Ons het altyd in die bos gebly. Nou bly ons in ’n nuwe soort “bos”. ’n Baksteen en sement bos. Een met teerpaaie, veiligheidheinings en alarms. Hier is darem bome ook! Hier hoor ons nie meer “oxcarts”, beeste en fietse wat by ons huis verbyry nie, maar motorfietse wat jaag en baie, baie karre.
Hier leer ons hoe om inkopies te doen met drie kinders op sleeptou. Jy laai een waentjie vol kinders en die ander een vol inkopies. Dit is nou as manlief kan saamgaan, anders word dit baie meer ingewikkeld J. Dit is seker nie so vreemd om so inkopies te doen nie. Die probleem is net dat hier soveel dinge in die winkels is wat ons lanklaas gesien het. Ek weet soms regtig nie waar om te begin met my inkopies nie, selfs al het ek ’n lysie. En die kinders wil alles bekyk en oor alles kommentaar lewer. Hulle kan dus nie selfs rondloop nie, want dan raak hulle weg.
Ons het ook geleer dat ’n mens hier moet kan bewys waar jy bly. Dit klink dalk eenvoudig, maar as ’n mens in die kerk se huis bly, moet ’n mens maar geduld hê. Want dan is jy anders en as jy nie so lekker in die sisteem inpas nie, kan dit vir jou selfs moeilik wees om ’n DVD uit te neem...
Die kinders moet ook leer om sagter te praat. Hier is die bure naby. Baie naby. So naby dat ons kan hoor as buurvrou haar kinders roep om te kom eet. Nou die dag wou ek ’n bietjie rus en toe skree die kinders my wakker. Toe ek opspring om met hulle te raas, kom ek agter hulle is doodstil. Dit was die bure se kinders.
Gelukkig is hier ook voëltjies in die bome. En hulle maak ook ’n lawaai, veral in die oggend. So, as die bure se kat nie die alarm in die tuin laat afgaan nie, kan ek in die oggend in my bed lê, my oë toeknyp en my verbeel dat ek in die bos is...