo dit is God se roeping vir ons en dat dit daarom ook alles ten geode sal meewerk, maar dit maak seer om weer weg te gaan.  Om weer te groet en oor te begin. 


Dit voel asof daar ‘n stukkie van my hart afbreek en agterbly elke keer wanneer ons verskuif.  En tog besef ek: Eendag in die hemel, sal ek weer al die stukkies bymekaar kan maak.


Saturday, 16 April 2016

Mamma-wees

Ek het vanoggend ekstra vroeg opgestaan, almal se kosblikke en ander skool benodighede reggekry, myself reggekry en net toe die kinders hulle ogies oopmaak het ek hulle gegroet en werk toe gery.  Bietjie meer as ‘n uur en ‘n hele paar padvarke en moontlik ongelukke verder, is ek veilig by die werk.  

Daar stoei ek met ‘n paar studente wat nie wil werk nie, stoei saam met ‘n paar ander wat wil werk en geniet die vreugde van die wat dit regkry.  Na ‘n vinnige middagete durf ek die pad terug aan en kom moeg by die huis.  Nou kan ek lekker gaan rus met ‘n koppie koffie...

Toe ek voor die huis stop hang Cobus by sy kamervenster uit:  “Hallo Mamma, hoeveel grade Celsius is daar is 1220 grade Fahrenheit?”  Ek gee vir hom “google-instruksies” terwyl ek die voordeur oopsluit.  
Toe die deur oopgaan sê Nelrie: “Hallo Mamma, wat is die grootste een vyfde of vyf tiendes?”  Ek teken vir haar ‘n prentjie en gaan sit die ketel aan.  
Net toe ek die koffiebeker uit die kas haal, onthou ek daar is nie vanaand tyd vir kosmaak nie, so ek moet nou die vleis in die oond druk.  Ek staak dus die koffiemakery en sorg vir aandete.  
Intussen het Pappa by Nelrie gaan sit waar sy huiswerk doen, maar sy roep haar volgende Wiskunde vraag kliphard na my in die kombuis.  (Net vir die rekord: Pappa is baie slimmer met Wiskunde as ek...). 

Dit was nog nie die einde van die dag nie, maar ek dink julle kry die idee.
En ek wonder:  Hoeveel keer op ‘n dag hoor ek “Mamma, mamma...”  en hoekom roep die kinder my net nadat ek hulle in die bed gesit het en as ek daar kom vra hulle:  “Roep asb vir Pappa dat ek vir hom kan nag sê.” ?



(Lees gerus ook "Mammas en mondsalf" wat iets soortgelyks uit 2013 vertel)

Friday, 21 August 2015

Op sy tyd


Ons stap nou weer in die middae.  Dit is ‘n ander “ons” en ‘n ander omgewing, maar die stap is nogsteeds dieselfde “walk-and-talk” wat ek in Zambië leer ken het.

Tydens een van die stapsessies, raak ons asems op aan die bokant van ‘n bult (ons bly langs die berg, so dit is redelik moeilik om te stap sonder om iewers opdraande te loop).  Ons kan nie meer stap nie en ons kan ook nie meer praat nie, so ons stop maar en begin rondkyk.

Ons sien toe dat ons onder ‘n baie interessante boom gestop het.  Hy het dorings aan sy stam en groot oval-vormige peule.  Ons is vreeslik nuuskierig en besluit om by die huis te gaan opsoek watse soort boom dit is.  Maar, uit die oog uit die hart... so toe ons ‘n paar dae later weer by die boom kom, besluit ons om een van die peule te pluk en by die huis te gaan ondersoek.


Die saad gaan toe huis toe waar ons verskillende metodes probeer om die peul oop te kry.  Toe iemand sy vinger lelik raaksny in die proses, beland die ding in die asblik en ons vergeet daarvan.

Siektes en skedules het ons vir ‘n ruk lank daarvan weerhou om te gaan stap, maar toe ons hierdie week weer teen die bult uit stoom, wag daar vir ons ‘n verrassing!  Die peule het oopgebars en nou hang daar “skapies” aan die boom! Te pragtig!

Die harde buitekant wat ons op geen manier kom oopkry nie, is nou dun en breekbaar en die saad aan die binnekant wollerig, katoen-agtig, soos watte. (As jy dit nog nie kon raai nie – dit is ‘n Kapokboom).  Met baie wysheid maak my vriendin die opmerking: “Dit was nog nie sy tyd nie.”


Ek onthou toe van ‘n lied wat ons geleer het: “He makes everything beautiful in its time”. Ek weet dit is ‘n Bybelversie, maar moes dit ook eers tuis gaan opsoek.

Prediker 3 (Hierdie is uit die Ou Afrikaanse Vertaling): “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd: ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe...”  en dan vers 11: “Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd;”

Ek dink dit is hoe God die natuur gebruik om ons lesse te leer.  Soms wil ons weet wat die toekoms vir ons inhou.  Ons wil weet wat die uiteinde van ‘n situasie gaan wees.  Ons wil hê ons kinders moet so gou moontlik iets (soos “potty training”, fietsry of verantwoordelikheid) aanleer. Dan pluk ons spreekwoordelik die ding af en probeer hom oopkap.  Ons karring en karring tot ons seerkry en dan gee ons moed op en gooi die ding weg.  As ons maar net geduldig gewag het dat God dinge op sy tyd laat gebeur. Want, soos die res van Prediker 3:11 sê: “ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end kan uitvind.” Ons kan dit dalk makliker verstaan in die Nuwe Vertaling: “maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd.  Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.”


Ek hoop dat ongeduldige ek geleer het dat ek moet wag totdat God ‘n ding mooi maak op die regte tyd.

Wednesday, 12 November 2014

Troeteldier Manewales "Hoofstuk 4"

(18 April 2011) 

Nou die aand toe ons gaan slaap is die klein katjies weg.  Ons het oral gesoek in die huis.  Ons sit Makat toe maar buite en gaan slaap.  Later word ons wakker van n geskarrel en snaakse brom geluidjies.  Die babas is toe agter ons kas.  Toe ons hulle gesoek het, het hulle seker in die holte onder die kas ingekruip.  Ek kon een in die hande kry, maar die ander twee was te ver.  Toe slaap ons maar weer, maar n rukkie later maak hulle ons weer wakker.  Heinrich het natuurlik baie min geduld met die goedjies en gaan haal die besem.  Daarmee “hark” hy hulle nader en ek moet in die gaatjie inkruip om hulle te vang.  Toe kan ons weer slaap.
Vandag het ons sandput sand gekry.  Die student wat dit moes haal, kon glad nie die oefening verstaan nie.  Uiteindelik het hy gesê: “Madam, I understand now.  In SA you are used to the beach and now you want to bring the beach here.”  Ek moes toe maar sy bubble bars en vertel dat ons ver van die see gebly het.  Maar hy kon darem sien hoe bly die kinders oor die sand is.  Ongelukkig is Kieties ook bly daaroor en hulle het hulself dadelik gaan tuismaak op hierdie reuse toilet…  Ek moes toe maar uitskep, sout gooi en van nou af seker maak die seil is oor as ons nie naby is nie.

(24 Mei 2011)

So 2 weke terug het die babakatjies getrek.  2 van hulle het na ons bure getrek en dit het Makat nie so lank gevat om dit uit te vind nie.  Nou het hulle al hul dae om ons kat uit hulle huis te hou en om hulle katjies daar te hou.  Sy kan nou maar eenmaal nie verstaan hoekom sy 200m van haar kinders af alleen in ’n ander huis moet bly nie!  Ons enigste hoop is dat sy een van die dae weer dragtig sal wees en dan van hulle vergeet!

En so kom ons aan die einde van hierdie katte-verhaal.  Dit was nie regtig die laaste hoofstuk van ons troeteldiere nie, maar dit is al vir eers.


Monday, 10 November 2014

Troeteldier Manewales "Hoofstuk 3"


 (8 April 2011) 

Ons kat (die nuwe makat) het die manier om haarself in die vreemdste posisies te bevind.  ’n Week of so terug het sy op die bed geklim en van die bed af agter die kas ingeval.  Die bed en die kas staan teen mekaar en toe ons haar kry, staan sy op haar agterpote agter die kas met haar voorpote bokant haar kop en sy kry haarself nie daaruit nie!  Gisternag het sy by die venster probeer uitklim, maar die vensters het gaas voor, so sy kan nie. Sy klim toe deur die “lever” venster en toe sy op hom trap gaan hy toe.  Toe sit sy tussen die gaas en die glas…  Ons word wakker van haar benoude miaau en toe moes ek een van die glaspanele uithaal op haar te bevry.  Ai.

Anel (11 maande) het die babakatjies ontdek en sy dink hulle is baie oulik.  Hulle is nogal kwaai en as hulle vir haar spoeg (om haar bang te maak) lag sy haar pap!  Hulle maak ook sulke oulike mieeu geluide as sy hulle lank genoeg skud…  So ons probeer maar dat sy nie sonder toesig met hulle speel nie.

Die duif-probleem het homself opgelos.  Die duif het toe uiteindelik gesterf aan sy wonde.  Heinrich moes net hard probeer om nie daaroor te smile voor die kinders nie.  So vandag het ons begrafnis.




Saturday, 8 November 2014

Troeteldier Manewales "Hoofstuk 2"

Sondag gaan Cobus saam met Heinrich en Oupa kerk toe en hy kom terug met ’n geskenk.  Nie ’n hoender nie, maar ’n duif!  Wat moet ons nou met ’n duif doen???  Ons maak hom toe maar tydelik in die wasgoedmandjie toe en gaan eet by die bure.  Toe ek vinnig terugkom om Anel se doek te ruil, is ek net betyds om te sien hoe die kat die duif aan die poot met wasgoedmandjie en al rondsleep!  Ek sluit toe maar elkeen in sy eie kamer toe en gaan terug.  Later die aand kom ons terug en verwag om ’n dooie duif te kry, maar hy lewe nog.  En die volgende oggend lewe hy nog!  

Bilison sê die duif mag op die plaas in die hoenderhok kom bly, maar teen die middag is hy terug met sy halwe afpoot – die katte kom daar ook in…  Toe is die duif in die badkamer.  En die kat in die skoolkamer.  So ons het amper ’n spietkop nodig om die verkeer te reguleer – watter deur moet wanneer oop.  En die kat dwaal met elke moontlike geleentheid voor die badkamerdeur rond, want dalk gaan die deur oop…

Gelukkig het Pa en Oupa ’n plan gekry en die hokkie opgehang, nou kan die kat nie bykom nie.  Ongelukkig moet ons die hokkie oor drie weke teruggee vir die plaas, so ons hoop maar die duif kan dan al vlieg, want Cobus het ingestem om hom vry te laat.

Dit is darem so lekker om troeteldiere te hê!

in die hokkie


Hoe gaan ek daar bykom?