Friday, 27 May 2011

Skattejag kerk toe

(22 Mei 2011)
Heinrich is vandag Ukwimi toe om ’n student te besoek en ek het nie kans gesien vir so lang dag uit met die kinders nie.   Hy het net na 8 vanoggend vertrek en sal seker 4uur eers terug wees.  Vir die kinders beteken dit ’n paar uur in die kar stilsit soontoe.  ’n Paar uur (ten minste 2) stilsit in die kerk.  Stilsit as ons by die student eet en dan weer stilsit as ons huis toe ry.  As jy 5 en 7 jaar oud is, is dit duidelik ’n onmoontlike taak!  So ons bly by die huis, of nie…

Marjanne wou graag vandag kerk toe stap. Na Chintimbe (2km) of na Simnongwa (4km).  En ek ook.  Ons besluit toe om na Simnongwa te gaan.  Ek was nog nooit hierdie jaar daar nie en:  Ons dink ek kan met die stootwaentjie soontoe loop.  Chintimbe toe sal ek beslis vir Anel op my rug moet dra en glo my, na 2km voel 11kg soos 111kg!

Cobus en Nelrie was nie so opgewonde nie, maar Marjanne (’n regte kleuterskooljuffrou!), het al weer ’n plan: Ons gaan skattejag hou.  Op pad kerk toe moet die kinders elke 5 minute om die beurt ’n bruin (!) toutjie aan ’n boom of struik vasbind.  En op pad terug moet hulle dit weer soek.  As hulle dit regkry, kry hulle ’n skat.

Sal ons onthou waar hy is?

So daar gaan ons toe vanoggend.  Waentjie, water, happies, speelgoed, doeke, melk, sangboek, 3kinders en ek.  Nogal ’n trek en dit moes ’n vreemde gesig vir die Zambiërs gewees het, want hulle sit net hul baba op die rug en miskien ’n Bybel in die hand vir so ’n uitstappie.  Die stappery kerk toe was heel suksesvol.  Behalwe vir toutjies bind, het ons ook ’n miernes, bokpoep en blommetjies ontdek.  Ons moes soms vir Nelrie aanmoedig, want sy was sommer gou “moeg”.  

Die miernes

Toe ons by die kerk kom, ontdek ons ’n nuwe probleem:  Gaan ons die stootwaentjie by die kerk inkry?  Dit klink dalk vreemd, maar die stootwaentjie se agterwiele is nogal wyd uit mekaar, en die kerk het nie ’n standaard deur nie.  Ons probeer maar en ons kom net in, nadat ons die los houtkoesyn so bietjie geskuif het. Sjoe! Ek wou nie graag die waentjie buite los nie, want dit is sommer so in die oopte en iemand kan dalk net dink dit is ’n oulike speelding!

Nadat ons so 2 ½ ure in die kerk gesit het, was die kinders baie entusiasties om terug te hardloop en sommer ook die toutjies te soek.  En hulle het ons verbaas!  9 uit die 10 is teruggevind! 


En die skat?  2 reuse lang balonne!  Ongelukkig het Cobus s’n met die eerste opblaasslag gebars…  Hy het dit gelukkig baie goed hanteer.

No comments:

Post a Comment