Monday, 30 April 2012

Parkeerkaartjies


Onlangs moes ek saam met my ma ’n paar dokters by verskillende hospitaal-komplekse besoek.  Ek bestuur en Ma navigeer.  Gelukkig, want sy ken daardie deel van Pretoria baie beter as ek.  Sy weet ook hoe werk die parkeerkaartjies by hierdie komplekse.  Dit is eitlik baie maklik.  Jy kry ’n kaartjie as jy by die hek ingaan, druk hom in die masjien voor jy uitgaan, betaal, druk hom weer in ’n masjien by die hek en daar gaan jy.

Ons doen dit toe so: 1) Druk die knoppie by die hek en kry ’n kaartjie.  Die hek gaan oop en ons parkeer. 2) Ons gaan in die hospitaal in en onthou dat die kaartjie nog in die kar lê.  Ek gaan terug om hom te haal. 3) Gaan uit die hospitaal uit na die kar en onthou ons het nie die kaartjie in die masjien by die deur gedruk nie. 4) Ek gaan terug, sonder geld want ons was minder as ’n halfuur daar, om die kaartjie ge”scan” te kry.  5) By die masjien staan: “0-30min: R4”.  So ek gaan terug om R4 te haal.  6) Ons het nie R4 nie, so ek gaan terug met R50 – die masjien vat mos note ook. 7) Die vriendelik sekuriteitswag lig my in dat die masjien nie kleingeld het nie, so ek gaan weer terug kar toe. 8) Na ’n soektog kry ons R1 in my beursie, R2 in Ma se beursie en nog R1 in die “push”-bakkie (dit is wat my kinders dit noem) van die kar. Ek gaan weer terug.  9) Ek druk die kaartjie in die masjien en wat sê hy? R6! Met al my rondlopery is ons toe al langer as ’n halfuur daar!  Die vriendelike sekuriteitswag lig my in dat ek ook by die hek kan betaal.  Daar het hulle kleingeld.  10) Ons gaan betaal by die hek, sonder probleme en kan aanbeweeg na die volgende dokter.

Daar herhaal ons die kaartjie-proses. Hierdie keer op die regte manier.  Ons onthou die kaartjie en ons het mos nou kleingeld gekry.  Maar:  Toe ons by die hek wil uit en ek druk die kaartjie in die masjien, weier hy om die kaartjie te sluk.  Ek druk weer en hierdie keer sluk hy, maar hy bly sê: “insert ticket”.  Ag, nou druk ons maar die rooi help knoppie en Help kom aangestap.  Help het ’n oranje baadjie aan en hy dra ’n sleutel.  Hy sluit die masjien oop en druk die kaartjie terug.  Ek druk die kaartjie weer in en daar gaan ons.  Uiteindelik!  En nee, ek het nie die kaartjie verkeerd ingedruk nie, die masjien het net slegte spysvertering gehad J

Saturday, 7 April 2012

Mzungu

In Zambië het ek geleer dat ek ’n Mzungu is.  Dit beteken baie dinge, maar dit beteken meestal dat ek ’n witmens is en dat ek  iemand is wat Chizungu (Engels) praat.  Ek weet natuurlik dat ek wit is, baie wit.  Ek kan dit nie help nie en ek gee ook nie om nie.  En ek praat Engels, in elk geval met hulle. Maar soms was dit vreemd om altyd as ’n mzungu uitgewys te word.

Ek het gister ’n blog gelees en in ’n spesifieke inskrywing het sy beskryf hoe sy dit ervaar om ’n mzungu te wees in die “compounds” van Lusaka.  Sy het regtig my gedagtes goed in woorde omgesit, al is sy in ’n ander sitasie as ek.  Hier is die paragraaf wat ek die meeste geniet het:

“When I am Mzungu, it is assumed that I speak English. It is assumed I have a lot of money. It is assumed I will walk around the compounds and then leave and never come back. It is assumed that I shop at the western style shopping malls on the other side of town. It is assumed that where I come from there is no corruption and no HIV and no nshima. It is assumed that when someone asks “How are you?” I will respond, “Fine,” because that is the mzungu answer to a mzungu question.”

Nou weet ek wat dit is wat my pla, dit is die voorveronderstellings.  Ja, ek praat Engels, maar ek is nie Engels (of ’n “American”) nie.  Ja, ek het meer geld as die meeste mense in Eastern Province, maar ek het nie baie geld nie.  Ja, ek het gekom en gegaan, maar ek het ook gebly en ek hoop om ook weer te gaan.  Ja, ek koop in ’n shopping mall as dit kan, maar ek koop ook op die mark en in die village.  Waar ek vandaan kom is baie korrupsie en HIV L en baie mieliepap J.  As iemand my vra “how are you”  sê ek “fine and you”, want dis wat ek in Zambië geleer het.  “Muli bwanji?  Bwino! muli bwanji?”

En vandag is ek ewe skielik nie meer ’n mzungu nie.  Ek is nog steeds wit en mense sien dit steeds, maar dit beteken nou ander dinge:

·         Dit kan beteken ek is wit soos al die ander om my.  Ek is Afrikaans.

·         Dit kan beteken ek is wit, een van die ligste skakerings van “menskleur” in die groep waarin ek my bevind.

·         Dit kan beteken ek is ’n “boer” of ’n simbool vir die sleg van apartheid.

Maar ek kan met al hierdie dinge saamleef, want ek weet ek is ook meer as dit.  Ek is ook ’n Afrikaan (African), al is dit vir sommige moeilik om te verstaan. Ek het nie net Afrika se stof aan my voete en son op my lyf nie, maar ek het ook Afrika se “ons-wees” in my hart.

En nog meer as dit:  Ek is ’n kind van God.