Ons was maar ’n klein rukkie in Zambië toe ons ontdek dat ons as witmense in die platteland van Zambië ’n statusposisie in die oë van die bevolking het. Dit is nie altyd oor die regte redes nie, want die mense sien blankes as ’n simbool van rykdom en ’n bron van geld. Dit wil ons natuurlik nie wees nie. Maar hulle sien blankes ook as ’n bron van kennis en dit is vir ons goed, want ons is tog hier om hulle te leer. Maar ons wil ook in ’n gelyke verhouding met hulle wees, want ons het al meermale ontdek hoeveel ons van hulle moet leer!
Om so ’n posisie in die samelewing te hê het natuurlik ook sy voordele: As jy in die poskantoor instap en die ry staan by die deur uit – glimlag net vir die outjie by die toonbank, hy groet dan, en jy groet en hoor hoe gaan dit met sy familie (al weet jy nie wie hy of sy familie is nie) en as jy weer sien help hy jou sommer eerste. As jy kan , probeer hom in Nyanja groet. Al maak jy droog, want dan kyk die hele poskantoor se mense vir jou, lag vir jou poging en niemand gee om dat jy eerste gehelp word nie. Maar wees versigtig, want hulle is nie dom nie. As jy jou “posisie” misbruik, of dit vir jou self skep, sal hulle jou maklik uitjou, want dit is immers húlle wat in die eerste plek die posisie vir jou gegee het.
Dit kan mens ook in snaakse/vreemde situasie laat beland. As hulle byvoorbeeld vir ons ’n goeie sitplek in die kerk wil gee, veroorsaak dit soms dat ons met al 3 kinders heel voor in die kerk, langs die preekstoel sit en vir die gemeente kyk…
As ons in die dorpies ingaan hoor ons ook die mense roep: “Mzungu, Mzungu!” Dit beteken Engelsman, so ons is nie Mzungu nie. Maar aangesien hulle dink alle blankes is Engels, is ons Mzungu, want ons is wel baie wit. So het ’n klein dogtertjie eenkeer op die mark na my toe aangehardloop gekom, haar vingertjie teen my kom druk en gesê: “Mzungu!” So asof sy wou sê: Miskien weet jy dit nie, maar jy is BAIE wit en ons almal kan dit sien!
Dis nou behalwe as jy in een van die dorpies ingaan waar daar ’n gemeenskapskooltjie is wat bande met ons kollege het. Dan roep hulle: “Marjanne, Marjanne!” , want sy besoek hulle gereeld en vir hulle het voertuig + Mzungu gelyk geword aan Marjanne.
Maar nou weet ons regtig ons is “celebrities”. Een van die studente kom na ons toe en vra vir ’n afspraak met ons gesin. Ja, sê ons, maar hoekom? Want hy wil ’n foto saam met ons neem!
Op die ou end daag daar 3 studente op. Een met ’n knewel van ’n kamera. En ons word opgestel dat ons in die son inkyk. Elke student kry ’n beurt vir ’n foto saam met ons gesin. Ek dink nie dit gaan baie mooi foto’s wees nie, want Anel kry tande (en sy wil hulle nie wys nie, nie eers vir ’n foto nie) en die ander twee is suur oor die son in hul oë. Daarna groet hulle en stap weg, maar by ons hek ontdek hulle die trapkar en besluit dit is die ideale agtergrond vir nog foto’s. Gelukkig speel die kinders toe hierdie keer saam en die studente kon mooi foto’s saam met ons kinders kry.
Ai, as ’n mens darem beroemd is…
Gelukkig kan mens nooit grootkop kry as jy kinders het nie. Weet verseker dat hulle jou iewers in die openbaar in die skande sal steek!