Ons Papajabome het ’n klomp dooie blare en omdat hulle so groot is, maak dit nogal ’n gemors in die groentetuin (Of in elk geval die bietjie wat daarvan oor is). Daarom ruim ek so bietjie blare op terwyl die aarbeie water kry. Ek haal sommer die blare wat nog in die boom vashak ook uit. In die proses vat ek een blaar en sit dit oor in my linkerhand terwyl ek rek na die volgende blaar.
Skielik begin die “blaar” in my linkerhand beweeg! Ek gooi dit neer en staan gevries en kyk hoe ’n slang van my voete af terugseil in die boom in! Toe ek uiteindelik “ontvries”, gaan sit ek net daar in die tuin en huil!
Die eerste wat deur my gedagtes gaan is Markus 16:17-18 “Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.” En Handelinge 28 waar Paulus hout optel en ’n slang hom pik. Dankie Here! Die slang het my nie gepik nie!
Net op dié oomblik hoor ek iets by die hek en ek gaan met ’n jelliebene soontoe om te kyk of dit Heinrich is, sodat ek vir hom die storie kan vertel. Dit is toe Katie en sy moet toe sommer dadelik hoor wat het gebeur. Ek dink dit het haar ’n rukkie geneem om my gebrabbel te verstaan. As jou hele lyf ruk van die skok, is Engels nog moeiliker as gewoonlik…
Cobus het ook iets van die storie opgevang en toe Heinrich tuis kom, hoor hy: “Mamma het ’n slang gevang!” Ek moes lag, want ek hét hom gevang, al was dit nie my plan nie.
Later het ek ook gedink aan Aäron en sy staf wat in ’n slang verander het. Ek wonder of hy ook so groot soos ek geskrik het?
*** *** ***
NS. Aan almal wat gewonder het: Ek weet nie watse slang dit was nie. Dit was beslis nie ’n kobra nie. Dit was ’n lang, dun slang. Die kleur van ’n dooie papajablaar se stingel (gryserig, miskien vaalbruin?), met geel strepies langs sy oë. Sy kamoefleer metode is duidelik baie effektief!