Hierdie
stories het begin met ons lewe in Zambië. Omdat ons lewe daar so voor die hand liggend
tydelik was, het dit my laat dink aan die “tentwoning” waarvan ons in die Bybel
lees. Ons kan so maklik dink dat ons
lewe hier permanent is. Dat ons huis en
dorp ons tuiste is. Maar dat gebeur daar
dinge wat ons weer herinner dat ons ewige tuiste nie hier is nie.
‘n Ruk
gelede was ons by die 80ste verjaarsdag van ‘n oom in ons gemeente. By die vieringe het hy ook ‘n spreekbeurt
gekry en een van die dinge wat hy gesê het is dat hy bewus word van hoe hy
en sy vriende oud word. Hy sien hoe
hyself al hoe meer sukkel om flink te beweeg, goed te hoor en goed te
sien. Hy sien hoe sy vriende van kieries,
rolstoele, brille en gehoorapparaatjies gebruik maak om beter oor die weg te
kom. Hy sien hoe sy vriende siek word en
sterf. Hy sien as’t ware hoe sy aardse
tentpenne uitgeruk word, want hy is besig om te verhuis na ‘n ewige woning.
Ons bly nog
steeds in ons tydelike permanente aardse tent in Pretoria. Voorlopig. Want daar word aan ons tentpenne ook
geruk. Nie met siekte of dood nie, maar
met nog ‘n groot trek. Ons trek DV aan
die einde van die jaar Walvisbaai toe.
Ons sien
uit na die nuwe uitdagings. Ons glo dit
is God se roeping vir ons en dat dit daarom ook alles ten geode sal meewerk,
maar dit maak seer om weer weg te gaan.
Om weer te groet en oor te begin.
Dit voel
asof daar ‘n stukkie van my hart afbreek en agterbly elke keer wanneer ons
verskuif. En tog besef ek: Eendag in die
hemel, sal ek weer al die stukkies bymekaar kan maak.
Gelukkig bly daar ook mooi stukkies van julle agter oral waar julle penne ingeslaan was. Ook hier in Heidelberg. Ons verlang na julle. Seën met die nuwe roeping. Charl
ReplyDelete