Wednesday, 21 March 2018

Tuis?


“Is julle al tuis in Walvisbaai?”  Ons hoor dit so vreeslik baie, daarom sal ek maar probeer antwoord:

Ons voel al tuis.  Meestal.  Totdat ons weer met iets nuuts te doen het.  En dit gebeur nogal baie.  So soms voel ons maar baie vreemd.  Tog leer ons baie dinge.

Ons het al mooi geleer hoe werk die weer:  As dit nie bewolk is nie, skyn die son.  As die wind nie waai nie, gaan hy nou-nou waai... Warm en koud is soos die verkeersligte in Lusaka (Hul kleurverandering het niks te doen met die vloei van die verkeer nie). Dit is die weer, behalwe as die Oosweer kom.  Wat weet ek van Oosweer?  Heeltemal niks! Maar dit is hoe almal die weer vir my verduidelik.  Elkeen gee sy eie weergawe van die weer en eindig dat met: “Behalwe as ons Oosweer het...” Om dit op te som:  Jy gaan nêrens heen sonder ’n baadjie en ’n sonbril nie.

Ons begin ook al ons rigting vind.  Toe ons hier gekom het, het ek gewonder hoe ek ooit die straatname gaan onthou.  Theo-Ben Gurirab en Peter Mueshihange is al erg genoeg, maar wat van Gertrude Rikumba Kandanga Hilukilwa?  Ja, dit is net een straat...  As jy die GPS volg, draai jy in daardie straat lank voor die Tannie op die GPS klaar is met die naam.  Dus het ek maar begin om die strate nuwe name te gee:  Die skool se straat, die kerk se straat, Shoprite se straat en die hawe straat ens.  Ek het ook gou agtergekom niemand anders gebruik die straatname nie.  As jy vir hulle vra waar is die haarkapper, dan sê hulle: Daar by Bank Windhoek.  Waar is Bank Windhoek?  Naby die Puma garage.  En waar is die Puma garage?  Daar op die hoek waar daar voorheen ’n vlooimark was...  Onthou:  as jy my in die kamer in die rondte draai met my oë toe, gaan ek nie weet waar is links en regs as ek my oë weer oopmaak nie.  So ek het al verdwaal lank voor iemand vir my klaar verduidelik het.  Hoekom gebruik niemand straatname nie?  Wel, dis heel duidelik te moeilik.  Daarby het die name verander en hulle ken nie al die nuwe name nie.  Die naambordjies is ook nie altyd daar nie of hulle is nie duidelik nie.  Dit roes weg en waai toe.  Maar ons leer...

Ons kom ook agter dat die munisipaliteit hier moet aandag gee aan dinge wat nie vir elke munisipaliteit ’n probleem is nie.  Soos die naambordjies wat wegroes.  Die hoogwater wat die paadjie langs die lagoon wegspoel.  Vis en ander goed wat uitspoel om die strand.  Die woestyn wat in die dorp in waai.  Of is dit nou die dorp wat in die woestyn in waai?  En die lagoonsand wat ’n duin langs die pastorie bou.
Ons voel al baie tuis.  Behalwe as ons verdwaal. Of wegwaai. Of ’n halfuur te vroeg iewers aankom omdat ons die verkeer ingereken het. Of die ruitveërs aansit om beter te kan sien en dan agterkom ons kan nou glad nie meer deur die voorruit sien nie.  Maar ons leer.