Ewe skielik moet ek vir Ouma
versorg. En die sorg wat ek nie self kan
doen nie, moet ek reël. En alles voel verkeerdom. SORG word toe nog meer deel van my
werkbeskrywing as wat dit nog altyd was.
Sorg vir Ouma, sorg vir Pappa,
sorg vir skoolkinders, sorg vir kleintjie met (amper sonder) mangels. En o, ja, sorg vir myself???
En daar leer die Here weer vir my
iets: Hy SORG. Vir Ouma, Pappa, Mamma en kinders (met of
sonder mangels). Hy sorg deur mense wat
nog altyd gehelp het. Hy sorg deur mense
wat nog nooit gehelp het nie. Hy sorg
deur mense wat sommer bel en vra: “Hoe gaan dit? Ons bid saam met julle!” Hy sorg deur mense wat ver ry om ’n siek ouma
te besoek wat hulle nie eers ken nie. Hy
sorg deur verpleegpersoneel wat verstaan dat Ouma beter Tswana praat as Engels.
Hy versorg deur ’n
koerantverkoper: Ek sit kop onderstebo
by die verkeerslig. Die man stap tot by
my kar en druk nie die koerant teen die ruit soos mens sal verwag nie. Hy druk die koerant stewig onder sy arm in en
waai vir my. Toe ek vir hom kyk wys hy
sy duim na bo: “Is jy ok?” verstaan ek sy gebaar. En ek smile en wys my duim: “Ja, ek is ok, ek
word versorg”
Hy versorg deur my huishulp wat
vir my sê: “Ek sien jou hart is vol van die seer. Dis reg so, maar ek wil hê
jy moet sterk wees met Ps 91” Gewoonlik
lees ek vir haar Bybel. Ek het nie, maar
sy het op haar manier vir my gelees...
Mense vra my: “Hoe gaan
dit?” en ek weet nie. Dan loop ek verby ’n klas by Mukhanyo en die
studente sing: “It is well, with my soul”
En ek weet: “Dit gaan goed”
Die mense sorg vir ons so goed,
dat ek die opmerking maak: “Ek wil my vrieskas ontvries en ek kry die ding nie
leeg nie!” En ek skrik – is dit my
grootste klagte????
Ek leer om dankbaar te wees, want
ek het gedink ek moet versorg en toe word ek versorg...