Thursday, 10 January 2013

Eksamentyd


Vir my is dit lekker om klas te gee. Om studente te leer. En wanneer ’n mens leer, moet jy ook eksamineer.

So nou (Nov 2012) skryf die studente eksamen.  En ek?  Ek hou toesig.  Die eerste keer wat mens by ’n groepie studente toesig hou , bly dit omtrent vir die eerste 30 min interessant.  Daarna het almal papiere, vraestelle en penne en jy ken al almal se eksamen persoonlikheid.  Gryp hy sy papier en begin skryf? Lees hy dit eers rustig deur? Rangskik hy sy notas (wettige, toegelate notas) 100 keer of val die helfde van die tafel af?

Die tweede keer wat jy toesig hou oor dieselfde groepie van 10, bly dit net vir 10 minute interessant...

Jare terug het ’n onderwyser van my vir ons vertel hoe dit is om toesig te hou in die skoolsaal as 200 kinders matriek skryf.  Hy het als getel, maar na 2 ure - sê hy - weet jy hoeveel kinders daar is. Hoeveel is seuns/meisies. Hoeveel het truie aan. Hoeveel kruis hul voete. Hoeveel vensters is daar en leë banke.  Meisie met lang hare.  Oop versters, miskien selfs hoeveel bakstene daar in die muur is?

Een van sy verhaaltjies speel af tydens die rekord eksamen.  Hy het al alles getel en dis winter. Hulle bibber in Wes-Transvaal (dit was toe nog nie Noordwes nie) en die skoolsaal is beslis nie die plek om warm te word nie.

So hy staan met sy rug teen die muur.  Hande in die broeksakke tussen 2 banke.  En Mnr. is nie klein nie, hy het waarskynlik daardie spasie redelik volgestaan... Die volgende oomblik gly sy voete onder hom uit en aangesien sy hande in sy sakke is, kan hy nie keer nie.  Hy land met ’n klein aardskudding op sy agterstewe en kyk op in die verskrikte oë van ’n matriekmeisie wat oor haar bank vir hom loer

Ek dink die aarsbewing se sekondêre skuddings was in die vorm van giggelende kinders J

Mnr. het gelukkig sonder ’n bloukol daarvan afgekom.

Monday, 7 January 2013

'n Koppie vol


Lukas 6: 38 “Gee, en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.”


Dit was die gedeelte wat vanaand in die twee oudste kinders se dagstukkie-boekie bespreek is. 


Wanneer ons ’n koppie vol afmeet, meet ons gewoonlik 250ml – of so naby as moontlik daaraan.  Jy maak die koppie vol en skraap hom plat aan die bokant.


As jy ’n koppie tee maak, skink jy dit nie heeltemaal so vol nie.  Jy sê die koppie is vol, maar eintlik is daar plek vir nog.  Jy kan net nie nog ingooi nie, want dat mors jy.


Op die mark in Zambië word alles ook in “cups” verkoop.  Almal se koppies is nou nie ewe groot nie, maar wanneer jy vra wat iets kos, word daar na ’n spesifieke koppie gewys en die prys word genoem.  Jy weet dus presies wat jy kry.  Tog werk dit anders as wat ons sou verwag:  die koppie word volgegooi, gestamp en dan word daar nog bo-op gestapel so veel as wat bo-op sal bly.  En dan, as jy ’n paar koppies vol koop, kry jy ook nog bietjie basela. Verniet.

Dit pas vir my so mooi by hierdie vers.  God seën meer as wat jy verwag.  Meer as wat jy dink Hy kan gee.  As jy dink jou koppie is vol, kom daar nog seëninge.  Basela.  Pasella.  Verniet.

Thursday, 3 January 2013

Familie Vakansie


Een keer per jaar pak Ouma, Ouboet, Sus en ek die kleinkinders in die kar en dan gaan hou ons almal saam vakansie.  Deesdae pak party van die kleinkinders hulleself in hulle eie kar, maar die uiteinde is dieselfde:  ’n Groot familie-vakansie!

Ten spyte van die feit dat ons in ouderdom wissel van 2-76 (van speenoud tot stokoud) het ons al geleer om goed met mekaar oor die weg te kom.   Soos in die meeste families hou ons nie altyd so baie van mekaar nie, maar ons bly maar lief vir mekaar.  Ter wille van die vrede sal ons nie daarop uitbrei nie J

So los ons toe een oggend die oumense en die kinders by die huis en gaan sweef tussen die bome rond! Pragtig.  Party van ons se broeke en bene het maar bietjie gebewe, soms so erg dat die platvorm waarop ons staan saambewe (en ek belowe dit was nie alles ek nie!), maar ons het darem almal met glimlaggies tuis gekom!

Ons het ook saam niks gedoen, rond gery, geswem, gestap, gelees, TV gekyk (veral party), rekenaar “gewerk” (weereens veral party), bordspeletjies gespeel, geëet en niks gedoen.

Rondry beteken gewoonlik om na oulike dinge in die omgewing te kyk.  Ons het dit gedoen.  Ons het ook rondgery om geld te kan trek om na die oulike dinge in die omgewing te kan kyk.  Want gedurende die vakansie werk sekere kitsbanke nie.  Hulle hou ook vakansie.  Ander se rekenaar-breine raak moeg en breek. En ander weier net eenvoudig om vir ons geld te gee...

Bordspeletjies raak ook al hoe meer interessant hoe later in die aand dit raak.  So was ons later nie meer seker of ’n gemengde dubbelspel deur mans of vrouens gespeel word nie.  Die dominee het geen idee gehad hoe ver Elisabet swanger was toe Maria haar besoek het nie, terwyl nie een van die vrouens in ons groep ’n probleem gehad het met daardie vraag nie (wys jou net wie na watter detail kyk).  En daar was ’n interessante vraag oor dans...   Goed, daar is nou ’n beperkte gehoor wat hiervoor lag, maar elke familie moet ook sy binnepret hê!

Na ’n lekker vakansie pak ons toe op en gaan nie huis toe nie.  In elk geval nie almal van ons nie, want alle paaie lei mos na Bethlehem.  Die hele konvooi vat toe die pad deur die tolhek:  Ouboet met Ouma voor, ons met ’n oorlog op die agterbank in die middel en Sus met haar span agter.  So ’n kilometer anderkant die tolhek trek Ouboet skielik van die pad af.  Twee jong manne vlieg uit die bakkie dat jy net plakkies sien trek en vertel vir ons wat verward deur die venster loer: “Ons gaan tolgeld betaal!”  ???  Ons vind toe maar by Ouma uit dat Sus-hulle nie tolgeld het nie en hulle kaart werk ook nie.  Oeps.  Gelukkig was redding nie ver nie en Sus en Swaer kon hul redders ’n “lift” gee tot waar Ouboet wag, want vir die 2 voetgangers het die kilometer nogal ver geraak!

Ons ry intussen verder na ’n spesifieke stopplek – in ’n poging om die oorlog tot vrede te dwing.  Die stopplek is soos ons verwag het baie besig.  Maar na ’n ruk bel Ouboet:  “Waar is julle?”  en na nog ’n paar vrae: “Is daar baie karre?”  Ek kon dit glad nie verstaan nie – natuurlik is hier baie karre!  Maar na verdere ondersoek besef ons: KOMMUNIKASIE GAPING!  Ons is by die verkeerde plek met die regte naam!!  Ons gaan kry hulle toe maar op die regte plek, waar daar nie baie karre is nie.  Net lekker koffie en kamele....  Kamele wat hou van gras eet en wat daarvan hou as die kinders hulle voer.  En hulle hou daarvan om dominees wat fotos neem van kinders wat vir kamele gras voer se hare te proe...  Ek dink natuurlik dit was die Kameelkoei wat hom wou soen, maar dit is debateerbaar...  Tot volgende jaar JJ