Sunday, 25 September 2011

In die Moederskamer

Ek het hierdie storie al 20 Maart geskryf en sommige van julle sou dit al in die Vroueblad gelees het.

                                                                          ~***~

Baie predikantsvroue en vroue van teologiese studente weet hoe dit is om elke Sondag in ’n ander moederskamer jou baba te probeer kerkmaniere leer.  En ek het gedink met my derde kind behoort ék al moederskamer-maniere te ken, maar dinge in Zambië se afgeleë, plattelandse kerke werk dinge so bietjie anders…

2 Mammas, 2 babas, 2 kinders (wat nie gelykop tussen die mammas verdeel kan word nie) en 2 sambrele in die bloedige son op ’n grasmat saam met nog 4 ma-lose Zambiese kinders en een vrou.  Dit was vandag ons moederskamer in ’n jong kerk in Petauke.  En O, ja, dit was in die middel van die kerkgebou.  Ek is ook nie so seker of ’n mens dit ’n kerkgebou kan noem nie.  Eerder ’n kerkstruktuur.  Dit bestaan uit bakstene wat in die vorm van gebou gepak is. So knie-hoogte. As jy vir jou ’n stoel wil maak, dan vat jy sommer van die boonste stene en stapel dit opmekaar.  Ons was die besoekers en daarom was ons so bevoorreg om ’n mat te kry.  Die stene was almal nat van gister se reën.  Ons mans het stoele voor in die kerk gekry, want hulle is mos dominees.  En daar is natuurlik nie ’n dak nie, net stokke in die vorm van die dak.  Sodra die droë seisoen aanbreek en die gras word droog, sal hulle ’n dak opsit.  Hulle het darem ook meer planne vir uitbreiding, want rondom die stuktuurtjie is die fondamente vir hulle nuwe kerkgebou.


Heinrich preek en Moses vertaal, sy tweeling Martha en Maria staan langs hom.

Die kinders was natuurlik baie tevrede om op die mat te sit.  Anel wil net graag met die modder speel wat rondom die mat is.  En as ek dit nie toelaat nie, gaan “steel” sy maar haar vriendjie se speelgoed, want dit is mos baie beter as haar eie!  Die ouer twee was miskien tevrede met die mat, maar nie met die son nie.  En omdat ek sukkel om vir Anel en sambreel vas te hou, het ek toe maar die sambreel vir hulle gegee om vas te hou.  Nouja, toe het ons ’n nuwe probleem, want wie se beurt is dit nou om die sambreel vas te hou?  En as Cobus die sambreel vashou, beland Nelrie se voete in die son en as Nelrie die sambreel vashou, hang sy hom aan die vrou se hare op.


Laasweek was die moederskamer ook op ’n grasmat.  Maar toe was dit voor (!) in ’n klaskamer.  Aan die begin van die diens het ek gedink dit is heerlik, want nou is daar plek vir Anel om so bietjie rond te kruip en ek kan lekker met my rug teen die muur sit.  Cobus het by vriende gesit en Nelrie by ons. Maar so by die 3de lied het die prentjie verander, want toe kom die katkisasiekinders in en hulle kom sit al 15 saam met my op die mat.  Nelrie het gou benoud geraak en na Pappa gevlug, maar daar was nie plek vir my en Anel nie. Natuurlik interesseer die wit babatjie die kinders vreeslik, so hulle moes eers almal aan haar voel (wat veroorsaak dat hulle nog nader aan my skuif). Daarna het so een of twee probeer om haar op te tel, maar sy wou nie saamspeel nie.  Die laaste stap was dat hulle met hul vingertjies meet hoe dik ons lekker vet babatjie se armpies is.  Dit verstom almal hier dat sy so “groot” is, terwyl sy in SA net as ’n normale gesonde baba aangesien sal word. Haar speelgoed is ook interessant en hulle blaai deur die plastiekboekie met diereprente asof hulle eksamen daaroor gaan skryf.  Sy hou daarvan om houertjies oop en toe te maak. Ongelukkig het ek hierdie keer een met ’n draaiproppie gevat en dit is nog bo haar vuurmaakplek.  Daarom het ek die doppie losgedraai en sy kan dit dan opsit en afhaal om haar besig te hou.  Maar een van die kinders het besluit die doppie moet vas.  So elke keer as sy die houertjie laat val, draai hy die doppie vas en gee dit vir haar terug.  En dan gil sy, want sy kry die doppie nie af nie! Gelukkig was die outjie wat langs my gesit het baie behulpsaam – hy het elke keer die lied in die boekie opgesoek en al het hy dit eers by die tweede versie opgespoor, het dit nie saak gemaak nie, want hulle sing in elk geval al die versies.  Die res van die moederskamer was agter in die kerk onder een van die tafels.  My vriendin se baba het lekker daar gelê en slaap.  Op ’n chitenge waarmee sy vir hom bed gemaak het.  Toe Anel ook benoud begin raak tussen al die kinders het ons maar agter in die klaskamer gaan staan totdat die dominee klaar gepreek het.  Hy preek baie goed, maar lank en daarom duur die erediens gewoonlik ongeveer twee ure.



Is dit nog die moeite werd om kerk toe te gaan met al die chaos?  Moet ek nie maar eerder rustig by die huis bly sodat Anel in haar eie bed kan rus en kan rondbeweeg soos sy wil nie?  Ek hoor dan in elk geval niks van die preek nie.  En aan die einde van die dag is ek moeg en my arms is seer van die gestoei met die kleingoed.  Maar tog kan ek nie wegbly nie, want dit is wonderlik om saam met mede Christene te kan sing en om met hulle te gesels voor en na die erediens.  Selfs Anel begin al saam “sing” en sy klap handjies en dans soos ’n regte Zambiër.  En ek hoor ook nie regtig niks van die preek nie.  Soms hoor ek net presies die sin wat vir my bedoel was! So volgende week pak ek weer die doeksak en gaan ondersoek ’n nuwe moederskamer.  Hierdie keer dalk onder ’n groot mangoboom.

Tuesday, 20 September 2011

Chitenge

’n Chitenge is ’n lap.  Sommer net ’n gewone lap.  Ongeveer ’n meter breed en 180cm lank.  En glad nie duur nie.  Dit kos minder as R20.  Hulle is nie almal dieselfde nie.  Almal se kwaliteit is ook nie ewe goed nie.  En hulle verskil baie in patroon en kleur.  ’n Klomp chitenge bymekaar is ’n regte bondspul.  Vrolik!

 

Maar wanneer jy ’n chitenge begin gebruik, kom jy agter dat dit nie sommer ’n gewone lap is nie.  Dié lap is veeldoelig.

Dit kan ’n rok wees as jy hom om jou lyf draai. “One size fits all”.  Dit is nogal ’n goeie swangerskaprok.  Jy kan dit om jou hele lyf draai as jy langs die swembad is.  Dit is ook ’n drasak waarin jy jou baba op jou rug vasmaak.  Jy kan natuurlik ook jou inkopies, mielies of enigiets anders daarmee op jou rug vasmaak.




As jy dit vir ’n rok dra, gebruik sommer die onderste punt om jou kleuter se neus af te vee en die boonste punt om jou geld in vas te knoop.  Dit is tog meer kuis as om jou geld of selfoon in die “Afrika-beursie” te bêre.

Dit kan ook ’n lap wees om op te sit in plaas van ’n grasmat, ’n baadjie teen die koue, ’n babakombersie, hondekombers, tafeldoek, skroplap, toiletpapier en ’n babadoek.  Wanneer jy ’n klomp goed daarmee saambind en dan op jou kop laai, is dit ’n tas.

In sy verwerkte vorm word ’n chitenge ’n “suit”.  Dit is ’n romp en bloes uit dieselfde materiaal.  Ook gordyne, ’n wasgoedsak, handsak, ’n rokkie vir sussie, ’n hemp vir pappa of ’n kopdoek (chitambala).





Die “Indian shops” kry gewoonlik groot rolle materiaal en sny dit dan op in chitenge-grootte.  Dit is dus glad nie vreemd om ander vroue te sien wat dieselfde rok as jy aan het nie.  Jy kry ook gereeld die gevoel van: “Daar loop my gordyn!” of “Sy het my hond se kombers aan!”

By een van ons vroue konferensies was die geskenk ’n chitenge en chitambala.  Almal in dieselfde kleur, maar drie patrone – blomme, blokkies en kolle.  Dit is dus beslis ’n uniform wat ons gereeld weer sien.


Gelukkig is die vroue en kleremakers baie kreatief, so selfs al dra almal dieselfde materiaal, lyk die rokke totaal verskillend.


Sunday, 18 September 2011

Soek en jy sal vind

As ’n mens kinders het, kry soek ’n nuwe betekenis.  En dit help nie meer om te sê “gaan kyk op sy plek” of “waar het jy hom laas gebruik?” nie.  Hoekom?  Want dit kry voete.  Klein, sagte, lomp, baba voetjies of growwwe, vuil, seuntjie voete.

So het ons al ure (dae? Maande?) se tyd gebruik om dinge wat weg is nie te kry nie.  En wanneer ons dit kry (natuurlik wanneer jy dit nie soek nie), is dit op die vreemdste plekke!

Hopklei in die muskietnet – gelukkig was dit nie “prestick” nie.

My skoene, na 2 weke, in die lou-oond.  Ek het ook al bakkies met blokkies en gemufte brood in die lou-oond gekry, want dit is mos waar daar gekook word!  Miskien wou hulle tekkie-pastei maak…

Karsleutels – nogal iemand anders sin – in ’n skoen, in die kas.  Dit was maande later!  Dit was somer en die sleutel was in winterskoene.  Gelukkig het die mense ’n spaar sleutel gehad.

Ek het ook al my kind, met ’n pot, in die tuin gevind.  Hard besig om sandkoekies te kook.  Eintlik pas dit nie hierby nie, want toe het ek vir Cobus gesoek en nie die pot nie…

En dan is daar natuurlik die gunsteling speelding: Lala.
Lala (omdat hy lank terug kon sing) doen alles saam met Cobus.  Boomklim, blokkies bou, inkleur, eet en nog vele meer.  Dit het begin toe hy 20maande oud was en op amper 8 moet Lala nog steeds soms saam met hom skoolgaan.  In elk geval, Lala klim boom en dan vergeet hy om in die huis in te kom vir aandete.  As dit dan bedtyd is, is dit die GROOT SOEK, want Lala moet kom slaap.  Lala was al in die boom, in die kas, onder die bed, in die koelboks, binne in ’n karretjie, karstoeltjie, stootwaentjie, die lys is lewenslank.  Ons het ook al vir Lala in die bed gekry, nadat ons die hele huis omgekeer het!

Oor tietiebottels en spoegdoeke (Anel en Nelrie se gunstelinge), moet ek liewer nie eers begin skryf nie.  Miskien kan ek 'n boek hieroor skryf, want 'n blog is te kort. Ek wens ek kan al die snaakse plekke onthou waar ons dinge gevind het. 

Selfs al is 2 van hulle nou groter, help dit steeds nie om te sê “gaan soek maar self” nie, want Mamma moet mos weet waar alles is!


Saturday, 10 September 2011

Kaalvoet oor die Drakensberge

Mense sê vir ons: “Julle het baie moed om daar in die bos te bly” of “Ons dink julle is baie dapper.” Ons kan ’n lang gesprek hieroor voer, want ons dink meestal nie so nie, maar dit is waar dat eenvoudige dingetjies hier moeiliker gedoen word as op ander plekke. Byvoorbeeld inkopies en wasgoed was, soos julle al gelees het.
Ons lewe is egter nie vergelykbaar met die lewe van die mense wat hier in die dorpies bly nie.  Een manier om dit duidelik te maak is om ’n paar stories neer te skryf oor die geboorte van babatjies.
Een van ons vele werkies hier rond is om ambulans te speel.  En baie keer moet ons ’n vrou in kraam by die kliniek of hospitaal gaan aflaai.  Martha het ook daarop gereken dat sy vervoer sal kry, maar ongelukkig het sy toe in kraam gegaan toe daar nie iemand by die sendingstasie was nie.  Haar man het haar toe agter op sy fiets gelaai en die 9km (kortpad) dorp toe aangepak.  Dit het hulle 3 ure geneem, want hulle moes kort-kort stop om haar eers weer gemaklik te kry.  Hulle het laat in die nag by die hospitaal aangekom en hul baba is nie lank daarna gebore nie.  6 uur die volgende oggend laai Pappa toe weer vir Mamma en Baba agter op die fiets en kom huis toe.
Daines het daarin geslaag om haar swangerskap vir baie mense weg te steek tot die dag dat die baba gebore word. Marjanne het groot geskrik toe sy hoor Daines is siek en moet hospitaal toe.  Gelukkig was sy darem nie so dodelik siek soos hulle dit laat klink het nie, maar dis waar:  dit is ’n saak van lewe en dood.  Marjanne is toe beloon met ’n naamgenoot:  Mariyanna.
Nog ’n Daines het ook kom hulp soek, maar weereens was daar nie ’n voertuig beskikbaar nie.  Of daar was, maar een van haar helpers het net vir Heinrich gevra of hy Boma (dorp) toe gaan en nie gesê waarom nie.  Toe sê hy nee en sy loop weer.  Daines en twee vroue wat haar moet help, het uit hul dorpie hierheen geloop.  Seker so 2km.  Toe hulle hoor daar is nie vervoer nie, sê sy dat sy nie weer kan terugloop nie.  Hulle kry toe skuilplek in Martha se kombuis.  Daar is die dag baie gebid in daardie kombuisie, want 2uur die middag is die babatjie, voete eerste, na ’n lang gesukkel, gesond gebore.  En wat doen die mamma?  Sy rus ’n bietjie en gaan huis toe, natuurlik.
Christine het wel vervoer gekry na die kliniek.  In die nag.  Haar baba is gebore en kom sy agter op ’n fiets hier aan.  Met ’n groot glimlag.  Sy kom die baba vir ons wys.  Sy lyk so gelukkig asof sy pas van ’n spa terugkom en nie van ’n geboorte nie!
Immanuel is in sy ouers se hut gebore.  Heinrich was nie betyds nie.  Hy was darem betyds om die pa te ondersteun deur die laaste paar minute se wag.
Grace is op die pad tussen ons en ’n dorpie gebore.  Ons kon nie nader ry met die voertuig nie en moes op ’n punt vir hulle wag.  Wag, wag, en toe die boodskap:  Gaan maar huis toe, die baba is klaar gebore, ons gaan ook nou weer huis toe.
So:  Nee, ek kan nie by hulle kers vashou nie.  Ek sal eerder kaalvoet oor die Drakensberge trek… Spreekwoordelik!
Die lekker is om na die tyd na die baba te gaan kyk.  Altyd met ’n geskenkie, want jy kan nie die baba sien sonder ’n geskenkie nie.  Alhoewel hulle nie baie streng met die reël is nie, want ek het dit eers agtergekom toe Anel gebore is.  En soms moet jy selfs vir die baba ’n naam gee J

Tabita:  Sy is vandag 1jaar oud

Kyk die baba!