Ek het vanoggend
ekstra vroeg opgestaan, almal se kosblikke en ander skool benodighede reggekry,
myself reggekry en net toe die kinders hulle ogies oopmaak het ek hulle gegroet
en werk toe gery. Bietjie meer as ‘n uur
en ‘n hele paar padvarke en moontlik ongelukke verder, is ek veilig by die
werk.
Daar stoei ek met ‘n paar studente
wat nie wil werk nie, stoei saam met ‘n paar ander wat wil werk en geniet die
vreugde van die wat dit regkry. Na ‘n
vinnige middagete durf ek die pad terug aan en kom moeg by die huis. Nou kan ek lekker gaan rus met ‘n koppie
koffie...
Toe ek voor die huis
stop hang Cobus by sy kamervenster uit:
“Hallo Mamma, hoeveel grade Celsius is daar is 1220 grade
Fahrenheit?” Ek gee vir hom
“google-instruksies” terwyl ek die voordeur oopsluit.
Toe die deur oopgaan sê Nelrie: “Hallo Mamma,
wat is die grootste een vyfde of vyf tiendes?”
Ek teken vir haar ‘n prentjie en gaan sit die ketel aan.
Net toe ek die koffiebeker uit die kas haal,
onthou ek daar is nie vanaand tyd vir kosmaak nie, so ek moet nou die vleis in
die oond druk. Ek staak dus die
koffiemakery en sorg vir aandete.
Intussen het Pappa by Nelrie gaan sit waar sy huiswerk doen, maar sy
roep haar volgende Wiskunde vraag kliphard na my in die kombuis. (Net vir die rekord: Pappa is baie slimmer
met Wiskunde as ek...).
Dit was nog nie die
einde van die dag nie, maar ek dink julle kry die idee.
En ek wonder: Hoeveel keer op ‘n dag hoor ek “Mamma,
mamma...” en hoekom roep die kinder my
net nadat ek hulle in die bed gesit het en as ek daar kom vra hulle: “Roep asb vir Pappa dat ek vir hom kan nag
sê.” ?
(Lees gerus ook "Mammas en mondsalf" wat iets soortgelyks uit 2013 vertel)