Friday, 21 August 2015

Op sy tyd


Ons stap nou weer in die middae.  Dit is ‘n ander “ons” en ‘n ander omgewing, maar die stap is nogsteeds dieselfde “walk-and-talk” wat ek in Zambië leer ken het.

Tydens een van die stapsessies, raak ons asems op aan die bokant van ‘n bult (ons bly langs die berg, so dit is redelik moeilik om te stap sonder om iewers opdraande te loop).  Ons kan nie meer stap nie en ons kan ook nie meer praat nie, so ons stop maar en begin rondkyk.

Ons sien toe dat ons onder ‘n baie interessante boom gestop het.  Hy het dorings aan sy stam en groot oval-vormige peule.  Ons is vreeslik nuuskierig en besluit om by die huis te gaan opsoek watse soort boom dit is.  Maar, uit die oog uit die hart... so toe ons ‘n paar dae later weer by die boom kom, besluit ons om een van die peule te pluk en by die huis te gaan ondersoek.


Die saad gaan toe huis toe waar ons verskillende metodes probeer om die peul oop te kry.  Toe iemand sy vinger lelik raaksny in die proses, beland die ding in die asblik en ons vergeet daarvan.

Siektes en skedules het ons vir ‘n ruk lank daarvan weerhou om te gaan stap, maar toe ons hierdie week weer teen die bult uit stoom, wag daar vir ons ‘n verrassing!  Die peule het oopgebars en nou hang daar “skapies” aan die boom! Te pragtig!

Die harde buitekant wat ons op geen manier kom oopkry nie, is nou dun en breekbaar en die saad aan die binnekant wollerig, katoen-agtig, soos watte. (As jy dit nog nie kon raai nie – dit is ‘n Kapokboom).  Met baie wysheid maak my vriendin die opmerking: “Dit was nog nie sy tyd nie.”


Ek onthou toe van ‘n lied wat ons geleer het: “He makes everything beautiful in its time”. Ek weet dit is ‘n Bybelversie, maar moes dit ook eers tuis gaan opsoek.

Prediker 3 (Hierdie is uit die Ou Afrikaanse Vertaling): “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd: ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe...”  en dan vers 11: “Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd;”

Ek dink dit is hoe God die natuur gebruik om ons lesse te leer.  Soms wil ons weet wat die toekoms vir ons inhou.  Ons wil weet wat die uiteinde van ‘n situasie gaan wees.  Ons wil hê ons kinders moet so gou moontlik iets (soos “potty training”, fietsry of verantwoordelikheid) aanleer. Dan pluk ons spreekwoordelik die ding af en probeer hom oopkap.  Ons karring en karring tot ons seerkry en dan gee ons moed op en gooi die ding weg.  As ons maar net geduldig gewag het dat God dinge op sy tyd laat gebeur. Want, soos die res van Prediker 3:11 sê: “ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end kan uitvind.” Ons kan dit dalk makliker verstaan in die Nuwe Vertaling: “maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd.  Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.”


Ek hoop dat ongeduldige ek geleer het dat ek moet wag totdat God ‘n ding mooi maak op die regte tyd.