Saturday, 4 June 2011

Geskenke

Toe Heinrich een Sondag terugkom van die kerk sê hy vir my: “Laai asb die goed agterin die bakkie uit”  Ek vra ewe verbaas: “Nou wat moet ek uitlaai?”  “Bagasie” sê hy.  Ek is nog steeds verbaas, want sover ek weet het hy net sy Bybel, preek en kerkgeld saamgevat, maar ek gaan maar.  En wat kry ek daar?

3 Hoenders!  En ’n sakkie grondbone en nog ’n sakkie met ’n vreemde soort droë bone (my bediende het my verseker dit is lekker en mens kook dit nes bone, so ek het probeer en dit is baie lekker!)  Om geskenke te kry wanneer jy iewers gaan preek is nie so vreemd nie, ons het al voorheen ’n hoender gekry.  Of grondbone, piesangs, ’n duif, ’n pampoen of pampoenblare.  Maar DRIE hoenders en nog bone??  Wat het hy gepreek??



Gelukkig meet ons nie regtig die preek aan die geskenke nie, want ons kollegas het ook al ’n bok en ’n skaap gekry en almal van ons het ook al sonder geskenke tuis gekom…

*** *** ***
NS. Heinrich het gepreek oor Kornelius se bekering.  Hand.10