“Is julle al tuis
in Walvisbaai?” Ons hoor dit so vreeslik
baie, daarom sal ek maar probeer antwoord:
Ons voel al
tuis. Meestal. Totdat ons weer met iets nuuts te doen
het. En dit gebeur nogal baie. So soms voel ons maar baie vreemd. Tog leer ons baie dinge.
Ons het al mooi
geleer hoe werk die weer: As dit nie
bewolk is nie, skyn die son. As die wind
nie waai nie, gaan hy nou-nou waai... Warm en koud is soos die verkeersligte in
Lusaka (Hul kleurverandering het niks te doen met die vloei van die verkeer
nie). Dit is die weer, behalwe as die Oosweer kom. Wat weet ek van Oosweer? Heeltemal niks! Maar dit is hoe almal die
weer vir my verduidelik. Elkeen gee sy
eie weergawe van die weer en eindig dat met: “Behalwe as ons Oosweer het...” Om
dit op te som: Jy gaan nêrens heen
sonder ’n baadjie en ’n sonbril nie.
Ons begin ook al
ons rigting vind. Toe ons hier gekom
het, het ek gewonder hoe ek ooit die straatname gaan onthou. Theo-Ben Gurirab en Peter Mueshihange is al erg
genoeg, maar wat van Gertrude Rikumba Kandanga Hilukilwa? Ja, dit is net een straat... As jy die GPS volg, draai jy in daardie
straat lank voor die Tannie op die GPS klaar is met die naam. Dus het ek maar begin om die strate nuwe name
te gee: Die skool se straat, die kerk se
straat, Shoprite se straat en die hawe straat ens. Ek het ook gou agtergekom niemand anders
gebruik die straatname nie. As jy vir
hulle vra waar is die haarkapper, dan sê hulle: Daar by Bank Windhoek. Waar is Bank Windhoek? Naby die Puma garage. En waar is die Puma garage? Daar op die hoek waar daar voorheen ’n
vlooimark was... Onthou: as jy my in die kamer in die rondte draai met
my oë toe, gaan ek nie weet waar is links en regs as ek my oë weer oopmaak
nie. So ek het al verdwaal lank voor
iemand vir my klaar verduidelik het.
Hoekom gebruik niemand straatname nie?
Wel, dis heel duidelik te moeilik.
Daarby het die name verander en hulle ken nie al die nuwe name nie. Die naambordjies is ook nie altyd daar nie of
hulle is nie duidelik nie. Dit roes weg
en waai toe. Maar ons leer...
Ons kom ook agter
dat die munisipaliteit hier moet aandag gee aan dinge wat nie vir elke
munisipaliteit ’n probleem is nie. Soos
die naambordjies wat wegroes. Die
hoogwater wat die paadjie langs die lagoon wegspoel. Vis en ander goed wat uitspoel om die
strand. Die woestyn wat in die dorp in
waai. Of is dit nou die dorp wat in die
woestyn in waai? En die lagoonsand wat
’n duin langs die pastorie bou.
Ons voel al baie
tuis. Behalwe as ons verdwaal. Of
wegwaai. Of ’n halfuur te vroeg iewers aankom omdat ons die verkeer ingereken
het. Of die ruitveërs aansit om beter te kan sien en dan agterkom ons kan nou
glad nie meer deur die voorruit sien nie.
Maar ons leer.
No comments:
Post a Comment