Gewoonlik koop ons brood in die dorp (Boma, soos dit hier genoem word). Daar is ’n bakker en ’n paar ander winkels wat brood verkoop. Ons kan baie kla oor die brood, maar dit is darem nie oneetbaar nie. Maar ons gaan nie so gereeld dorp toe nie en ons bêreplek is maar min, so soms moet ek brood bak.
Ek het al ’n hele paar resepte probeer en ook al ’n paar goeie broodjies gebak, maar ek was nog nooit 100% tevrede nie. Die laaste paar weke is my brode egter keer op keer ’n flop! Ek dink dit is die gis wat nie werk nie, want dit is elke keer plat en hard. Heinrich noem dit krieketbrood, want dit is hard genoeg om ’n bal mee te slaan! Ek moet dit dan maar weggooi, want dit help nie eers om dit saam met sop te eet nie. Miskien as jy dit oornag in die sop laat lê…
En die ergste is, as ek 2 weke later weer in “die gat” kyk, lê die brood nog ongeskonde daar. Dit muf nie eers nie… En geen mier of enige ander komposgogga sit sy mond daaraan nie – seker bang hulle tande breek.
Ai, dit maak my moedeloos!
Gister skraap ek toe weer moed bymekaar. Ek haal die (4de?) pakkie met nuwe gis uit die kas en probeer weer. Die keer broodrolletjies. En wat kom uit die oond uit? Ja! Jy het reg geraai! Krieketballe!
Cobus was baie entusiasties om dit uit te toets, maar Mamma is kwaai. ’n Mens speel nie met kos nie! Nou het die miere ten minste iets om op te klim. Dan kan hulle dalk beter sien waar die lekker papajaskille lê.