Saturday, 24 November 2012

uiteet in Petauke

(Nog 'n storie wat ek geskryf het voor my blog-dae - iewers in 2010)

Is jy lus om vanaand te gaan uiteet?

Natuurlik!

 
Maar helaas! Uiteet in Petauke is nie so eenvoudig nie!

In die eerste plek kan ons nie kies waar ons wil gaan eet nie.  Daar is net eetplek wat iets anders as nshima verkoop.  Volgens Zambiese standaarde is dit 'n baie luukse plek en ons beskou dit ook as 'n lekker eetplek.


Vanaand kom ons onaangekondig daar aan en ek spring gou uit om te hoor of hulle wel oop is.  Ons het al daar aangekom net om te hoor hulle is toe want, “the cook is tired”.

Vanaand kry ons egter 'n heel ander antwoord: “ Yes, we are open for food. We are always open!”
Ja…

 
Dit moet seker vir hulle vreemd wees dat ons daar met ons kinders aankom, maar die eienares en haar man kom groet ons persoonlik en praat ook vriendelik met die kinders.  (Ons is immers gereelde gaste!  Eet seker 2 keer per jaar daar!)

 
Die tafel is pragtig gedek, met afrika patrone op die tafeldoeke en blomme uit  hul eie tuin.  Die eetgerei is eenvoudige “kombuis-eetgerei” maar na n paar jaar in die bedryf het hulle darem nou genoeg van een soort sodat daar nie meer 'n mengelmoes messe, vurke en borde op die tafel beland nie.

 
Ons bestel nie sop vanaand nie.  Dit is altyd op die spyskaart, maar uit ervaring het ons al geleer dat dit (en nagereg) slegs beskikbaar is as jy dit vooraf bestel.  Die sop wat ons al daar geeet het is heerlik!  Dit is van knorr se pakkies sampioensop met bietjie uie en sout en peper bygevoeg.  Dit ontdek 'n mens as iemand aan tafel vra na die inhoud van die sop (agv allergiee).  Die kelner kom ewe vriendelik met die pakkie daar aan sodat sy die “ingredients” kan lees.

 
Nee, vanaand bestel ons sommer saam met ons koeldrank al die hoofgereg.  Jammer, hulle het nie beef nie, so hoender-roerbraai sal dit wees.  Die kinders bestel worsie met chips.  So halfuur later (ons het al vir n tweede keer koeldrank bestel) kondig die kelner aan dat hulle net 1 hungarian worsie oor het.  Kan hy maar vir die ander kind 'n beef worsie gee?  Ons stem in, hulle kan maar deel as hulle stry.

Nog 'n halfuur later (nou is ons koeldrank heeltemaal op!) kom die kos.  Heerlik!  Die kinders deel die hungarian en raak nie aan die boerewors nie…

 
Dit is gelukkig nie baie moeilik om so lank vir die kos te wag nie, want vanaand is hier genoeg mense om dop te hou.  Dit is nou nadat dit donker geword het, want eers het ons in die tuin rondgestap met die kinders.  Daar was n vergadering van chiefs in 'n nabygelee dorpie en hulle slaap almal vanaand hier oor op pad terug na Lusaka.  Hulle teenwoordigheid is aangekondig deur die GROOT 4x4’s en LANG duur karre in die parkeerterrein.  Nou sien ons die groot(!) en belangrike manne in lewende lywe.  Hulle is netjies aangetrek in meestal swart pakke met dasse en blink skoene.  En wat bestel hulle?  Village Chicken met nshima!  En dit word natuurlik met die hande geeet, want nshima proe net eenvoudig nie dieselfde as dit nie in 'n bolletjie gerol word nie! 

 
Na ons heerlike aandete waag ons dit tog om vir poeding te vra. 

Nee daar is niks. 

Wat van koffie?

Ja, dit het hulle

Hierdie keer wag ons nie so lank nie.  Toe word daar 'n fles met kookwater, 'n blikkie Ricoffee, 2 bekers en suiker voor ons neergesit…

”Do you want milk also?”

Terwyl ons vir die melk wag, maak ons maar koffie.

Waar draai die melk tog? Moes hulle eers die koei gaan vang?

Nee, hier kom die kelner, weer met n groot smile:  Hy moes eers die melk gaan warm maak…

 
Nouja, dis miskien nie uiteet soos in SA nie, maar ons het lekker geeet.  En ons hoef nie die skottelgoed te was nie!

Sunday, 11 November 2012

'n Donker nag...


 
Sondagaand (25 Julie 2010) het soos enige ander aand begin, behalwe dat dit bewolk was.  Later het dit egter al hoe vreemder en vreemder geword! 
 
Eers het dit begin reën en soos julle weet is reën in Julie in Petauke BAIE vreemd.  Toe gaan die krag af.  (Dit was eintlik al Maandagoggend ongeveer 1:00).  Die krag gaan natuurlik meer gereeld hier af, maar gewoonlik gebeur die nie in die nag nie.  Ons het ons dus nie veel daaraan gesteur nie.  Die meeste van ons was in werklikheid nie eers bewus daarvan nie.  Net die wat vir babas opstaan het dit gesien…


3:00 bel Phil vir Heinrich wakker.  Die lesinglokaal se deur staan oop….  Hulle is toe almal met liggies daarheen om te kyk wat aangaan. ’n Ruk later kom Heinrich en Phil terug en ondersoek ons hele erf met liggies.  Heinrich het skoene by hom en wil weet of dit myne is.  Maar hoe het Phil geweet die lesinglokaal se deur is oop?  En waar kom my skoene vandaan?

Die logiese antwoord is natuurlik dat daar inbrekers was.  Ons het van hulle bewus geword toe hulle Jaap se huis se deur oopbreek!  Hulle het seker gedink hy is nie daar nie, want hulle het hulle flou geskrik toe hy vir hulle vra “wie is daar?”  Hulle het ’n gedeelte van wat hul gesteel het net daar op sy stoep gelos en gehardloop.  Dit was nou my skoene en die ou printer.  Dit beteken hulle was op ons stoep, reg voor ons deur!  Want dit is waar my skoene gelê het.  Wat snaaks is, is dat hulle my skoene gesteel het en Nelrie se fiets en Cobus se karretjies wat langs dit gelê het net so gelos het.  Uit die lesinglokaal se kantoor het hulle die ou en nuwe printer gesteel, daar het ook van die ander goed buite gelê.  Hulle kon seker nie besluit wat hulle wil hê nie…  Die nuwe printer het hulle toe ook die volgende dag maar vir ons terug gebring.  Net jammer hulle het dit in die reën neergesit, ons kon hom nog nie aan die werk kry nie, maar daar is nog hoop.

Soos die meeste ander oggende het die son weer opgekom, en die “donker nag” was verby.  Die krag was egter nog steeds af.  Nadat daar heelwat gewerk is om ekstra slotte op al die deure te kry, het ons Zesco (Zambie se Escom) gebel oor die krag.  Hulle kom toe hier aan om verslag te doen net toe ons besig is met vergadering.  Die arme man was nogal senuweeagtig, want hy moet toe sommer in die vergadering kom verduidelik wat aangaan.  Die slegte nuus:  die transformer het geblaas….  Hoe lank sal dit duur om reg te maak?  “I think 12 days”. Soos een van ons kollegas sê:  as hulle “dink” of “hoop” 12 dae, dink en hoop ek dit gaan heelwat langer duur.  As hulle sê hulle is seker, dan sal ek begin hoop.  Om als te kroon vra ons toe wanneer hulle die ding gaan kom afhaal.  “uhm… the other thing is…our truck is down…”  So ons moet nou maar wag tot hulle “truck” weer “up” is.  Intussen het ons nou maar ’n skedule uitgewerk van wanneer die kragopwekker moet aan om water te pomp, wasgoed te was en lig te maak vir nog baie donker nagte.

 
Ons het eers gedink dat die skelms en die af krag iets met mekaar te doen het, maar na al die dom goed wat die skelms gedoen het, dink ons nie hulle was slim genoeg om die transformer te laat blaas nie! 

 
In die proses het ek ook uitgevind op watse vreemde maniere gebede beantwoord kan word.  Ek was natuurlik ’n bietjie bang om te dink ek moet 2 nagte alleen bly as Heinrich en die kinders na Mfuwe gaan.  Ek dink toe dit sou goed wees as ons ’n hond het, want dat sal niemand oor die muur klim nie.  Die Zambiërs is baie bang vir honde!  Maar waar sal ek nou n hond vandaan kry? Maandagoggend kom Nelson toe hier aan om vir ons sy weergawe van die nag se gebeure te vertel.  Hy is ’n vreeslike spraaksame man, so as daar iets gebeur hoor ons almal die storie.  Toe hy klaar is met sy verhaal kom hy met ’n nuwe storie.  Chita (sy wolfhond) is op hitte en hy wil weet of hy haar vir 2 weke in ons erf kan toemaak, want hy wil nie dat sy nou kleintjies kry nie.  Ek was so verbaas, my mond het byna oopgehang!  Ek het darem onthou om vir hom te sê dit is reg so, ons sal nie omgee nie.

 
Ten spyte van al die duisternis kan ons darem nog rustig slaap, want ons weet Wie die werklike Lig vir die wêreld is.